Hoe gemaak met die suiker?

Ja, sê die tannie wat regtig graag gewig wil verloor, dis alles goed en wel om te sê, sny alle suiker en stysel uit, maar hoe kry sy dit reg? Kyk net na volgende week: Sondag is daar  ‘n soetdingetjie ná ete, Maandag moet ons ‘n koek van iemand gaan proe, Dinsdag is dit leeskring en daar word gewoonlik uitgehang met die eetgoed, Dinsdagmiddag is dit VLV, dan eet ons weer, Woensdag is dit … ens, tot Sondag, wat ons weer ‘n soetding eet. Soetgoed elke dag!

Ek besef dit kan soms baie moeilik wees. Sommige weke kom alles net op ‘n hoop!

Die kere wat jyself in beheer is, soos die Sondagmiddagete, of die kinders wat huis toe kom, is eintlik die maklike deel. Maak Bantingsoetigheid. Of, as hulle nie Bantingsoetigheid wil eet nie, maak vir vir hulle ‘n soetigheid, maar sorg dat daar vir jou ‘n heerlike Bantingsoetigheid is sodat jy ook iets het om aan te smul. (En as jy nie weet wat om te maak nie, vra vir Toortsie!)

Dis een van my groot reëls: As daar groot feesvieringe kom en ek weet die verleidings gaan baie wees, sorg ek beslis dat daar vir my iets in die yskas is wat baie lekker is. Ek dink in elk geval dat die Bantingkaaskoek uit Tootsie se Bantingboerekos baie lekkerder is as die suikerryke eweknie!

Nog ‘n kroekfnuiker (Toortsieskepping), is om, net voor jy na ‘n samekoms gaan waar jy weet die verleidings baie gaan wees, iets lekkers en vullend by die huis te eet. Eet ‘n lekker dik stuk kaas en kou op pad soontoe aan ‘n paar neute. Ek is baie lief vir Braziliaanse neute, een daarvan maak sommer ‘n groot holkol toe. Wanneer die tee en eetgoed dan bedien word, voel jy versadig en is die versoeking nie so groot nie.

Of, bied aan om iets saam te bring. Maak lekker Bantingmuffins of ‘n tert uit Toortsie se boeke. Daardeur verseker jy dat daar iets is waarvan jy kan eet, en ek kan jou waarborg dat al die suikereters net so lekker aan jou suikervrye eetgoed gaan smul.

Onthou, wanneer jy by ‘n funksie is, om eers rustig te kyk wat daar alles bedien word en, voor jy skep, te besluit wat jy gaan inskep. Dit maak dit baie makliker.

En, sou dit gebeur dat daar regtig niks is vir jou om te eet nie, waar kos bedien word en jy regtig geen keuse het nie, eet dan maar wel ‘n stukkie van die pasta met baie slaai, en onthou om minstens ‘n week daarná ektra versigtig te eet.

Die belangrikste van alles: Moenie jouself jammer kry nie, dis nie nodig nie. Dit wat jy mag eet, is baie lekkerder as dit wat jy nie mag eet nie.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

Tyd vir nuwe begin

Orals lees ek dit raak: ‘Ek gaan weer begin’, ‘Ek klim weer op die wa’.

Dis die tyd van die jaar wat mense oor begin, die tyd wanneer jy hard werk aan jou nuwejaarsvoorneme, wanneer jy weer probeer. Dit geld vir baie dinge: ‘n Nuwe stokperdjie, jou verhouding met jou geliefde, jou werk, jou geloof, jou gewig, wat ookal. Dis die tyd vir weer begin.

Veral ons wat maar met ons gewig sukkel, is ook lief om die nuwe jaar weer met nuwe moed aan te pak. Ons wil weer begin. Ons gaan weer probeer.

Banting werk vir my. Dit werk al 3 en ‘n halwe jaar vir my. Dis uitvoervaar. Dis leefbaar. Dis volhoubaar. Dis lekker. Dis maklik. Dis gesond. Dis goed. Dis selfs volhoubaar oor vakansies.

Ongelukkig kan ek nie waarborg dat dit vir jou ook sal werk nie en ek beveel altyd aan dat jy dit in samewerking met jou dokter moet doen. Ek wil jou graag help, as jy wil.

Before:

   After:  After

By Toortsie eet ons nét lekker kos, want Toortsie glo aan lekker eet.

Probeer is die beste geweer! 😁

Groetnis

Toortsie

Dieetwenke

Weight Watchers sê:

  • Dink voor jy eet. Julle ken mos daai ding van omtrent ‘n hele sjokolade op te eet en dan skielik, met wange vol sjokolade en net die papiertjie in jou hand, te besef wat jy eintlik aan die doen is? Of jy sit, half deur die slaap, en eet omtrent die hele beskuitblik leeg terwyl jy hulle een-een in die koffie week?
  • Dink voor jy koop. En die belangrikste nog, moenie winkels toe gaan as jy honger is nie!! Kyk na die etikette op die kosse en besluit of jy regtig die kosse met die hoë vetinhoud wil hê. Kyk uit vir alternatiewe, sodat jy dit in jou kas het. As jy nié die vetterige kosse in jou kas het nie, kan jy nie in die versoeking kom om dit te eet nie!!
  • Dink vooraf. Voor jy gaan uit-eet, dink vooraf hoe jy dit gaan benader, sonder om jouself te benadeel. Besluit vooraf dat jy dalk eerder die minder romerige en vetterige kos gaan kies. Dalk ‘n Griekse slaai vir voorgereg? Wees voorbereid.
  • Dink terwyl jy eet. Moenie sit en lees of TV kyk of enige iets anders doen terwyl jy eet nie. Geniet ELKE happie. Eet stadig. Kou dit rustig. Hou op wanneer jy versadig voel. (Ons is mos geleer om ons bord leeg te eet!!)
  • Dink positief. Dink jy KAN weer maer word. Dink hoe lekker jy gaan voel as jy weer jou doelgewig bereik het. Dink hoe mooi gaan jy lyk!! 😆 Dit moedig jou aan om vas te byt. Dink: Ek kon dan gister by die eetplan hou, dan sal ek dit vandag ook kan doen!!
  • Dink slanker, dink gesonder kos, dink oefening. En moenie dat ander jou met onsensitiewe opmerkings van plan laat verander nie.

Komaan, ons KAN!! En behalwe dat ons die kilo’s kan afgooi, KAN ONS OOK ONS MOOI, NUWE SLANKE LYWE BEHOU!!!

maerwordtoorts

punte tel

Onthou, ek werk volgens Weight Watchers reëls van 2005!! Baie van dit kon al verander het, maar tóé was ek lewenslid en het al die boekies. Wel, dit het toe vir my gewerk, hoekom nie nou meer nie? Ek dink tog die beginsels bly maar dieselfde.

Dit behels ‘n glad-nie-so-ingewikkelde tel van punte, waar alles wat jy eet, van kropslaai tot roomys ‘n puntewaarde het. Afhangende van jou huidige gewig, word bepaal hoeveel punte jy mag eet. Soos jy minder begin weeg, kan dit gebeur dat jou aantal punte per dag ook verminder.

‘n Mens mag 4 punte per dag spaar om op ‘n ander dag te gebruik, alhoewel ek geleer het dat dit vir my werk om elke dag my volle aantal punte te gebruik. Ek wil dit ook vir ander aanraai om te doen. Die ding is dat jy dan in ‘n tipe van “patroon” kom en jy jouself nie uithonger nie. Ek weet ook jou onderbewussyn vergeet nie van daardie punte wat jy nie gebruik het nie en kan vreeslik daaroor kerm!! Enige punte wat jy in ‘n week spaar moet in daardie selfde week opgebruik word. Geen punte mag oorgedra word na ‘n volgende week nie.

‘n Baie lekker voordeel van hierdie stelsel is dat jy ook punte verdien op oefening. As ek dus elke dag ‘n uur gaan stap, wen ek ‘n volle 6 punte per dag!! Dis veral handig as ek weet daar kom ‘n groot uiteet of troue aan. Maar daar is ‘n beperking – net 12 van die oefening punte mag omgesit word in kos. En weer eens mag dit nie oorgedra word na ‘n volgende week nie. Dis beslis voordelig om eerder nie die oefenpunte vir kos te ruil nie maar eerder jou gewigsverlies aan te help!

Dis juis oor die feit dat jy nie gespaarde punte kan oordra na ‘n volgende week nie wat ek hierdie skryfwe begin het. Want my week begin op ‘n Woensdag, en as daar dan die Donderdagaand ‘n groot ete is, het ek nog nie kans gehad om te spaar vir dit nie!! Maar vandag het ek ook die grootste voordeel daarvan besef: Ek mag wel nie gespaarde punte oordra nie, MAAR as ek ‘n slegte naweek gehad het, hoef ek ook nie vir die volgende 3 weke punte te spaar om weer die negatiewe punte weg te werk nie. Positiewe punte word nie oorgedra nie, ook nie negatiewe punte nie! SO EK MAG DIE NUWE WEEK NUUT BEGIN! 🙂 , my kop in rat kry en sorg dat ek nie WEER ‘n verkeerde naweek beleef nie!

Sterkte vir almal wat met die aanvang van die somer ‘n bietjie na hulle gewig kyk!!

Vasbyttoorts

Maresa se brokkoli

Kook brokkoli in soutwater tot net sag, nie pap nie. Pak uit in opskepbak. Gooi ‘n sakkie van Ina Paarman se Sun Dried Tomatoes bo-oor. Die tamaties moet net genoeg wees en nie die gereg oorheers nie.

Die goeie nuus is dat jy hiervan so veel as wat jy wil kan eet, dit tel NUL!!