‘n Takkie van hoop

Ek kry gister ‘n e-pos van die Christelike Seemansorganisasie wat vertel dat daar tans ongeveer 600 000 seemanne is wat wêreldwyd op die see rondvaar en nie regtig aan land kan gaan nie as gevolg van Covid. Dat dit al maande is wat hulle so ronddobber op die see en nie kan huis toe gaan na hulle geliefdes nie. Dat hulle geen buitemense behalwe die bemanning van hulle bote sien nie.

En toe gaan daardie predikant van CSO in Port Elizabeth aan boord van een van die bote. Die eerste buitemens wat hulle in maande sien. Behalwe dat hulle natuurlik baie bly was oor die Bybels en goeie boodskap wat hy bring, was dit vir hulle wonderlik om iemand van die land af te sien. Om te weet hulle is nie vergeet op see nie. Dat dit vir hulle was soos toe Noag die duif die tweede keer uitgestuur het en dit teruggekom het met ‘n groen takkie. Dat dit vir hulle hoop gee dat ook hierdie ding sal ophou. Dat hulle weer aan land sal kan gaan eendag. Dat daar mense is wat vir hulle omgee.

Net daarná slaan ek my Bybel oop om my gewone stiltetyd te hou. Ek slaan dit oop waar die merk is, want ek lees mos maar altyd die Bybel van voor af deur tot agter en weer en weer. Waar is my merk? Presies net daar! Daar waar Noag eers die kraai, toe die duif en weer die duif wat met die takkie terugkom, uitgestuur het. Nadat hulle al vir maande op die waters rondgedobber het. Daar was hoop. Hierdie gedobber sal nie vir ewig aanhou nie.

Julle weet mos wat ek sê as God Homself herhaal, né? Hy doen dit nie sonder rede nie. En dit is ook nie ‘toevallig’ nie. Ek het nie daardie stukkie in die Bybel loop soek nie. Die CSO weet ook nie dat ek daar aan die lees is nie.

Hierdie ding waar in ons tans is, die Covid, enige ander slegte ding, dit wat ons lewe oorheers en ons nie weet hoe ons daaruit sal kan kom nie, gaan nie vir altyd aanhou nie. Daar is hoop. 2020 is miskien vir die meeste van ons die slegste jaar ooit, maar 2020 is ook ‘n hersteljaar. ‘n Jaar van nuwe dinge. ‘n Jaar van hoop. ‘n Jaar van draaipunte.

Mag dit ook vir jou so ‘n jaar wees. Mag daar vir jou ook ‘n duif met ‘n groen takkie in sy bek wees.

Toortsie

Boodskappe van God

Julle ken mos daardie gevoel van daardie “regte” sms of “boodskap” of woorde van ‘n vriendin wat jy kry “net op die regte tyd”, wanneer jy dit só nodig het?

Dit was verlede jaar wat angstigheid my ‘n bietjie geteister het. Angstigheid oor ons land. Angstigheid oor ons boerery. Grondhervormings… Angstigheid bring jou nêrens. Dit verlam jou.  By die Here het ek my rus gevind. Is dit Augustinus wat iets soos hierdie gesê het: “Ek vind net rus as ek dit in U vind”? Hy was só reg.

Die Here is nogals lief om vroeg in ‘n jaar, sommer in die eerste paar dae van die nuwe jaar, vir my ‘n “boodskap” te gee. Iets wat Hy beklemtoon. Iets wat Hy wil hê ek moet hoor. Inneem. Gehoorsaam.

Op 2 Januarie vanjaar gee Hy vir my hierdie boodskap. Ek wil net verduidelik, dis nie sommer net Bybel lees en whala, hier is die boodskap nie, Dis anders.  Dis ook nie iets wat ek sommer uitdink nie. Mens weet as dit ‘n direkte opdrag van God af is. Hy gee vir my Hand 26:16,17: “Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet my getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe ek jou stuur. Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer.” Moet ek meer sê? God sê vir my: “Getuig! Moenie bang wees vir enige iemand wat dit teenstaan nie. Hy sal my beskerm.” Sjoe!

So ‘n maand gelede begin die angstigheid weer sy voelers na my toe uitsteek. Ek sê vir niemand daarvan nie, hou my “pose”. Net ná ‘n haarafspraak stuur my haarkapster vir my dié boodskap: “God sê ek moet vir jou sê, ‘Sien My Hand in jou lewe’… Dit kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie, want toe ek my oë daarvoor begin oopmaak… besef julle hóé baie God se hand in ons lewens werk? Ongelooflik!

Die laaste paar weke kom die woorde, “vernuwe jou denke”, orals te voorskyn. In my persoonlike bybelstudie, by die Pinkster, by ons gesamentlike Bybelstudie, in die kerk… God herhaal Homself nie onnodig nie.

Vanoggend skryf ek iets oor die reën op faceboek, en skryf, “God is in beheer.” Daarné lees ek gou wat die ander geskryf het. Van die eerste faceboekinskrywings wat ek lees, skryf die persoon oor iets heeltemal anders, “God is in beheer.” Hy herhaal Homself nie Sonder Rede nie! 🙂 Hy ís in beheer!

Mooi dag!

Toorts