Waarna luister ek?

Ek hét mos al vertel van Libby, ‘n E-biblioteek waaraan ek behoort. Jy moet lid wees van jou plaaslike biblioteek en op dié manier kan jy dan inskakel by Libby. Ek lees e-boeke en luister audioboeke. Dis veral die audioboeke wat my lewe baie verryk, wat ‘n nuwe pad vir my oopgemaak het, want dit kan ek luister terwyl ek besig is met ‘n handwerkie of terwyl ek in die kombuis woel.

Ek luister meestal stories. Christine le Roux se Omnibus 8 en Elsa Winckler se Romanza Nostalgie is sommer net lekker ligte leesstof. Flying Angels, The Butler en Complications van Danielle Steel was heerlike luisterstof. A Duke for Diana deur Sabrina Jeffries was ‘n heerlike verrassing, ek het nog nooit van haar boeke gelees nie en sal beslis weer na haar boeke kyk. Jeffrey Archer is natuurlik in ‘n klas van sy eie en The Eleventh Commandment het nie teleurgestel nie. Ek sal beslis weer Karen Kingsbury se boeke lees, The Baxters en A Distant Shore was heerlik. Dis lieflike, mooi stories met ‘n Christelike inslag. Kantelpunt van Sophia Kapp, ‘n wonderlike, weldeurdagte boek met soveel dinge waarmee ek my kon vereenselwig. ‘n Boek van bevryding. Bookshop by the Sea, geskryf deur Denise Hunter, het net so lekker geluister. Daar is ook jeugboeke, soos ‘n Goeie dag vir Boomklim deur Jaco Jacobs. Dis regtig ‘n oulike boek om te lees.

Maar waaroor ek einlik wil skryf, is Tolbos deur Irma Joubert. Dis my eerste Irma Joubert wat ek luister. Ek het wel al stukkies voorlesing op die radio gehoor as dit toevallig aan is. In die keurigste, mooiste Afrikaans herleef ek die geskiedenis soos wat ons dit beleef het. Want Katrien is omtrent net so oud soos ek. Al verskil is dat ek regtig ‘n gelukkige kinderlewe gehad het terwyl sy haar ma op ‘n baie broos ouderdom verloor. Sy is rebels, kwaad, woedend. Sy wys my die lewe uit ‘n ander hoek. Soos die Voëlvry beweging. Ek was beslis daardie jare nie in dieselfde kamp as sy nie, maar vandag, as ek terugkyk en Tolbos lees, juig ek saam met haar oor die verandering en groei wat in ons land gebeur het. Besef ek dat elkeen van ons sy deeltjie bydra op sy eie manier. Sy, deur kwaad te wees, ek weer op my manier. Die geskiedenis, die politiek van die dag, PW met sy wysvinger … ek beleef dit weer saam met Katrien sonder dat dit ‘n geskiedenisboek is. Sonder dat dit té veel in my keel afgedruk word. Want, al lees en kyk ek nie nuus nie, al is ek nie betrokke by die politiek nie, leef ek mos vandag. Word ek beïnvloed deur die gebeure van die dag. Kan ‘n mens dit mos nie heeltemal ignoreer nie, want ek woon hier, ek leef hier. Irma Joubert, dankie. Dankie, dankie dankie vir hierdie pragtige boek! En dankie vir Carla Smith wat dit voorlees op ‘n wonderlike, meelewende manier.

Toortsie

(Terloops, ek het in hierdie week gehoor dat die Wes-Kaap se bib weer aanlyn is en dat mense wat gesukkel het om op Libby aan te teken , dit nou weer kan doen. Ek kan natuurlik niks waarborg nie, dis mos maar op hoorsê, maar dalk die moeite werd om weer te probeer.)

E-lesers en E-boeke

Destyds toe e-lesers groot mode was, eintlik toe die mode al amper verby was, dalk is die mode steeds daar, maar ek weet dit net nie, het ek vir my ‘n Kalahari E-leser aangeskaf vir baie min geld. ‘n Gobii. Dit het heerlik gewerk. Om die waarheid te sê, hy lê nog daar iewers. Elke boek wat ek gekoop het, was maklik ‘n R100 goedkoper as die gedrukte boek, en dan spaar jy nog die R30 posgeld ook! Ek het boeke gekoop vir ‘n vale, genoeg om te lees tot ek 120 jaar oud is.

Maar tegnologie het ‘n probleem! Dit raak oud! Jy skaf vir jou nuwes aan.

Plaas dat ek daai tyd geluister het. Almal sê Amazon. Toortsie kyk na Kalahari, want Kalahari is Afrikaans en het ‘n magdom Afrikaanse boeke en dit werk so lekker! Hoekom dan anders?

Dan gebeur dit dat ‘n boek slegs by Amazon beskikbaar is, en Toortsie los maar. Of ek sien Kobo het ‘n EPUB, en ek koop dit, net om te besef dat dit slegs op KOBO gelees kan word.

Kalahari raak Takealot. Kyk, ek is mal oor Takealot. Ek koop graag by hulle. Ander goed. Nie e-boeke nie. Dit wil nie lekker werk nie. Wil ek ‘n boek wat ek lank gelede gekoop het, sommer op my foon laai, het ek nie ‘n kaartjie om dit te doen nie. Want Takealot laai slegs 3 keer af en ek weet ek het dit nog nie so baie gedoen nie. Genadetjie tog.

Een dag vererg ek my en koop ‘n boek by Amazon. Ek lees hom op my foon, en as ek netnou op my tablet wil loer, maak ek op dieselfde bladsy daar oop. Koop ek ‘n nuwe foon, is dit steeds op dieselfde bladsy waar ek laas gelees het. Wat ‘n plesier! HOEKOM HET EK NIE AL LANKAL NA JULLE GELUISTER NIE?

Nou sit ek steeds met ‘n mandjievol boeke op my Takealot en dis op my tablet wat horingoud is en aanmekaar knor en lus het om die gees te gee.

Ek geniet steeds om ‘n boek elektronies te lees. Dis steeds lekker, veral as ek op vakansie gaan of pendel om sommer alles byderhand op my foon te hê.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Tot seën van ander

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

E-boeke

Hoe koop julle e-boeke? Waar koop julle e-boeke?

Ekself koop meestal by Kalahari (Takealot). Dis waar ek destyds my Gobii gekoop het en daar het ek aanhou koop. Dis vir my die maklikste. Kindle gebruikers koop seker weer meestal by Amazon. Ongelukkig is Kindle en Kalahari nie versoenbaar nie, of is dit deesdae?

Noudat ek ‘n Samsung Tablet het, behoort ek beide te kan aflaai, maar het nog nooit probeer nie. Eintlik wil ek nie al wat e-leser is op my tablet aflaai nie, dan lê die boeke ook die hele wêreld vol.

Nog ‘n vragie. Is daar plekke waar julle goedkoper e-boeke kan aflaai? Hoe vergelyk Kalahari en Kindle se pryse vir dieselfde boek?

Iets waaroor ek soms wonder en nog nooit probeer het nie, is of mens, as jy in ‘n regte boekwinkel staan, ‘n e-boek by hulle kan koop. Of kan jy net regte boeke, harde kopieë, by hulle koop? Maak hulle al voorsiening vir mense wat eerder ‘n e-boek verkies, of moet jy dit dan op hulle webblad koop? As hulle wel e-boeke in die winkel self beskikbaar het, laai hulle dit dan sommer in die winkel af, of is dit op ‘n CD?

Wie ken die antwoorde? Wie kan help?

Dankie!
Toortsie

Lekker leesdag 79

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie se faceboekblad

Toortsie by Finesse: Net drie dinge kan jou hele lewensuitkyk verander