Skryf ‘n opstel

Hoekom skryf ek keer op keer wenke oor opstelle? Ek weet nie eers of dit enigsins vir iemand help nie!

Lank gelede het ek iets geskryf oor ‘n opstel of ‘n mondeling of iets. Sedertdien stuur Google gereeld mense na my met onderwerpe: Skryf ‘n opstel oor gestremdheid; Skryf ‘n opstel oor my huis die beste plek; Skryf ‘n opstel oor … Ek is nie seker of dit juffrouens is wat onderwerpe soek nie, of mammas wat idees soek nie, of kinders wat besig is met hulle huiswerk nie. Dalk soek iemand net idees om ‘n opstel te skryf, dalk soek iemand ‘n klaarverpakte opstel om net af te skryf, wat hy nie hier sal vind nie.

In my hart wil ek uitroep dat dit asseblief nie mammas is wat hulle kinders se werk doen nie. Asseblief nie! Mammas, moenie dit doen nie. Moenie julle kinders se opstelle skryf nie. Daardeur help jy NIE jou kind nie, al voel dit vir jou so. Daardeur VERSWAK jy jou kind. Die doel is dat jou kind ‘n skryfgeleentheid sal kry, ‘n geleentheid om sy gedagtes te probeer neerpen. Ja, dalk kry hy hierdie keer ‘n swakker punt as hy dit self geskryf het, maar vir hom beteken dit soveel meer om dit self te doen sodat hy dit volgende keer beter kan doen. En wie sê dat syne swakker gaan wees as joune? Hy het dalk ‘n verborge talent wat smeek om uit te kom. Gun hom die kans om dit te doen, asseblief.

Wanneer ek dan oor ‘n opstelonderwerp skryf, is my doel om sommer die persoon se kop aan die dink te sit. As kind was my grootste struikelblok nie om die opstel te skryf nie, maar WAAROOR. WAT skyf ek? Ek kon net nie genoeg woorde bymekaar kry nie. My werk was ‘n gekrap.

Daarom probeer ek sommer gedagtes deel van waaroor om te skryf. Nie skryfstyl nie, want ek weet nie presies hoe die onderwysers die werk wil hê nie. Ek moedig kinders ook aan om oor hulle eie ervarings en gedagtes te skryf. Ons almal het ‘n storie, ons moet net oor die bruggie kom en leer om dit neer te skryf. Ons moet die moed bymekaarskraap om ons storie te verwoord.

Een van die grootste foute wat ek my lewe lank gemaak het, was om te skryf soos ek dink die juffrou wil dit hê. Natuurlik moet ons die riglyne volg, maar skryf dit wat jy wil skryf, dit wat op jou hart is.

As dit vir net een persoon help, dan was dit die moeite werd. Die opstelle is almal HIER te kry.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

Skryf ‘n opstel: Die man in die rolstoel.

Welgedaan aan die onderwyser wat hierdie onderwerp uitgedink het. Dit dwing ‘n mens om ‘n bietjie wyer te dink as jy nie self in ‘n rolstoel is nie, of nie iemand ken in dié situasie nie.

Jy kan die opstel op ‘n paar maniere benader. Dalk ken jy iemand wat in ‘n rolstoel is en wil jy dalk van hom of haar vertel. Dalk kry jy baie met hom te doen. Dalk het hy ‘n groot indruk op jou gemaak. Dalk leer jy groot lewenswaardighede by hom. Hoe beïnvloed die feit dat hy in ‘n rolstoel is, julle verhouding? Is daar spesiale behoeftes wat hy het, waarmee jy kan help? Wat leer jy uit jou interaksie met ‘n gestremde persoon?

Dalk is jy self in ‘n rolstoel en wil jy daaroor skryf. Skryf jou hart uit. Skryf dít wat jy nog altyd wou hê ander moet weet, maar nie die moed gehad het om te vertel nie. Wat is vir jou moeilik? Hoe wil jy graag hê ander mense moet jou hanteer? Hoe wil jy gehelp word en op watter maniere verkies jy om nié gehelp te word nie, maar self reg te kom? Wat is jou begeertes? Wat is jou lewensuitkyk? Wat is jou toekomsdrome? Wat kan ons, as mense buite die rolstoel, by jou leer?

Of, jy kan skryf oor rolstoelmense in die algemeen. Hier gaan ek raad en hulp van die blogmaats en ander lesers nodig hê en ek sal bly wees as julle insette sal lewer.

Rolstoelmense is mense, regte mense, nes ek en jy. Al verskil is dat hulle om een of ander rede van ‘n rolstoel afhanklik is. Hulle het presies dieselfde behoeftes as elke ander mens, soos die behoefte aan liefde, aanvaarding, respek, versorging, ‘n werk, vriende, noem maar op.

‘n Persoon in ‘n rolstoel wil gerespekteer word as die mens wat hy is. Soveel keer word hy eenvoudig geïgnoreer en sal mense eerder met die persoon praat wat die rolstoel stoot, in plaas van met hom self. Hy kan praat, hoor, dink, nes enige iemand anders. Hy kan self sê of hy koffie wil hê. Jy hoef ook nie ‘anders’ met hom te praat nie, nie harder of stadiger nie.

Selfs al is daardie persoon van ‘n rolstoel afhanklik, het hy ook sy trots. In die meeste gevalle kan hulle hulleself goed help onder normale omstandighede, maar soms het hulle my en jou hulp nodig. ‘n Vriendelike, bereidwilligheid om te help, is baie werd en ek is seker hy sal hulp waardeer. Tog moet ons versigtig wees om hom nie te oordonder nie en altyd eers te vra of jy kan help as jy sien hy het hulp nodig. Sê hy egter nee dankie, moet ons dit respekteer.

Toeganklikheid tot plekke is baie keer vir rolstoelmense ‘n probleem. As daar net trappe is, is dit onmoontlik vir ‘n persoon in ‘n rolstoel om in ‘n gebou te kom. Parkering kan baie moeilik wees, veral as die parkeerplekke nou is. Daarom moet ons regtig die rolstoelparkeerplekke ooplos en dit nie gebruik as ons dit nie nodig het nie. Dieselfde met rolstoeltoilette. Dis daar vir mense wat nie so gelukkig soos ek en jy is en in nou plekkies te kan inskuur nie.

Rolstoelmense het soms hulp met hulle versorging nodig en dit kan baie duur wees.

As ons dalk net ‘n groter bewustheid kan kweek vir gestremdes rondom ons, hulle met respek behandel en help waar ons kan, glo ek, het ons ‘n treetjie gevorder.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie