My eerste skooldag opstel

Ek sien dat my bloginskrywing oor my eerste skooldag, baie aandag trek. WordPress het toe ook vir my die geheim gedeel: Iewers moet iemand hieroor ‘n opstel skryf!

Liewe tiener, hier is nou jou kans om daardie storie te vertel wat jy nog altyd wou vertel! Moenie ‘n internetstorie afskryf of enige iemand anders vra om dit vir jou te skryf nie. Nee, vertel jou eie storie, want ek is seker jy hét iets om te vertel.

‘My eerste skooldag’ kan op baie maniere geïnterpreteer word. Jy het eintlik só ‘n wye keuse.

Dit kan jou heel eerste skooldag wees, in die kleuterskool, die pre-primêr, die laerskool, die hoërskool. Of jou eerste skooldag in ‘n nuwe skool. Of dalk jou eerste skooldag nadat jy beroemd geword het, die eerste skooldag nadat jy ‘n groot prys gewen het. Die eerste keer wat jy weer moes skool toe gaan nadat ‘n tragedie jou getref het. Dalk die eerste skooldag ná ‘n vakansieromanse! Die eerste skooldag nadat julle gesin oorsee gekuier het. Die eerste skooldag in ‘n ander land! Sommer enige eerste skooldag van enige gegewe jaar wat iets snaaks of anders gebeur het.

Watter een gaan jy beskryf? Hoekom juis daardie dag? Wat staan vir jou uit van daardie dag? Was jy bang? Opgewonde? Kon jy nie wag om by die skool te kom nie omdat jy graag iets groots vir jou vriende wou vertel? Skryf dit alles! Vertel van jou opwinding, jou vrees, skryf sommer die storie ook wat jy wou vertel.

Hoe het jy by die skool gekom? Moes jy koshuis toe gaan? Het jy al ‘n dag voor die tyd by die koshuis ingetrek? Waarmee het julle gery? Of het julle gestap?

Wie was jou vriende? Wat het daardie spesifieke dag gebeur?

Vertel jou eie ervarings. Vertel hoe jy dit beleef het. Was dit lekker? Vervelig? Onthou, jou storie is jóú storie en niemand kan dit van jou af wegvat nie. Selfs al dink jy dis dalk te eenvoudig, dit maak nie saak nie. Ander mense put dalk genot daarin om dit te lees.

Skryf daardie opstel. Begin net. Jy sal sien dat dit eintlik lekker is. As jy klaar is, lees dit ‘n paar keer deur. Lees dit vir jou lekker? Waar wil jy nog iets verander? Kyk vir spel- en taalfoute.

As jy dit klaar geskryf het, gee dit in met trots. Dis jou eie handewerk, jy mág goed voel daaroor. En dan kom plak jy sommer jou opstel hier by die kommentaar sodat ons dit ook kan lees!

Die heel belangrikste van alles, geniet dit!

Sterkte!

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Ek is nie ‘n minimalis nie.

Toortsie by Pinterest

Laaste skooldag

Môre gaan my allerlaaste laatlam die laaste keer skool toe.

Ek het netnou sit en dink oor hoe my eie laaste dag was. Ek kon toe my eerste skooldag  baie beter onthou! Nadat ek ‘n rukkie gedink het, het die onthougoed tóg sy werk gedoen!

Ek weet ons het die vorige middag die skool behoorlik op horings geneem, op ons onderwysers se borde enige ding gaan skryf. Ons rekeningkunde-onnie het op ‘n stadium gesê: “Marathons is vir perde.”, terwyl ek op daardie stadium ‘n ywerige atleet was. Sy woorde is herhaal op die swartbord. In die wiskundeklas is onder andere ‘n som op die bord gedoen wat bewys dat 1 = 0! Ons laaste dag het seker maar bestaan uit die tradisionele skryf op die hemde, en geskenkies uitdeel vir ons maats, kaartjies van voorspoed vir die eksamen, ens. Ons matrieks kon van klas na klas beweeg en elke kind groet. Daar sou darem seker ‘n saalbyeenkoms gewees het.

Toe die seuns hulle laaste dag gehad het, was dit ‘n heel ander storie. Veral die saalbyeenkoms. Die mammas (en pappas) het die snesies uitgepak. Oor elke matrikulant is iets gesê en vir elkeen is ‘n glas gegee. So is een van my seuns toe die eerste naam wat gelees word en dan stap hy so tussen die kinders deur buitentoe. Iemand stamp toe per ongeluk die glas uit sy hand. Op so ‘n dag … genoeg rede vir die ma om NOG MEER te huil!!  Hul eerste skooldag –  so 10 minute voor die skool daardie eerste dag moes uitkom, het een van die tweetjies alreeds hulle altwee en nog ‘n maatjie se banke mooi netjies gemaak, hulle koffers ingepak gehad en kiertsregop gestaan met al drie tasse in sy hand!! Reg vir huistoe gaan.

Meisiekind was ook in ‘n plaasskool, en in haar klas was Sub A’s, B’s en st 1’s saam. Die pa het haar die oggend gaan aflaai, en ek moes dorp toe ry om my twee standerd sessies hoërskool toe te neem. Sy het die middag met die bus huis toe gery. Die juffou sê toe net: “Ma, jou kind kan lees.” Toe die juffrou die Sub B’s roep om te kom lees, het meisiekind, wie nie verstaan het van Sub A en Sub B nie, ywerig gaan saamlees. (Sy kon immers op 5 alreeds musiek lees!!)  Ek vra haar die dag hoeveel Sub A’s daar is, en al wat sy vir my kon antwoord, was: “Mamma, daar is 7 met nuwe klere.” 😆

Nou ja, wat môre gaan oplewer, sal ons nog maar moet sien. Ek sal maar ekstra snesies inpak …

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekosboek Faceboekblad.