Christenhuwelike

Word Christenhuwelike bedreig? Of is Christenhuwelike ‘n bedreiging vir Satan?

Ek dink beide!

Ek is tans besig met 31 Days of praying for your pastor’s wife van Revive our Hearts deur Nancy leigh De Moss.

Day 9
Pray that God will build a hedge of protection around her marriage, and that she and her husband will be aware of the potential of any improper relationships.
Pray that their family time will be protected.
Matt 19:6; Prov 31:11a; 2 Kor 10:4-5

Satan doen alles in sy vermoë om Christenhuwelike te kelder. Hy weet dat God die huwelik en die gesin geskep het as die basis, die beginpunt van alles en dat die gesin die sterkste band is wat daar is. As hy gesinne kan opbreek, wen hy groot in die afbreek van die Koninkryk. Daardeur skep hy onsekerheid wat maak dat mense op ander dinge as God fokus en in die proses mag hulle geloofslewe selfs verwater.

Predikante, pastore, sendelinge, werkers van God se huwelike is selfs meer in die spervuur. As Satan predikante se huwelike kan opbreek, wen hy net nog baie meer. Mense kyk op na hul predikante. Predikante is gesante van God. As hy ‘n predikant se huwelik kan afbreek, breek hy ‘n klomp gesag in die gemeente ook af.

Daarom kry predikantgesinne dit baie feller en moet hul baie sterker staan.

Voel jy as predikantsvrou vasgevang in jou gemeente, vasgevang in jou huwelik, vasgevang in jou man se beroep? Nee, ek is nie ‘n predikantsvrou en was dit nog nooit, daarom kan ek nie praat uit ‘n predikantsvrou oogpunt nie. Ek is wel al vir meer as 30 jaar getroud en oor 30 jaar is my huwelik ook al deur ‘n hele paar stampe en stote, net soos enige ander huwelik van 30 jaar! Enige persoon voel soms vasgevang in sy/haar omstandighede. Enige persoon mag dalk baie keer aan uitkomkans dink. Dis normaal!

Iemand stuur vir my ‘n stukkie uit ‘n boek. Dit gaan daaroor dat langlewendheid een van die mooiste dinge in ‘n huwelik is, iets is om te koester, iets om na te streef. Die persoon skryf so mooi dat daar tye kom dat ons uithouvermoë ons liefde oortref, dat ons voel of die liefde nie meer daar is nie, maar dat die uithouvermoë, die wil om dit te maak werk, dan die deurslag gee. Ongelukkig weet ek nie wie die skrywer is nie, maar hy skryf:

In marriage we must burn the ships – back-up plans don’t exist. 

Gaan jou huwelik deur ‘n storm? Voel jy na moed opgee? Bid daaroor. Fokus daarop. Fokus op dit wat jou na hom/haar toe trek, wat jou nog altyd by hom/haar gehou het. Onthou dat dit die storms is wat ons sterk maak, al is dit regtig nie lekker wanneer jy in die storm is nie. Maar as jy deur die storm byt, wil God juis vir jóú gebruik as getuie vir Hom, om ook ander wat in krisissituasies is, te help.

Staan by jou huweliksmaat soos nog nooit tevore nie. Hy/sy het jou nodig, meer as ooit. Ja, hy/sy is nie altyd maklik nie, maar hy/sy is goed vir jou. Bid die volgende 30 dae spesifiek dat God jou hart weer sag sal maak vir hom/haar. Konsentreer op sy/haar goeie punte, daar is baie. Bedien en dien die ander een in liefde en sien hoe word hy/sy weer klei in jou hande. Hy/sy is dalk ook onseker en weet tans nie waar hy/sy net jou staan nie. Verseker hom/haar onvoorwaardelik van jou liefde. Belê in jou huwelik soos nog nooit tevore nie. Ek belowe jy sal die vrugte daarvan pluk. Lees huwelikboeke, sommer vrystories ook, dit doen wondere.

Kom ons pas ons huwelike op soos nog nooit tevore nie.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse:  Koop tyd

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

oor die einde van die wêreld, huwelike, en nog wat….

Ek was ongeveer in standerd 4 toe daar ‘n baie groot artikel was oor vandag, 21 Desember 2012. Dit was in 1974… daar rond. Baie ontstellend. Veral vir ‘n laerskooldogtertjie. As ek reg onthou het die artikel voorspel dat al die planete dan nou vandag in ‘n reguit lyn sou lê en dat die aantrekkingskrag van almal en ook nog dié van die son sou maak dat die hele spul mekaar sal aantrek en inmekaar konk. ‘n Big Bang!!!!! DOEF!….. wel, dit lyk of ons dit darem gespaar is….

Soveel mense haal dan graag die Bybel aan, naamlik dat niemand weet wanneer die einde van die aarde is nie, selfs Jesus weet nie, en dan leef ons rustig voort. Ander weer, haal aan dat Jesus nie sal terugkeer voordat almal nie van Hom weet nie. As ek reg het, sê die vers, voor alle volke nie van Hom weet nie…., dan leef ons in gemak voort, want nie almal weet van Hom nie, so dit gaan nie gou gebeur nie. Intussen vergeet ons dat ons binne die volgende sekond of 2 ons laaste oomblik kan beleef. Ook vergeet ons dat Jesus REGTIG gaan terugkeer en ons vergeet van Sy allerlaaste, allerbelangrikste OPDRAG….. “Maak dissipels van ALLE nasies…..” en dat die opdrag bedoel is vir ELKEEN wat Hom as sy Verlosser erken….

Ek hoor van soveel kennisse wie se huwelike in krisisstadiums is, òf hulle is reeds uitmekaar, of hulle probeer weer, of hulle probeer nie…. Die wêreld waarin ons leef is nie huwelik-vriendelik nie. Soos iemand gesê het, toe sy in haar nood op die internet geswerf het om hulp te soek toe haar huwelik verpletter, was, behalwe op hierdie blog, GEEN iemand wat vir haar aangemoedig het om te probeer vasbyt nie. Mense, ek praat nie van huwelike waar mense aangerand word nie. Sommer net huwelike waar huweliksmaats vere voel vir mekaar en vir hulle huwelik, waar mense moedeloos raak en nie meer weet hoe om hulle onbelangstellende huweliksmaats gelukkig te hou nie. Mans se mond water as die buurman ‘n nuwe jong dingetjie nadertrek. Gesprekke rondom die braaivleisvuur is nie gunstig vir huwelike nie. Huweliksmaats dink niks daarvan om mekaar te verneuk nie. Niks. Wel, al wat ek kan sê is dat ek al moes help optel aan die stukke wat so iemand agterlaat….. en DIT IS GEEN GRAP NIE!! Daarom smeek ek julle!!! Veral oor hierdie feesseisoen, maar ook in jou alledaagse lewe – pas jou huwelik op! Werk daaraan. Dit is beslis nie elke dag maanskyn en rose nie, maar dis beslis die moeite werd!! Die eerste 2 mense wat God gemaak het het hy as man en vrou gemaak, as gesin, omdat dit is hoe Hy wil hê ons moet funksioneer. Hy het hulle nie as ‘n komitee gemaak nie!!!

Vir oulaas…… Dink aan die boer as jy daardie lekker happie in jou mond druk!! 😉

Geniet die feesseisoen saam met die man/vrou van jou jeug, die een met wie jy getroud is.

Toorts

Huweliksverryking

Ons is mos nooit te oud om te leer nie, né? Toe ek as 20-jarige die huwelik betree het, het ek nie veel daarvan geweet nie.   Wat ek van die huwelik geleer het, het ek in my eie huwelik geleer en deur dit wat ek by ander gehoor en gesien het. En deur huweliksverrykingskampe en boeke oor die onderwerp.

By die eerste huweliksverrykingskamp het ek die belangrikste les ooit gehoor: Kyk waar kan EK verander, wat doen EK verkeerd, hoe kan EK weer meer aandag aan my man gee, wat is sy behoeftes. Huweliksverrykingskampe werk nie regtig as jou huwelik alreeds totaal verval het nie, maar dis wonderlik om net weer nuwe vuur in jou verhouding te blaas. As jou huwelik alreeds op die rotse is, is ‘n Christelike Berader wat jy nodig het.

Ek glo dat as ‘n mens in  enige iets wil groei, dit help om daaroor te lees. Hier is ‘n klompie boeke wat vir my baie beteken het:

Die Huweliksdaad – Tim en Beverley Lahaye

Toe ons in 1985 getrou het, was hierdie ‘n boek op almal se lippe. Predikante het dit baie aanbeveel. Ek sien die boek nog steeds in boekwinkels. Seks is ‘n geskenk van God aan getroudes. Hierdie boek bespreek egter nie net seks nie, maar die hele huweliksverhouding. Alhoewel ek dit baie baie lank gelede gelees het, kan ek dit nog steeds aanbeveel.

The Five Love Languages
met sy afrikaanse weergawe, Vyf tale van die liefde. Dis beskikbaar in boekvorm en ook as ‘n bybelstudie vir pare of groepe. Dis ongelooflike boeke wat die huwelik en verhoudings uit ‘n heel ander hoek beskou. Ek wil dit regtig aanbeveel. Ons het die bybelstudieboek in ons groep gedoen en ons kan werklik getuig van verandering in ons huwelike.

Vrou na ‘n man se hart. Hierdie is ook ‘n ouerige boek, maar ek sien dat dit nog beskikbaar is as jy dit by Google intik. Hierdie boek bekyk die onderwerp, “onderdanigheid” en ons rol as vrou in die huwelik. Ons as moderne vroue wil nie altyd hoor wat hier geskryf is nie. Toe ek destyds die boek gelees het, het dit vir my baie beteken.

Waag dit om lief te hê. My gunsteling. Uit persoonlike ervaring kan ek getuig watter verskil dit in my huwelik gemaak het. Dis ‘n ongelooflike boek wat dinge op die naam noem waar ons kan verbeter in ons verhouding. Begin met die 40 dae uitdaging, en as dit verby is, lees die dagstukkieboek saam met jou huweliksmaat. Komaan! Waag dit!! 

Haal die konflik uit jou lewe. ‘n Boek oor konflikhantering.

…………………………………………………………………..

Op die internet bied Revive our Hearts wonderlike 30-dae uitdagings wat ek regtig kan aanbeveel.

……………………………………………………………………..

Ons is so gewillig om geld en tyd aan baie dinge te spandeer, maar ons skeep ons huwelike af. Uit ondervinding weet ek dat geen geld of tyd wat ek aan my huwelik spandeer het, leeg teruggekom het nie. Om geld en tyd aan my huwelik te spandeer is oor en oor van die beste beleggings wat ek ooit kon maak. Doen die moeite, verryk jou huwelik. Soveel vreugde soos wat jy daaruit gaan put, gaan jy nêrens anders kry nie.

Toorts

Gelukkige huwelike

Gelukkige huwelike raak deesdae ‘n skaars item. Of is dit regtig so? Is dit nie dalk ‘n geval dat ons net nie meer HOOR van gelukkige huwelike nie? Oral rondom ons kry huwelike swaar, ‘n mens hoor stories van getroudes wat mekaar verkul, ander sien net nie meer kans om voort te sukkel nie.

As ‘n mens van soveel mense hoor wat skei, kan dit gebeur dat jou eie fut ook opraak. Is dit dan nog die moeite werd om aan te hou, te probeer, vas te byt deur al die moeilike tye? Iemand het gesê dat toe sy ‘n krisis ervaar het in haar huwelik, sy op die hele internet net raad gekry het, soos “Join the club”, daar is nie meer hoop nie! Gelukkig het sy darem iewers in die wye-wêreld-web een persoon gekry wat gesê het, “Byt Vas.”

Elke huwelik het sy goeie tye en sy slegte tye. Ekself kan daarvan getuig. Tye waarin ‘n mens voel om eerder maar jou eie paadjie te loop, want waarvoor hou jy aan sukkel? En dan, genadiglik is daar ook goeie tye. Tye waarin ons dankbaar is dat ons vasgebyt het, dankbaar is dat ons ons probleme agter ons rug kon sit en dat ons weer vreugde in mekaar vind. Tye waarin ons besef dat die persoon wie ek destyds gekies het, steeds die heel beste persoon vir my is.

Ter wille van soveel mense wie graag in slegte tye hulle huwelik wil behou, mense wie bereid is om te veg vir hulle huwelik, wil ek vir jou vra – WAT dra jou deur die moeilike tye in die huwelik? Wat maak dit vir jou die moeite werd? Asseblief, help my om sulke mense moed te gee!! Skryf daaroor op jou blog, of skryf dit hier as ‘n kommentaar…

Hoekom hou ek aan veg? Vir myself! DIS die rede hoekom ek aanhou veg vir my huwelik. Vir my eie huweliksvreugde. Vir die stabiliteit in my huis. En as dit eers reg is tussen my en my man, doen ek dit ook vir my kinders, maar eerstens doen ek dit vir ons. Want as ‘n ma en ‘n pa gelukkig is, is die kinders ook gelukkig.  Vir daardie tye wat ek, nadat ekself dalk krapperig was, my hand in syne sit en dis nog daar! Dankie tog! Dis nog altyd daar. Vir die tye wat hy my deursleep, en ander kere wat ek hom weer deursleep.

Ek doen dit ook uit respek vir God, voor wie ek belowe het om getrou aan my man te bly.

Vir my is dit oor en oor en oor die moeite werd! Absoluut!

Toortsie

ek gaan hom verander…

Lees gou eers wat skryf Doulien. Soveel keer gaan ‘n paartjie uit, het al trouplanne, met die idee in hul kop dat hulle die ander een sal verander… wat ‘n gedagte!! Wat ‘n fout!

Sommige kry dit wel reg. En wanneer die persoon verander het soos hul dit wou hê, hou hul nie meer van die persoon nie, want in die proses het hul daardie persoon se persoonlikheid gesteel. Dan is hy/sy nie meer die persoon vir wie jy lief geword het nie! Dis iemand ANDERS!

Ek glo tog ons almal kan nuwe dinge byleer tot ons doodgaan. Daarom is dit moontlik om vir en van jou huweliksmaat goed te leer. Julle kan byvoorbeeld leer om meer verantwoordelik teenoor mekaar en jul kinders op te tree. Of om mekaar met dinge te help. Jul kan mekaar leer wat vir julle belangrik is, en dan mag jul dalk besluit om dinge anders te doen. In die proses “verander” julle dan wel, in liefde groei julle na mekaar toe, leer julle nuwe vaardighede aan, leer om mekaar te behaag. Dis ‘n “saam”-proses, nie een waarin die een soos ‘n diktator al die reëls neerlê, nie bereid is om ‘n tree te verander nie, maar verwag die hele wêreld moet na sy/haar pype dans nie. ‘n Saam-proses waarin ons albei ons huwelik belangrik ag en kyk hoe ons dit kan verbeter.

Vir al die ongetroudes wie in ‘n verhouding belangstel, een wat dalk kan groei tot ‘n huwelik, wil ek sê:  As hierdie vriend/vriendin so “anders” is as julle, as hulle gesin dinge totaal “anders” doen as julle, ander waardes het, totaal anders dink oor dinge as julle, moet jy mooi dink. ‘n Mens sal nooit iemand kry wat uit presies dieselfde agtergrond kom as jy nie, maar dis juis daardie “andersheid” wat jou op die ou end irriteer.  Dink of die “andersheid” iets is waarmee jy die res van jou lewe kan saamleef.

En liewe jongmens, as die persoon alreeds ‘n drankprobleem, dwelmprobleem, emosionele probleem het…. dink BAIE mooi!! Dit is so dat mense kan rehabiliteer, ek het dit al baie gesien. Maar ek het nog meer huwelike gesien wat op die ou end swig onder die probleem. As hy/sy bereid is om werk te maak daarvan, omdat hy/sy graag wil, dan lyk die storie heeltemal anders.

Maar om vooraf te besluit jy gaan die persoon verander, los eerder en soek tot jy een kry wie nie nodig het om verander te word nie. Een by wie jy gemaklik voel, tuis voel, veilig voel. Dis net so die moeite werd!

Toortsie

As jy reeds in so ‘n huwelik is, soek eerder die raakpunte. Konsentreer op die goeie dinge wat daar in die huwelik is… Met harde werk KAN jy van so ‘n huwelik ‘n sukses maak.