Begroting

Kom jy nie uit met jou geld nie? Dan is dit dalk nodig dat jy ‘n begroting opstel. Ja, vir jou huishoudelike rekening! Met ‘n begroting kan jy jou vinger meer op jou geld hou, en kan jy ook sien waar die onnodige uitgawes lê. Afhangende van hoe erg jy in die knyp is, kan dit selfs nodig wees om, soos die maand vorder, AL jou uitgawes neer te skryf sodat jy PRESIES weet wat in jou geldsake aangaan.

Dis nie moeilik nie! Jy kan dit op papier doen, of sommer in Excel. Vir my werk Excel die maklikste, want hy doen sommer die berekeninge wat ek een keer ingesit het, klaar.

Jy begin bo-aan met jou inkomste. Alle gelde wat jy ontvang. Jou salaris, die bedrag wat jy dalk van jou man kry vir die huishouding, los geldjies vir los werkies gedoen. Wees BAIE eerlik.Kry die totaal.

By die “Aftrekkings” moet jy ekstra eerlik wees. Skryf jou gelde wat jy MOET uitgee neer. Jou 10e. Spaarbedrag. Elke aftrekorder wat jy in die maand mag hê. Sekuriteit. Selfoon. Bankkoste. Polisse. Jou kinders se sakgeld. Geld wat jy vir die huishulp moet betaal. Huislening. ELKE klererekening. Lewis. Fullhouse. Jou kar-paaiement. Die doktersrekening. DIE BEDRAG WAT JY OORTROKKE WAS VERLEDE MAAND!!

Teen hierdie tyd het jy seker alreeds MEER uitgegee as wat jou inkomste is? 😉

Trek die totaal van die aftrekkings by die totale inkomste af. DIS WAT JY OOR HET OM VAN TE LEEF VIR DIE MAAND! Indien moontlik, hou daarvan ‘n bedraggie uit vir die “wis en die onwis”. Deel dit wat oor is in die aantal weke van die maand. Nou weet jy presies hoeveel jy per week het. Indien nodig, trek daardie bedrag in kontant, dan weet jy presies waarmee jy mag werk.

Aanvanklik sal dit dalk nie moontlik wees om die oortrokke bedrag van die vorige maand totaal uit te wis en steeds geld oor te hê nie, maar dis waar die selfdissipline inkom. Begroot dan daarvoor dat jy doelbewus die oortrokke bedrag kleiner sal maak in hierdie maand. Gee doelbewus minder uit, sodat jy oor tyd die oortrokke rekening heeltemal kan uitwis.

Ja, ek weet dis moeilik. Ja, ek weet dis harde werk. Ja, dit vra selfdissipline.  Maar die resultaat is wonderlik. Voor jy jou kom kry, gaan jy dalk minder oor jou geldsake bekommer, omdat jy ‘n klomp onnodige uitgawes uitgesny het, net omdat jy GEWEET het daar is nie geld daarvoor nie.  En kort voor lank is daar dalk weer, danksy jou nuwe geld-dissipline, ‘n geldjie oor vir ‘n bederf.  Ekself het dit jare gelede begin uit nood en het nog nooit teruggekyk nie.

Sterkte

wasaldaartoorts

Toortsie se Faceboekblad

Oor spaar of nie

Die onderwerp in in Loslip op RSG was:  “Is dit nog moontlik om in hierdie moeilike tye te spaar? En indien wel, gee raad asb.” Soos dit gewoonlik gaan, het almal ingebel om te verduidelik hoekom hulle NIE kan spaar nie. Die ouens wie wel spaar het soos ‘n gepiep van kuikens geklink teenoor dié wie nie kan spaar nie.

Kan ons dit bekostig om te spaar? Of meer….. Kan ons dit bekostig om NIE te spaar nie? Sjoe! Wat ‘n moeilike vraag. Ek besef daar is mense wie regtig net te min geld kry om nog te spaar ook. En as hulle medikasie, huishuur, al die ander noodsaaklikhede afgetrek is, is daar net nie geld oor om te spaar nie.

Aan die ander kant, weer, is dit ook ‘n ekonomiese feit dat GEEN mens uitkom met sy geld nie, ongeag of jy die armste mens op aarde is of die rykste. ‘n Mens se inkomste is ALTYD TE MIN. Jy leef jou inkomste.

Ek het al baie oor hierdie ding gedink en gaan nou ‘n wilde stelling maak. Ek wonder sommer net, is daar mense wat spaarders is, ongeag hulle inkomste, teenoor ander wie nie spaarders is nie, ongeag hulle inkomste? Is daar mense wat ‘n spaarkultuur het  teenoor ander wie dit dalk nie het nie? Ek sien mense met baie geld, of wie baie geld spandeer op luukse en nie ‘n sent spaar nie, en ek sien arm arm mense wie altyd ‘n geldjie iewers weggesit het.

Dis ‘n algemene feit dat wanneer ons aftree, ons inkomste met 30% gaan daal. Dis nou diegene wie voorsiening gemaak het. So, as jy nou reeds nie uitkom met jou 100% nie, hoe gaan jy uitkom met jou 70%? Die ekonomiese raad was altyd, dat vanaf jou eerste salaristjek, jy 10% daarvan moet spaar sodat jy jou leefstyl kan handhaaf ná aftrede. En natuurlik, hoe later jy begin, soveel groter is daardie persentasie wat jy moet spaar.

Ek kan net namens myself praat, maar gelukkig was “spaar” ‘n onderwerp wat baie groot gewig in ons huis gedra het. Omdat ons lewenslank so van die natuur afhanklik was, het ons geweet dat vanjaar se goeie oes nie noodwendig beteken dat daar volgende jaar enigsins ‘n oes sal wees nie. Daarom moes ons ietsie wegsit.  In my baie moeilike, baie arm beginjare het ek steeds ‘n skamele bedraggie weggesit waaraan ek nie mag raak nie.  Soms moes my kinders die prys betaal omdat daar ‘n bedraggie is wat gespaar moet word. Maar vandag is ek nie spyt daaroor nie.

Spaar in die bank? Verkieslik nie!!!! Maar selfs dit is beter as niks!

Maar spaar!!

Toorts

Toortsie se Faceboekblad

Kry vir jou ‘Die rykste man in Babilon’, lees dit met ‘n leerbare gees en pas dit toe. Jy sal NOOIT spyt wees nie.

babilon-1000

Daar’s drie susters…

 

Hulle sê daar’s 3 susters… maar ek sê daar’s 3 tiendes.

Besparing bly maar ‘n probleem. En blykbaar het ons Suid-Afrikaners ‘n baie swak spaar-kultuur. Volgens statistiek spaar ons maar ongeveer 1.5% van ons inkomste! En as DIT waar is, is hier ‘n RAMP op pad!! Want as ons nie spaar nie, waarvan gaan ons leef ná ons aftrede? Mense tree al hoe vroëer af. En word al hoe ouer??

Almal van ons voel maar of ons nie met ons inkomste uitkom nie, maar baie keer is dit die ouens wat die meeste kla, wat die meeste geld het vir luukses. As jy dan nie kos in die huis het nie, hoe is dit dat jy geld het vir die Huisgenoot, sigarette, drank? Dis nie dat ek mense hulle plesiertjies misgun nie, en baie keer is dit ál plesier wat hulle kan bekostig, of drink en rook die persoon dalk om die hongerpyne weg te steek. Alhoewel, ek wonder wat is die duurste – ‘n bottel sterk drank of ‘n brood??

Die feit van die saak is dat ons moet voorsiening maak vir ons oudag, of ons dit wil weet of nie. En ekonome wêreldwyd sê dat as jy jou leefstyl wil volhou ná jou aftrede, moet jy minstens 10% van jou inkoste spaar VAN JOU EERSTE SALARISTJEK af. En soveel van ons doen dit nie. So, as ons op ‘n later stadium eers begin, moet ons nog BAIE MEER as die aanbevole 10% spaar! Ag sies tog, en dan hoor ons so dikwels van ou mense wat wel hulle lewe lank gespaar het, en nou is die rentekoerse so laag en het hulle ook nie genoeg om van te leef nie. Tog voel ek dat hulle darem nog steeds beter af is as die persoon wat nie voorsiening gemaak het nie.

Ek hoor in die Oosterse lande is dit algemeen dat mense ongeveer 30%! van hulle inkomste spaar. Al wat ek wil voorstel is, begin VANDAG! SIT GELD WEG! In aandele, op die geldmark of WAAR OOK AL, maar DOEN DIT NET! En as jy dit nog nooit gedoen het nie en 10% klink te baie, begin met minder en vermeerder elke maand die bedrag totdat jy by ‘n goeie spaarbedrag uitkom. Jy SKULD DIT VIR JOUSELF!!!

Die een 10e is daardie geld wat jy spaar wat jy NOOIT aan mag raak nie, ook nie aan hulle rente nie. Die ander 10e is korttermynbesparing. Die geld wat jy spaar vir die wis en die onwis. Vir vakansies, of iets spesiaals of doktersonkoste, ens. Ek moet erken dat ek nog nie regkry om ALTWEE die tiendes te diens nie, maar ek werk daaraan.

Die derde tiende is vir my die heel belangrikste van almal. Daardie tiende wat jy vir die kerk gee! Ek was nog nooit spyt dat ek dit doen nie. God betaal vir my met rente terug!

Sterkte! Ek weet dis nie maklik nie! Maar hier is baie wat sommer baie geld spaar. Wil julle nie vir ons vertel wat julle doen, en hoe julle spaar nie?

Doen jouself die guns! Daardie 10% wat jy spaar is 10% wat jy VIR JOUSELF BETAAL!

Groete

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad