Eensaamheid het ‘n manier om sy kloue in jou in te slaan sonder dat jy dit selfs eers agterkom en wanneer jy dit eendag besef, het dit jou gevang, het jy só vereensaam en het jy selfs jou selfvertroue verloor dat jy nie meer weet hóé om uit die situasie te kom nie.
Ek skryf hierdie bloginskrywing na aanleiding van My Seepkis se verwysing na Maroelamedia se artikel oor eensaamheid in Brittanje en dat daar nou selfs ‘n minister aangestel is om hieraan aandag te gee.
Ek is mos maar meer ekstrovert as introvert en hou van mense, maar ook van stilte. Tog dink ek dat selfs introverte soms geselskap nodig het.
Ek het ook oor tyd in die vereensamingslaggat getrap omdat ek so besig was met ons plaaswerkies en kinders rondry, ek het nie meer by mense gekuier nie en toe ek weer sien, al my selfvertroue verloor, myself bejammer, en selfs begin glo dat mense nie daarvan hou om in my geselskap te wees nie.
Sedert ek nou semi-dorpenaar is, probeer ek doelbewus weer met nense in aanraking kom en vriendskappe op die dorp bou.
Vir my werk dit regtig om aan gesellighede deel te neem waar ek kan. Ek probeer uitnodigings aanneem as dit enigsins moontlik is en word deel van klubs, selfs al kan ek slegs een of twee keer per jaar soontoe gaan. Ek probeer uitreik en wag nie altyd totdat iemand met my begin gesels, of my nooi nie.
Dit dra by daartoe dat ek nou meermale na goed genooi word en sodoende meer mense ontmoet.
As jy ‘n skaam persoon is, maar tog mense om jou nodig het, sou ek regtig voorstel dat jy by ‘n boekklub, die VLV, die blommeklub, perdryklub, hekelklub, laslappieklub, drafklub, of wat ook al, aansluit. Tensy jy jou regtig bot hou en jou liggaamstaal wys dat mense moet verbyhou, kan ek jou belowe dat iemand met jou ‘n geselsie gaan aanknoop en kort voor lank sal jy weer begin voel dat jy deel is van die gemeenskap.
Voel jy eensaam? Nooi iemand wat jy ken vir tee, en sê sy moet ‘n maat ook saambring. Dis net die eerste tree wat moeilik is, die volgende een is reeds makliker. Of nooi iemand wat vriendelik lyk om saam met jou by ‘n openbare plek tee te gaan drink, dis dalk gemakliker as by jou huis.
Dit werk vir my.
Groetnis
Toortsie