Anton van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247


……………………………………………………

Anton is ook ‘n seuntjie wat op die seuntjie-eiland, Comono, woon waar daar net seuntjies is en glad nie dogtertjies nie. Ook nie eintlik pappas en mammas nie. Dit is ‘n eiland waar seuntjies net kan seuntjies wees, kan speel en baklei en maak net wat hulle wil, waar hulle eintlik oefen om s e e r o w e r s te word.

Anton het ‘n spesiale eienskap: Hy kan al die diere se geluide presies namaak. Die voëltjies maak hy die heel mooiste na. Wanneer hy dit doen, weet ‘n mens nie altyd of dit hy is en of dit ‘n voëltjie is nie. Baie keer antwoord die voëltjies hom as hy soos hulle fluit.

Anton hou nie daarvan om altyd rowwe seuntjiespeletjies te speel nie, wat veroorsaak dat hy soms geboelie word. En die ander seuns terg hom soms en noem vir hom lelike name. Dit maak hom hartseer, maar eintlik gee hy nie regtig om wat hulle van hom sê nie, want in sy hartjie is hy gelukkig. Hy kan homself vir ure besig hou deur na alle klanke in die natuur te luister en dit ná te maak.

Anton is musikaal. Hy sing ook mooi en kan kitaar speel, iets wat baie van die ander seuntjies hom beny. Party sal vir hom vra om vir hulle ook te leer.

Saans, wanneer dit stil raak op die eiland, wanneer die seuntjies almal om die vure sit en dink oor die dag wat verby is en wat hulle alles môre gaan doen, haal Anton sy kitaar uit en tokkel hy saggies daarop terwyl hy saamsing en party van die ander seuntjies ook begin saamsing. Dis dán wat baie van die seuntjies wonder of daar dalk ‘n plek is, ‘n ander plek as seuntjie-eiland, waar daar pappas en mammas en boeties en sussies is. Sussies wat sagtheid bring. Mammas wat lekker kos maak en ‘n pleister opsit waar dit seer is, wat troos as jy wil huil. En pappas wat vir hulle sorg en by wie hulle veilig kan wees. Dan wonder hulle by hulleself, al vra hulle dit nie vir die ander nie, of seuntjie-eiland regtig die beste en lekkerste plek is om te wees.

Toortsie