Reën-reën-waar-is-jy-woordsnoer

Die aarde smag na reën.

Afrika smag na reën.

Suid-Afrika smag na reën.

Mens en dier smag na reën.

Ons hoor die een noodkreet ná die ander.

Keer op keer is daar nóg ‘n reënseisoen verby sonder genoegsame reën.

Dorpe kry swaar.

Boere kry swaar, hulle vee vrek, hulle graan groei nie. Alles is asvaal. In eensaamheid verval hulle, asof hul paria is. Duskant moedverloor.

Geen oproerige gedans of gejuig nie, geen eteriese klank van reen wat giet op ‘n dak nie. Geen poeletjie water wat iewers glim nie.

Geen plantegroei wat ontwaak ná ‘n lieflike reënbui in die Karoo nie.

Slegs ‘n gewag.

Stede kry waterbeperkings in die uiterste graad. Hulle vrees Dag Zero. Die swembad, waarby voorheen gazanias geplant was, word nou die opgaarpunt vir gebruikwater.

Dit voel soms of die aarde in ‘n oorlog gewikkel is teen die natuur, terwyl die aarde deel is van die natuur. Impi.

Die wolke weier astrant om te kom.

Mense verloor moed.

Verloor hoop.

Soos ‘n hert in dorre streke, smag my siel na U, o God.

Tog bring God uitkoms. Tog stuur Hy reën. Kry daar dele in ons land tog reën. Gebeur daar wonderwerke.

My hart gaan uit na elke persoon wat geraak word deur hierdie uitmergelende droogte. Mag God gou uitkoms gee. Mag die reën kom. Mag hier fees gevier word in Suid-Afrika.

Daarom kan ek net, saam met elke boer, elke mens, bid vir Suid-Afrika, Vader, dat U ons genadig sal wees. Dat U vir ons land reën sal bring, want Here, ons het U nodig om ons harte skoon te was, maar ook die reën so bitter nodig dat ons kan lewe. Seën ons land, asseblief Here. Amen.

Het jy al ‘n boer sien dans in die reën? Het jy self al gedans in die reën? Ek het al.

Toortsie

Bloguitdaging van Lekkervurige Vuurvliegie. Volg die ander bloggers se woordsnoere hier: https://fresh.inlinkz.com/p/f64779e6a80c44bfb5baa671f2d5bcdf

Sutherland Save the Sheep Projek

Droogtehulp met Burre Burger

Boere in Nood

Skoenboks vir boervroue in die Karoo Projek

Toortsie se voelgoedstorie 24

Soos wat dit verskyn het op Finesse se Voelgoedblogs in Augustus 2016. Ek wéns vir so ‘n pannekoekbakdag! Ons het reën baie baie nodig.

Dis droog!

Iemand het my ‘n paar jaar gelede gevra of, sou my man my vra om permanent in die Klein Karoo te gaan woon, wat ek sou maak?

My antwoord was dat toe dat ek dit sou doen. Ek sal dalk mor en knor omdat ek nie meer so jonk is en lus is vir allerhande sports nie, maar op die ou end sal ek dit doen, bloot omdat ek met hom getroud is en by hom wil wees en mos maar saam met hom gaan waar die pad ons lei.

Maar hy moenie nou staan en idees kry nie, gehoor! 

So pendel ons nou al vir baie jare tussen die Overberg en die Klein Karoo, en ná al die skuiwe wat die afgelope paar maande plaasgevind het, sal die pendelry voortgaan, meer as ooit.

Mense, dis droog in die Klein Karoo. Kritiek droog. Ek praat soveel keer met my neef, dan sê hy hoe droog dit is, maar as jy hier kom, besef jy eers hóé verskriklik droog dit regtig is.

Dis besproeïngsgrond, maar geen water is in sig nie. Die damme en slote is leeg en droog. Lusernlande wat gewoonlik welig groen staan hierdie tyd van die jaar is bruin en droog.

So mense, ek vra julle mooi, tree asseblief in vir reën in die Klein Karoo.


Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Vriendinne

Toortsie by Pinterest