One liner Wednesday – Back to basics

Back to basics, thanks to Eskom.

One liner Wednesday

die krag, o die krag

Iemand skryf ‘n brief aan RSG en vra hoekom hulle dan nie beurtkrag op ‘n Sondag het nie, in plaas van in die week. Die meeste mense het af op ‘n Sondag, so dit sal dalk die minste mense ontwrig.

Sy verstaan dit, soos baie mense, dat krag opgegaar kan word. So, as ons dan op ‘n Sondag amper heeldag geen krag het nie, is daar mos genoeg opgepot vir die res van die week.

Die probleem is, het iemand aan my verduidelik, dat krag nie opgegaar kan word nie. Daar’s nie batterye waarin die krag gestoor kan word nie. Krag word nou vervaardig vir nou se verbruik. Sê ek nou reg? Eskom kan soveel krag op ‘n slag vervaardig, en as ons op ‘n gegewe oomblik daardie maksimum oorskry, word beurtkrag ingestel. Ek dink dis een van die redes, dink ek, hoekom dit so werk dat hulle die een oomblik aankondig dat daar geen beurtkrag gaan wees nie, en net die volgende oomblik is ons in fase een en ‘n halfuur later in fase 2.

Juis om hierdie rede het ek die vraag oor die afsit van die geizer gevra. Want sien, die heel dag is die geizer af, en vanaand, wanneer dit reeds spitstyd is, sit almal dan gou hulle geizer vir ‘n halfuur aan om die water weer warm te maak. Almal gelyk, wat die stelsel dan net meer oorlaai.

Toe het ek nou só gedink, en ekself pas dit nog nie toe nie, ek dink nog maar net.

Ek weet baie mense het tydskakelaars (timers) op hulle swembadpompe en geizers en ander goed wat krag gebruik. Soos dit vir my klink, word die heel minste krag in die nag verbruik, van 10 nm tot so 6 vm, of is dit 5 vm? Is dit dan nie ‘n goeie ding om jou swembadpomp in die nag te laat loop, in plaas van in die dag nie? En as jy in elk geval jou geizer net ‘n halfuur elke 2 dae aanskakel, kan jy hom nie só stel dat hy dalk vanaf 4 uur in die oggend  loop sodat dit lekker warm is as jy opstaan nie? Dalk moet ons boervrouens die boud deur die nag in die oond druk, soos ons in die ou dae gedoen het. Droog jou beskuit deur die nag uit, ek doen nogals, en sit jou skottelgoedwasser aan net voor jy gaan slaap.

Die goed wat ek nou genoem het, is goed wat kan gebeur sonder dat jy dit die hele tyd hoef dop te hou. Die oond se tydskakelaar werk so maklik, so ‘n mens kan regtig van dit gebruik maak.

Watter voorbeelde kan julle nog noem van goed wat nie noodwendig in die dag hoef te gebeur nie, maar wat kan gebeur terwyl jy slaap, sodat die verbruik van die elektrisiteit meer versprei is?

Groete

Toorts

Ek plaas interessante bloginskrywings wat ek raakloop ons faceboekblad.

Plaasmense… onthou julle nog die tye VOOR Eskom??

Vlam het my herinneringe nou behoorlik oopgekrap in haar skrywe oor haar lewe op die plaas. Ons almal is maar afhanklik van Eskom. Want die feit bly staan, ons kan nie meer daarsonder nie!

Daar was ‘n tyd wat ons totaal onafhanklik van Eskom geleef het en ‘n goeie lewenskwaliteit gehandhaaf het.

Ek het op ‘n plaas grootgeword en ons het nie die luukse van Eskom krag gehad nie. Eers het ons ‘n ou Lister-enjin gehad wat slegs 32 volt kon opwek. En dít was maar net vir ons ligte. Die enjin het die batterye volgelaai en dan is dit afgesit vir die volgende paar aande. Wanneer die liggies dan weer te flou begin raak het, is die enjin maar weer aangesit. Maar as ek nou mooi onthou, het my ma se naaimasjien en ook haar menger (deeg menger) met 32 volt gewerk!

Later het ons ‘n 220 volt enjin gekry, en kon ons saans TV kyk, ons ligte was sterker, en ons kon ander luukses ook kry, soos ‘n Alaska vrieskas wat met krag gewerk het en net twee ure per dag elektrisiteit benodig het. Voorheen het ons yskas en vrieskas met lampolie (parraffin) gewerk, wat weekliks aangevul moes word. Net my pa kon dit doen, want die vlammetjie moes presies reg brand, anders was die yskas te koud of anders het dit ontdooi!! (In my man se huis was dit my skoonma se werk, toe trou ons…. toe is die yskas elke 10 dae dood, want nie ek of manlief het ooit gedink dat ‘n yskas parraffin moet kry nie!! 😉 )

Die huise het meestal AGA stowe gehad wat met steenkool gewerk het. Elke oggend en elke aand moes Oupa dan die stoof kom “skud”. Die as is uitgeskud en nuwe steenkool is bo-in gegooi. Ons stoof was altyd heerlik warm en as ons biltong gemaak het, het ons dit ook bokant die stoof opgehang, dan was dit sommer gou droog. Ons badwater is ook deur die stoof verhit. Niemand mag ‘n vol bad getap het nie, want die water was te skaars en dan het die volgende ou koud gebad! Wasdae was die oond altyd koud, daar is te veel water getrek wat deur die stoof verhit moes word.

Ons het sulke swart strykysters gehad wat op die stoof warm gemaak is. Ons strandhuis was “bedraad” vir gaslampe. Die hele huis is met gas voorsien vanaf ‘n sentrale punt en al die vertrekke het gaslampe gehad. En gasgeizers vir die badkamers en natuurlik ‘n gasstoof. My man onthou ‘n tyd van olielampe… en ‘n houtstoof…

Weet julle, ons sal heeltemal regkom sonder Eskom. Maar dit sal ‘n paar aanpassingkies verg… Ek het mos vertel van die Outeniqua Trout Lodge  wat hulle eie krag opwek, ens… Wie het nog sulke herinneringe? Wat het julle gedoen voor ons “beskaafd” geraak het om julle lewe te vergemaklik?

Groete

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Skryf jou stories!

Toortsie by Pinterest