Liefde begin hier

As ek gedink het die hoofstuk oor vergifnis in Om lief te hê ten spyte van seerkry is fantasties, weet ek nie hoe om die volgende hoofstuk te beskryf nie. Elke hoofstuk raak net beter en beter en ek is nog nie eers halfpad met die boek nie.

In die volgende hoofstuk leer ek van liefde vir myself. Nie selfsugtige, Narcisisiese liefde nie, maar dat ons sal goed voel oor onsself soos wat God dit wil hê. Dat ons sal leer om oor onsself te dink soos God oor ons dink.

Want die duiwel sit allerhande leuens in ons koppe, soos dat ek nie goed genoeg is nie, skynheilig, lui of ongedissiplineerd is of dat jy nie jouself ‘n Christen kan noem as jy nie jou lewe kan regruk nie.

As ons nie onsself kan liefhê nie, ontneem ons onsself van soveel seën. Dan laat ons toe dat die leuens nie net vir ons beïnvloed nie, maar ook vir almal om ons.

God wil hê dat ons ook onnself sal liefhê. Is dit nie ‘n lekker gedagte nie? Ons is dalk tans nie waar God wil hê ons moet wees nie, maar ons is bestem vir ‘n oorwinnaarskroon. Want ons is Koningskinders.

Sonde en skaamte laat ons lelik voel, maar gelukkig dien ons ‘n God van nuwe dinge. God kan vir ons ‘n nuwe voorkoms gee. Hy kan vir ons ‘n nuwe begin gee. ‘n Nuwe lewe. ‘n Nuwe perspektief.

Hy sluit ook hierdie hoofstuk af met praktiese raad. Hoe kan ons uit hierdie gevangenis van leuens breek? Hoe kan ons ons denke vernuwe? Hoe kan ons van skaamte ontslae raak?

Die boek is uitstekend vertaal in baie goeie en leesbare Afrikaans. Dis oorspronklik uitgegee in Engels. Love like you’ve never been hurt. Jentezen Franklin kry dit reg om op ‘n warm, liefdevolle manier met my, ‘n gewone mens met gewone foute en probleempies en help my om op God te fokus.

Toortsie

Advertisements

Boekhou van die kwaad

Ek geniet hierdie boek, Om lief te hê ten spyte van seerkry, deur Jentezen Franklin, regtig baie. Almal van ons is al iewers in die lewe seergemaak, soveel van ons het al seergekry deur iemand baie naby aan ons.

Ek wil dit vinnig lees omdat dit so maklik en gemaklik lees, maar terselfdertyd wil ek elke woord indrink en oordink omdat dit so treffend is.

Oor vergifnis sê hy: Hou op boekhou en begin tred verloor. Dat, al is ons nie goed met wiskunde nie, ons tog elke stukkie seer wat iemand ons aandoen, in detail onthou en boekhou daarvan. Dat ons soveel keer sukkel om te vergewe.

Hy sê om lief te hê asof ons nog nooit seergekry het nie, moet ons vergewe. Dat vergifnis juis nie gaan om boek te hou nie, maar om tred te verloor.

Seerkry is ‘n werklikheid. Om bitter te word, is ‘n reaksie. Ons kan egter ‘n leefstyl van vergifnis kies.

Hy wys daarop dat onvergifnis onvergeeflik is. Dat God van ons verwag om ander te vergewe, net soos wat Hy ons vergewe.

Hy skryf dat die sterk winde van beproewing wat ons soms moet verduur, ons juis hoër kan lig en die beste in ons na vore laat kom.

Dit neem soms tyd om te vergewe. Dit is soms ‘n proses. Maar jy moet aanhou en aanhou. Weer en weer vergewe, selfs al word jy weer kwaad vir die persoon.

Hy skryf:

‘As jy sukkel om iemand te vergewe, skep moed. Hou aan bid. Hou aan vra. Hou aan soek. Hou aan klop. En bietjie vir bietjie, kloppie vir kloppie, sal God jou help om vergifnis vry te stel. Dit kan tyd neem. Maar moenie ophou nie. Vergifnis sal vloei as jy nie moed opgee nie.’

Mooi né?

In die res van die hoofstuk bespreek hy vergifnis verder, dat dit nie beteken dat jy, wanneer jy iemand vergewe, goedkeur wat hy gedoen het nie. Of dat jy noodwendig sal veegeet wat gebeur het nie. Of dat jy ‘n willose lappop is waarmee die persoon nou kan maak wat hy wil nie. Dit beteken ook nie altyd versoening nie. Dis maar net dat jy die oordeel in God se hande sit.

In die laaste stukkie van die hoofstuk gee hy kosbare raad hoe om dit te doen, hoe om iemand te vergewe selfs al vra hy nie om verskoning nie.

Dis regtig ‘n boek om te lees.

Toortsie

Om lief te hê ten spyte van seerkry

Jentezen Franklin skryf in Om lief te hê ten spyte van seerkry, dat ons moet kies om lief te hê asof ons nog nooit seergekry het nie omdat die grootte van ons seerkry ons reaksies bepaal.

Hy verwys na Josef wie se broers hom verkoop het as slaaf. Hy het alle rede gehad om, toe hy die kans kry toe hulle in nood voor hom staan, hulle terug te betaal vir wat hulle aan hom gedoen het. Hy kies egter vergifnis in plaas van vergelding en sê vir hulle dat hulle hom wel kwaad aangedoen het, maar dat God die kwaad wat hulle aangedoen was, omgekeer het in iets goeds.

Franklin stel voor dat ons die volgende keuses maak om gebroke verhoudings te herstel:

1) Kies liefde bo seerkry.

2) Kies om ander mense lief te hê – altyd.

3) Kies om te jaag na wat voor is.

4) Kies om jou wonde te laat genees.

5) Kies om aan te hou beweeg.

Ek is maar nog in die begin van hierdie boek, maar geniet reeds elke woord. Dit is uitstekend geskryf in ‘n gemaklike taal.

Ons almal kry een of ander tyd in ons lewe seer. Soveel keer word die seer veroorsaak deur iemand baie naby aan ons. Ons bou dan mure om ons hart om seerkry te verhoed. God kan ons help. Hy wíl ons help.

Ek is seker ek gaan nog baie leer uit hierdie boek. Ek sal kom vertel.

Groete

Toortsie

‘n Pad van durf en waagmoed

In ‘n vorige skrywe het ek gesê dat ek nog weer gaan skryf oor hierdie boek, Defying Jihad, en ja, ek kan regtig nie anders nie! Ware stories van mense se lewens is net gewoonlik só goed.

Esther Ahmad was ‘n radikale Moslem. Sy is slim en leergierig, stel veral in die wetenskaplike vakke belang. Sy het hierdie intense behoefte om haar pa se guns te wen en leer ekstra hard om sy goedkeuring te verdien.

Sy bied aan om ‘n selfmoordbomdraer te word, die opperste wat jy kan doen om jou plek in die hemel te verseker, volgens die ekstremistiese Islam. Dinge werk egter anders uit en sy kom tot bekering enkele dae voor sy vir opleiding gaan.

In hierdie boek stap ek haar pad saam met haar, die wonderlike manier wat sy die Here ontmoet, haar soeke na meer. Ek sien hoe sy sterk word in die Here, hoe Hy haar lei en leer, beskerm, waarsku as gevaar dreig. Wanneer sy onder die ergste toetse denkbaar gaan, gee God vir haar daagliks die krag en wysheid om die een ondervraer ná die ander moedeloos te laat omdraai. Ek vlug saam met haar van die een dorp na die ander. Ek sien die waarde van kennis, kennis van die Bybel en ook kennis van die Koran. Sy kén beide op die palm van haar hand.

Behalwe dat die boek gemaklik lees, dat ek haar lewe beleef, verbreed dit ook my eie kennis en help dit my om te leer met watter vrae Christene te doen kan kry en ook hoe om dit te beantwoord.

Ek beveel hierdie boek graag aan.

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

‘n Skat in die hand

Vir baie jare al stel ek belang in Islam en lees ek graag daaroor. Ek wil dit graag verstaan, as Christen. Ek wil verstaan hoe Moslems hulle geloof beleef. Ek wil verstaan hoe Christene in Moslemlande oorleef. Ek wil weet wat dit behels as ‘n land wat voorheen ‘n Christenland was, ‘n Moslemland word. Hoe meer ek daaroor lees, hoe meer verstaan ek ook my eie geloof.

Ek het al verskeie boeke hieroor gelees en ook op my blog hieroor geskryf. Loer gerus by kategorië by boeke.

Nou het hierdie wonderlike boek in my hande beland: Defying Jihad deur Esther Ahmad en Craig Borlase. Ek kan dit net nie neersit nie, want behalwe dat dit oor Islam gaan, gaan dit oor ‘n ware lewensverhaal, wat seker my allergunstelingboeke is. Daar is min dinge wat my só inspireer as om te lees wat ander mense beleef, hoe hulle sterkstaan.

Die boek begin waar Zakhira deur haar dorpsmense iets aangedoen wil word omdat sy tot bekering gekom het.

Dan vertel sy van haar kinderjare. Sy was die derde dogter en was bekend in die dorp as die dogter wat haar pa nie wou gehad het nie. Hy wou ‘n seun hê. Sy het ‘n fantastiese verhouding met haar ma gehad, wat ekstra moeite gedoen het om haar te leer om ‘n goeie Moslem te wees.

Volgens die agterblad was sy een van die ‘uitverkose bevoorregtes’ wat gekies was om as selfmoordbomdraer op te tree.

Toe kom Jesus.

Ek is maar nog in die begin van die boek en lees raak hoe haar ma vir haar leer dat jou goeddoen én verkeerddoen teen mekaar opweeg om eendag as jy dood is, jou lot te bepaal. Dis sulke tye wat ek God loof vir Jesus, wat reeds die straf gedra het vir my sonders omdat ek dit nooit sou gemaak het nie, al probeer ek hoé hard.

Ek geniet hierdie boek terdeë en vermoed dat ek nog ‘n paar keer hieroor gaan kom skryf. Dis so gemaklik geskryf, niks ingewikkelds nie. Mens wil net lees en lees en lees.

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.