Uitsaailysies teenoor groepe

Beide hierdie twee genoem, naamlik uitsaailysies (Broadcast lists) en groepe (Groups) op Whattsapp, dink ek, is geskep om mense se werk minder te maak. Dis tog wat elektronika behoort te doen: Ons werk minder maak.

Ek sê altyd dat ‘n rekenaar nie ‘n tikmasjien is nie en ons dit nie as sodanig moet gebruik nie. Daarom is dit nodig dat ons die funksies moet leer ken en tot ons voordeel benut. Wat ons meestal doen. Wat mense soms misbruik.

Na aanleiding van die opruimingsessie van verlede week en my opruiming van elektronika, doen ek hierdie inskrywing. Wat is die voordele en nadele van beide hierdie twee hulpmiddels?

Groepe is lekker as jy ‘n klomp mense met dieselfde doel wil betrek. Dit verminder misverstande as almal sommer op dieselfde groep ‘n ding bespreek. Dit verminder ook werk as jy dieselfde boodskap vir hoeveel verskillende mense wil stuur en nie al die antwoorde wil oor en weer stuur nie.

Dit is egter baie belangrik dat by die doel van die groep gehou word. Sodra daar prentjies op geplak word en ander nonsensies gedeel word, mag dit ‘n irritasie vir sommige lede van die groep raak.

Die alternatief daarvoor is dan nou die uitsaailysies, oftewel Broadcast lists. Die lekker daarvan, is dat jy dieselfde boodskap met die druk van een knoppie vir almal kan aanstuur. Elke persoon wat reageer, reageer dan slegs na die betrokke persoon, en almal kry nie die boodskap nie. Wonderlik. Maar ook dit kan misbruik word, veral as die eienaar van die uitsaailysie ‘n regte uitsaaier is en jy die een ongevraagde boodskap na die ander ontvang.

‘n Mens kan jou saggies verwyder van ‘n groep, of dalk ook nie so saggies nie. Almal kan sien wanneer jy besluit om die groep te verlaat, en dan wonder hulle daaroor. Of jy kan besluit om die groep vir ‘n spesifieke tydperk stil te maak (mute). Daardeur word jy nie uitgesluit deur die groep nie, maar jy kry nie al die boodskappe wat gestuur word nie.

Die probleem as jy ‘n uitsaaier het wat die een advertensie na die ander vir jou stuur, is, hoe raak jy daarvan ontslae? Gaan jy op sy tone trap en vra dat hy ophou om dit vir jou te stuur? Of om jou van die lys te verwyder? Die alternatief is dat jy dan die persoon sommer net prontuit blok, maar dit beteken dan dat jy geen van sy boodskappe meer kry nie, sommige wat jy eintlik graag sou wou kry.

So, hoe maak julle?

Toortsie

Advertisements

Elektroniese ouma

My vriendin, Maresa het baie jare gelede gesê dat ons sal moet leer hoe die rekenaar werk, anders gaan ons agterbly…

Toe ek my eerste rekenaar gekoop het, groot skerm, groot boks, dot matriks drukker, het wêrelde vir my oopgegaan. Maar toe ek later jare ‘n skootrekenaar kry, het ek die vryheid vanself gekry. Ek kon my laptoppie oppak en as my man sê, kom jy saam, is ek en laptoppie ingelaai en daar gaan ons! Natuurlik, toe Vodacom sy internet-stokkies bekendstel, het ek net meer en meer vlerke gekry. Fax to email het beslis ook baie “drade” afgesny, en, wat is lekkerder as WIFI?

Toe kom die slimfone. My slimfoon, ‘n Samsung, het nog knoppies, so sy skermpie is nie so groot nie. Nadat ek dit omtrent ‘n jaar al het, het ek die wonder ontdek van eposse op die foon kyk as ons iewers rondry. Ek het geweet dis daar, maar het dit nooit gebruik nie! O, en met Google Calender het ek bevry geraak van my dagboek! Die afgelope vakansie het ek die wonder van Google Search op my selfoon ontdek (het dit altyd op my rekenaar gebruik), en as pappa sê, “kyk vir verblyf in Koekenaap”, dan het ek tjop tjop dit gedoen! Die GPS van die slimfoon gebruik darem net te veel data…

Maar gee kans! NOU gaan ek slim word!! 😉 Wanneer ek al my kontakte se inligting op my Google-rekening ingetik het, gaan ek nie meer afhanklik wees van die nommers op my simkaart nie,  want wie gebruik nog nommers op simkaarte? Hy het net soveel karakters, en kan net soveel nommers hou.  (ek) … En dan gaan my rekenaar en my selfoon en my nuwe Galaxy tab wat ek by Eerste Nasionale Bank vir 24 maande afbetaal, alles gesinkroniseer wees….. oooooooo!!!….. En sou my selfoon vervang moet word, verloor ek nie nommers nie… ooooooo!!!….

Scype, wat ek seker al meer as ‘n jaar gelede geinstalleer het, is nou ook op my foon. 🙂 So, dames en here, AS EK ONTHOU, gaan ek julle Scype! 🙂  Gratis! 🙂 …. (oeps! SKYPE MET ‘N K!!)

En wanneer die dropbox geinstalleer is, gaan my foto’s wat ek met my selfoon neem, sommer op die rekenaar en die Tab wys…. so hoekom nog mik en druk?…… (dis hoofstuk 15)…

Ek trek nou by hoofstuk 2…. 😉

After all, ek is mos darem al ‘n OUMA!, so is dit so nodig om so heeltemal op datum te wees?

Toorts