Wat maak jy met jou hande?

‘n Groot deel van enige verslawing, is die gewoontes wat daarmee saamkom. En om daardie verslawing af te leer, behels nie net die ontslae raak van die chemiese afhanklikheid daarvan nie, maar amper ‘n hele nuwe bestaan.

Soos byvoorbeeld, as jy jou alkoholverslawing wil oorkom, beïnvloed dit, behalwe die ‘ophou drink’, ook jou tydbesteding, die vriendekring waarin jy beweeg en vele ander goed. Skielik kan jy nie meer saans sit en drink nie en moet jy nuwe maniere kry om jou konstruktief besig te hou. Jy moet dalk nuwe vriende vind, want jou belangstellings het dalk ook nou verander en jy wil mos nie weer in dieselfde slaggat trap nie.

Destyds toe my man ophou rook het, was sy groot uitdaging: Wat maak hy nou met sy hande? Die hande wat die sigaret heeltyd na sy mond gebring het?

Sonder dat ek dit eers besef het, behels eetverslawing ook die bring van kos of drinkgoed na jou gesig en is dit ‘n lekkerte wat jy moet afleer as jy jou eetverslawing wil oorwin. Ek het nooit daaraan gedink nie! In die kursus wat ek tans doen oor eetverslawing, versugtigheid en diabetes het ek hierdie oulike raad geleer om permanent ‘n nuwe leefstyl aan te leer. Doen dit stap vir stap, nie alles op een slag nie.

1) Kry ‘n doel voor oë. Hoekom wil jy jou leefstyl verander?

2) Sluit alle koolhidrate uit alles wat jy drink. Drink slegs iets wat geen koolhidrate bevat nie.

3) Sny alles uit ‘waarop’ jy kos eet – die brood, die fyn aartappels, die chips, die rys. Eet die eiers, maalvleis, kaas sonder die styselbasis.

4) Moenie goed probeer vervang nie. Moet ook nie die namaaksels na die verbode item vernoem nie. Eerder fyn blomkool as blomkoolrys.

5) Sny alle stysel uit. Vrugte ook, behalve tamaties en avokado’s. Vrugte bevat regtig baie suiker en as jy reeds ‘n suiker- of vetsugtigheidsprobleem het ..,

6) Hou op snack tussen etes. Selfs nie eers koolhidraatvrye snacks nie.

7) Probeer slegs een of twee keer per dag eet. Eet wanneer jy honger is.

8) Vir die gewoonte, die hande … drink elke twintig minute een sluk koffie of tee. Water natuurlik ook!

9) Spandeer tyd met jou God en sorteer dit uit in jou hart wat jou pla.

Toortsie

Oor verslawings

Ek en myself is weer vandag erg aan die babbel.  Die woorde kom en kom en kom net. Sommer oor alkoholisme en ander verslawings.

Die ding is, geen mens weet vooraf hoe sy liggaam op ‘n sekere substans gaan reageer nie. Die een persoon kan ‘n glasie rooi wyn drink en dit maak niks aan hom nie. Die ander een kan die voorneme hê om net een glasie te drink, maar… Dis soos ‘n ryloper wat jy oplaai. Die een ryloper ry rustig saam en klim af waar jy hom aflaai, die ander ryloper hou skielik ‘n rewolwer teen jou kop, en sê: “Maak soos ek sê.” Ongelukkig weet jy nie vooraf watter een van die twee dit is nie. Net so met die drank. As jy in die tweede groep is, is dit of die eerste glasie jou “hijack”, hy neem beheer van jou oor.  Alkoholisme is ‘n siekte, hy is altyd deel van jou, selfs al hou jy op met drink. Daarom het ‘n droë alkoholis dit net soveel moeiliker as ‘n ander persoon as hy met drank in aanraking kom.

As ek vir mense in die verlede gesê het, ek het ‘n kosverslawing, het hulle gedink ek maak ‘n grap, terwyl ek eintlik doodernstig was. Sommige tye kan ‘n mens dit beheer, ander tye neem dit net oor. Soms het dit vir my gevoel ek wil net alles wat eetbaar is met albei hande nader gryp, en dit verorber, net om vir nóg lus te wees. Kosverslawing se negatiwe gevolge lyk anders as alkoholisme, of dwelmverslawing. Maar met kosverslawing kan ‘n mens ook ‘n te groot prys betaal. Eerstens word jy natuurlik vet, en as jy vet genoeg word, vetsugtig. Jy  voel ongemaklik in jou klere, ongemaklik in jou lyf, kry negatiewe opmerkings van mense, jou selfbeeld ly daaronder.  Maar daar is baie meer daaraan. Saam met vetsugtigheid is die kans ekstra groot dat jy hoë cholesterol sal ontwikkel, diabetes, hartvatsiektes, hoë bloeddruk. Mense besef deesdae nie meer watter GROOT siektes dit is nie. Hierdie siektes word saam met kanker onder die groot siektes gesien. Ja, medikasie kan dit in ‘n mate beheer, maar dis steeds groot en gevaarlike siektes.

Eintlik, waaroor ek en myself gesels het, is ‘n keer wat ons, net na middagete na ‘n kaasfabriek was en wat ek myself so moes inhou om nie die hele fabriek se kaas op te eet nie! Dit was nog vóór banting.  Vreemd, deesdae sal ek af en toe ‘n dag kry wat ek heeldag lus kry vir peusel, maar eintlik gebeur dit nie meer nie. Die ryker, regte kos het beslis ‘n goeie uitwerking!

Banting bly steeds jou eie keuse. Sou jy dit wou doen, sien eers jou dokter.

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad.

Bantingresepte op pinterest.