Vanoggend skryf ek in my bidboek

Vader, U het vir my hierdie pragtige ring gegee as teken van U trou. U wys my elke dag U trou. Soos die reënboog ‘n teken is van U verbond.

Dankie vir die pad wat U vir my oopmaak met my boeke. Vader ek staan steeds in verwondering, want in my wildste drome het ek nooit kon dink dat ek soveel boeke sou skryf nie, dat my boeke op soveel rakke sou staan nie. Vader, U het die pad vir my oopgemaak, dit was nie ek nie! U is die Een wat vir my die leiding hierin gee, die vaardigheid, die woorde, die energie. Here, ek kan U net loof.

Dankie vir die saadjies wat U in my hart geplant het sonder dat ek dit eers besef het – deur eers op my rekenaar gebede te tik – toe in my bidboek – die gedagte toe ek Annelie Botes se Swart op Wit gelees het dat dit dalk ‘n manier is waarop ek kan skryf, nie dat ek ooit soos sy kan skryf nie, Here, maar tog, die gedagte. Toe ek die beradingskursus gedoen het en Deur Trauma gelees het, die gedagte dat ek dalk ook so-iets kan skryf en Here, hier het U dit op my pad gelê om NaNoWriMo oor trauma te skryf. Nie ‘n boek oor die huwelik wat ek net my blogs bymekaar gooi nie, maar iets nuut en vars.

Dankie Here dat ek juis hieroor weet dat ek U kan vertrou, dat ek net moet wag op U. Dat u vir ons sal wys watter keuses om te maak. U weet die heel beste. Ek loof U Naam.

Amen

(Hoekom plaas ek dit hier? Omdat ek God wil eer. Niks hiervan vir myself wil neem nie, want alle eer kom Hom toe. Dit is my getuienis.)

Wonderlike toerusting in die hand

‘n Vriendin het een keer vir my hierdie prentjie geskets van ‘n jagter met ‘n sak pyle op sy rug. Sy het vertel dat wanneer jy die Here aanneem as jou Verlosser, Hy jou ‘n sak vol toerusting gee. Dadelik. Dis die sak pyle op jou rug, wat jy onmiddellik mag begin gebruik. Ek dink sommer nou dadelik aan die wapenrusting wat in Efesiërs 6 beskryf word: die waarheid, die vryspraak, die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig, geloof, verlossing, die Woord van God, gebed. Hy rus ons onmiddellik daarmee toe en ons mag dit met vrymoedigheid gebruik.

Sy vertel toe egter verder, dat, deur bybelstudie te doen, gemeenskap met gelowiges te hê, boeke te lees, die Woord te bestudeer, tyd met God te spandeer, kry jy oor tyd nóg pyle by om te gebruik, raak jou kennis van God meer, kry jy vrymoedigheid, raak jy opgeskerp, vaardiger.

Ek was altyd skaam om vir iemand te bid. Soos vir hom terwyl hy luister. Ek sou sê: ‘Ek bid vir jou,’ en dan sou ek dit beslis doen op my eie. Met tyd het ek geleer om my arm om die persoon se skouer te sit en vir hom te bid, gewoonlik het ek dan trane in my oë, dit kom sommer net vanself.

Oor tyd het ek ook geleer om vir iemand ‘n gebed te stuur via whattsapp of sms. Ek tik die gebed uit asof ek dit in woorde bid, of ek neem die stemboodskap op en stuur dit. Ek doen dit nie elke dag nie, net wanneer ek hierdie drang in my kry om dit te doen. Soms is ek skaam om dit te doen. Soms dink ek, wat sal hierdie persoon dink? Gaan sy nie ongemaklik wees nie?

Maar keer op keer kom die antwoord terug, baie dankie, dankie vir jou omgee, of dankie vir die gebed, ek het dit so nodig gehad.

En net soos wat ek die stuurder van ‘n gebed is, was ek ook al telkemale die ontvanger van ‘n gebed. Of van ‘n opregte ‘hoe gaan dit met jou?’ van iemand wat ek weet, omgee. Of ‘n ‘Toortsie ek dink aan jou.’ ‘Toortsie, is jy okay?’ Elke keer op presies die regte tyd, die presiese woorde wat ek op daardie oomblik nodig het.

En dít is NIE toevallig nie. Vir party mense mag dit vreemd klink, ek verstaan dit, maar ek weet dat dit elke keer ‘n direkte opdrag van God is en dat daardie persoon wat die boodskap aanstuur, maar net gehoorsaam was en die pyl tot haar beskikking gebruik het.

Dankie vir elke pyl wat iemand vir my stuur. Ek wil jou aanmoedig, gebruik daardie pyle in die koker (is dit die regte woord, koker?), dis tot jou beskikking daargestel en hoe meer jy dit gebruik, hoe vaardiger raak jy en begin jy dit met al hoe meer gemak gebruik.

Hê ‘n mooi dag.

Toortsie

Uiteindelik klaar

Ek is uiteindelik klaar met Dutch Sheets se boek, Intercessory Prayer“. Wat ‘n boek! 
Dis ‘n uiters goeie boek oor gebed, en ek het geweldig baie daaruit geleer. Tog het ek baie keer gevoel dis hoog bo my vuurmaakplek. Ek het werklik soms geworstel om voort te gaan, en baie keer ‘n stukkie gelees en die boek eers neergesit vir ‘n tyd lank.
Tog is ek bly ek het deurgedruk en dit klaargemaak. Vir my as Gereformeerde, was sommige van die goed wat hy skryf, nuut op die oor. Soms het dit selfs vir my ongemaklik gemaak. Partykeer het ek gedink: WOW! So het ek nog nie hieroor gedink nie! Wonderlik! Dit het beslis deure in my gebedslewe oopgemaak.
Ek is dankbaar om te sê dat dit nooit vir my gevoel het dat hy sy idees inboelie nie. Meermale sou hy diegene wat dalk ‘n sekere aspek anders verstaan, in ag neem.
Ek sal graag die boek aanbeveel vir mense wat hul gebedslewe wil opskerp. Ek dink dis ‘n boek wat ekself weer oor ‘n jaar of 2 sal lees. Baie keer is dit juis die tweede en derde keer wat ek ‘n boel lees, wat groei bevorder, omdat vreemde dinge dan bekende dinge word.
Lees dit gerus!
Groete
Toorts
Lees ook “Prayer, the Great Adventure” van David Jeremiah 

Goedvoeldag 70