Geniet jou kos – skryf jou eie mondeling

Kyk hoe slaan ek die bal heeltemal mis! Google het die onderwerp gegee: ‘Geniet jou kos – mondeling’, en ek raak so opgewonde, ek skryf sommer die mondeling, in plaas daarvan om eerder mondelinghulp te gee sodat jy jou eie mondeling kan skryf! Dis tog waaroor dit gaan, jy moet jou eie skryf, nie ek of jou ma of jou ouma nie. 🙂

Dus, as jy ‘n mondeling moet praat oor kos en of jy kos moet geniet of nie, waarmee sal jy begin?

Dink jy ‘n mens mag of kan kos geniet? In vandag se tye wat eet amper ‘n sonde geword het, dink jy regtig ‘n mens mag kos geniet? Mag eet lekker wees? Hoekom voel jy so?

Terwyl jy dan nou dalk noem dat die genot van kos amper sonde geword het, hoekom dink jy het dit gebeur? Wat het gebeur dat soveel mense oorgewig is of selfs vetsugtig, soveel so dat daar nou meer gekonsentreer word op ‘nie eet nie’ as op die genot van kos?

Word die klem dalk op die genot van verkeerde kosse geplaas? Hoeveel het die media hiermee te doen? Wat het die idee rondom kos skeefgetrek dat mense deesdae skuldig voel oor lekker eet?

Hoe voel jy oor gemorskos, en wat, na jou mening, is gemorskos? Hoekom is dit gemorskos?

Hoe voel jy oor verwerkte kos wat ‘n mens in boksies en pakkies koop? Dink jy dit is net so gesond soos die kos wat julle in die huis sou eet en maak?

Wat, na jou mening, is gesonde kos? Kan gesonde kos lekker wees? Dink jy ‘n mens kan gesonde kos geniet, of is ‘gesone kos’ ‘n straf? Dink jy dat gesonde kos lekker voorgesit kan word?

Wat, na jou mening, is gesellige samesyn rondom kos? Hoe sal jy dit beskryf? Doen julle dit in julle gesin, deur soms saam te eet, of gryp elkeen maar sy kos en gaan sit waar hy wil, iewers in ‘n rusbank?

Maak julle ‘n gesellige geleentheid rondom die etenstafel, of op die stoep, of op die gras?

Watter oulike maniere is daar om gesellig rondom kos te verkeer? ‘n Piekniek dalk? Saam op die gras? Onder ‘n boom?

As slotsin, dink jy ‘n mens mag kos geniet, en hoekom?

Vir nog opstel- en mondelingonderwerpe, kyk HIER. En onthou om erkenning aan Toortsie se blog te gee as jy hierdie inligting gebruik.

Vir die blogmaats is die uitdaging: Skryf ‘n bietjie, is kos daar om te geniet of nie? Onthou om hierdie bloginskrywing te ‘tag’.

Groetnis

Toortsie

Hoe om kos te geniet

Sjoe! Wat ‘n lekker onderwerp stuur Google vir my: ‘Hoe om kos te geniet – mondeling.’ ‘n Mondelingonderwerp oor kos van alle dinge! Ek kan vir ure hieroor praat!

Ek glo met my hele hart dat God kos gegee het om te geniet. Hy sou nie kos so ‘n balangrike item in ons lewens gehad het as Hy nie wou hê dat ons dit moet geniet het nie, want Hy wil regtig hê dat ons gelukkig moet wees en die lewe geniet.

Sonder kos gaan ons dood. Ons liggame het die kos nodig om te bly voortleef. Ons liggame het gesonde kos nodig om te kan funksioneer, kos met goeie voedingswaarde.

Vir jare word ons al gebreinspoel dat ons voedingswaarde moet sny. Ons kos word verwerk dat dit op die ou end minder voedingswaarde het as die boks waarin dit verpak word en dan word dit weer met vitamines en minerale aangevul omdat al die vitamienes en minerale wat daarin was, uitgehaal is. Ek is seker dit was nie wat God se bedoeling was nie.

Kos is regtig daar om te geniet, en wanneer ons eet, moet dit ‘n lekker ervaring wees. Daarom is dit ook vir ons self soveel beter om aan ‘n etenstafel as gesin of as vriende saam te eet, eerder as by die TV, wat ons almal so maklik doen. Wanneer ons as gesin of vriende saam eet om ‘n tafel, of gesellig op die stoep of om ‘n vuur, is ons aandag op mekaar gefokus, gesels ons saam oor lekker dinge of selfs dinge wat vir ons sleg is. Ons maak grappe en so tussendeur geniet ons die kos, soos dit veronderstel is om te wees. Ons kos verteer sommer makliker en ons het ‘n gevoel van genoegdoening. Want, soos ek reeds gesê het, is kos daar om te geniet en nie om oor skuldig te voel nie.

Ongelukkig, met die dat ons al hoe meer gemorskos eet, verwerkte kos eet, kos wat in diep olie gebraai is, kos met baie suiker in, het ons gesondheid oor jare al hoe meer agteruit gegaan en het ons al hoe meer vetsugtig geraak. Ons het verslaaf aan kos geraak en kan onsself nie meer beheer nie. Ons luister nie meer na ons liggame oor wanneer om op te hou eet nie en prop net in, agter die lekker aan. Dit bring ‘n skuldgevoel mee. Dit veroorsaak dat ons skuldig voel as ons eet.

Kos is beslis daar om te geniet, en ons kan dit soveel meer geniet as ons eet wat gesond is, met dankbare harte. Daar is egter ‘n verantwoordelikheid betrokke by die voorreg, en dit is dat ons mooi moet kyk wat ons in ons monde inprop. Dán kan ons elke happie geniet.

Sou jy hierdie bloginskrywing gebruik vir jou mondeling, sal ek dit baie waardeer as jy dit as verwysing sal noem. Vir nog opstelonderwerpe, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Toeka Tokkel oor KOS!

In opdrag van Scrapydo.

Kos! Wat ‘n WONDERLIKE ding om oor te skryf!

Vir soveel jare is ons gekondisioneer om so REG te eet dat ons amper nie kos GENIET nie. Vir meer as 30 jaar het ek ‘n styd met my gewig gehad, en saam met dit dan ook ‘n stryd met kos. Vir meer as 50 jaar het ek probeer om ‘gebalanseerd’ te eet, net om vetter en vetter te word, meer selfbewus oor my lyf, ongemaklik te voel, te hoor as daar onderlangs onvleiende dinge gesê word oor vet mense, moes hoor uit die plaaswerkersvroue se monde: ‘Mevrou het darem nou dik geword.’ Skaam voel omdat ek alewig lus voel om iets te eet, wat is dan fout met my, is ek ‘n VRAAT? Hoekom hunker ek so na kos?

Kos is ‘n WONDERLIKE ding wat God vir ons gegee het om te geniet, voluit te geniet. Dis lekker om in die kombuis te vroetel (asseblief nie heeldag nie, ek is ‘n lui kok), dis heerlik as die geure jou kombuis en huis begin vul. Dis lekker om saam om ‘n braaivleisvuur te sit terwyl daar gebraai word, dis lekker om saam om ‘n tafel te sit en elke happie te geniet. Dis lekker om te gaan uiteet saam met familie en vriende. Kos is LEKKER. EET is lekker! En nee, dis geen skande om dit voluit te geniet nie!

Die probleem is wel dat soveel van ons nie weet waar om te stop nie, dit was vir jare ook mý probleem. Ek was kosverslaafd. Maar eintlik was dit nie kosverslaafd wat ek was nie, maar suikerverslaafd. Soos met enige verslawing het ek geen beheer daaroor gehad nie. Dit het meegebring dat ek altyd honger was, altyd lus was vir nog, altyd plek gehad het vir nog iets, selfs al het dit vir my gevoel my oë peul al uit. Ek kon net nie nee sê vir kos nie en het altyd ongemaklik gevoel tussen die gesondheidsguru’s wat so fyntjies eet. Wat is fout met my?

Daarom is ek só dankbaar vir Banting (LCHF) wat oor my pad gekom het. Danksy Banting kan ek my suikerverslawing in toom hou. Ek het steeds ‘n kosverslawing, ek wil steeds meer gereeld eet of knibbel as wat nodig is, maar dit maak nie meer saak nie, want omdat ek nie meer stysels of suikers inneem nie, is dit binne beheer! Is ek gesond! Voel en lyk ek goed! Kry ek komplimente, nie net oor my lyf nie, maar oor ek so gesond lyk.

Danksy Banting mag ek kos geniet in sy volheid en rykheid. Wat ‘n genade!

Toortsie

Toortsie by Finesse: Ek en die sosiale media

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie op die radio