Kom ons gee mekaar hoop

Vanjaar is die tema by ons kerk, ‘hoop’. Verlede Sondag daag die dominee ons uit om mekaar hoop te gee met ons lewens, ons opmerkings, ons optrede.

‘n Vriendin, wat vir meer as ‘n jaar van haar man vervreemd was en terug is by hom en weer probeer, bring hoop vir haar maats wat deur soortgelyke omstandighede gaan.

Die ouers en vervreemde kind wat mekaar weer vind, gee hoop vir ander ouers en vervreemde kinders en gee hulle die moed om weer te probeer.

Die vrou wat haar ongeneeslike siekte met soveel positiwiteit aanvaar en hanteer, bring hoop vir soveel ander.

Wanneer ‘n egpaar wat vir jare sukkel om swanger te raak, wonderbaarlik swanger raak, bring hulle hoop.

Die gesin in nood wat ‘n sak kos voor hulle deur ontdek, gee vir ander ook hoop.

Die student wat, teen alle verwagtinge in, hard werk en sy kursus slaag, gee hoop vir ander studente wat swaar kry.

Die persoon wat bo sy omstandighede uitstyg, gee vir die mense van sy gemeenskap hoop.

Soveel mense besoek my bloginskrywing, Was jy al ooit moedeloos?, kom vertel van hulle swaarkry, hulle pyn, vra vir gebed, bid net daar vir mekaar, gee vir mekaar raad en hoop met hulle kommentare. En dan, uit die bloute, kom skryf iemand wat so twee jaar terug daar geskryf het dat hy alles verloor het, ‘Toortsie, baie dankie vir jou gebede, Ons SKEPPER het gehoor en voorsien, PRYS SY NAAM.’, en hy kom gee vir my hoop, hoop dat ons mense kan help deur gebed en aanmoediging, selfs al ken ons hulle van geen kant af nie, hoop dat ‘n eenvoudige ou bloggie deur gewone mense geskryf, tog vir iemand iets kan beteken. Hy gee nie net vir my hoop nie, maar vir elkeen wat daar uitkom in moedeloosheid, met geen vooruitsigte op uitkoms nie, en dan daar lees van ander mense wat getuig van ‘n lewende God wat voorsien, ander mense wat self al deur moeilike dinge is. En ek kan verstaan waarvan hulle praat omdat ek ook al daar was. Meermale daar was.

Kom ons vertel vir mense hoe God vir ons goed is, in nederigheid natuurlik, sonder om te dink dat daar ‘n stralekrans bokant ons koppe is. Kom ons wys vir mense hoe God betrokke is in ons lewens, hoe Hy werk. Kom ons gee vir mense hoop deur ons lewens en getuienis.

Toortsie

Advertisements

Angs

Ps 66:8-12: “Prys ons God, alle volke, laat sy lof weerklink! Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel nie! U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.”

Angstigheid. Angsaanvalle. Depressie. Woede-aanvalle. Dis alles goed wat my geteister het in my jongerdae. Maar God het my genees. Prys die Here daarvoor!

Tog, as ‘n mens ‘n ‘swakplekkie’ het, sal Satan maar altyd op die loer wees om weer op daardie plekkies ‘n vastrapplek te kry, so mens moet maar altyd wakker wees en dit vroegtydig vir God gee om te hanteer.

Ewe skielik kry ek ‘n rukkie terug weer in ‘n kort tydjie twee angsaanvalle. Die eerste een gaan amper ongesiens verby, maar die tweede een is regtig ontstellend in die middel van die nag, lank nadat ek al aan die slaap geraak het. Ek word wakker en huil onbeheerbaar. Ek ween behoorlik en ek, wat regtig nie lief is vir melk nie, maak vir my ‘n beker warm melk met kakao en xylitol in om my te troos.

Ek weet net dat ek by God moet uitkom en al wat ek in my kop hoor, is, lees Ps 66. Ek soek vir God, ek vind Hom, ek stort my hart vir Hom uit. Daarna gaan doen ek ‘n bietjie kantoorwerk wat my ook jaag en uiteindelik voel ek rustig genoeg om weer te slaap.

God het my gebed gehoor. Hy het my weer rustig temaak. En Satan? Hy het presies reggekry wat hy níé wou nie: Hy het my reguit in God se veilige arms ingestuur! Ek dink hy sal twee keer dink voor hy dit weer waag!

Dankie, Here, dat U ons veilige vesting is. Dankie dat U altyd daar is om ons te troos, te dra, te kalmeer of wat ons behoefte ook al is.

Toortsie

Toortsie se faceboekbladsy

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

Toortsie by Finesse: Verrassing!