Hoekom doen ek sekere dinge? Nie omdat ek nie weet wat om met my tyd aan te vang nie. Of omdat ek oulik is. Of watter rede ookal nie.
Ek kyk na wat ek eet omdat ek vetsugtig (obese) was. Omdat my gesondheid daaronder gely het. Omdat ek gesien het hoe die skaal soos met ‘n hysbak net op en op gaan en ek niks kon doen om dit te keer nie. Omdat ek nie die selfbeheersing gehad het om weer eens by ‘n Weigh Less of Weight Watchers aan te sluit, vinnig ‘n klomp gewig te verloor en dit te behou nie. Omdat my suikervlakke gevaarlik hoog was en ek aan Metaboliese Sindroom gely het.
Hoekom skryf ek daaroor? Want ek is ‘n prater. ‘n Uitsaaier. Want deur daaroor te skryf en dit met die wêreld te deel, ek myself aanspreeklik hou, maar hopelik ook baie ander daardeur help.
Hoekom publiseer ek resepteboeke? Nie om geld daaruit te maak nie. Om die waarheid te sê, sodat ek self uit ‘n mooi en goed getoetsde resepteboek kan werk wat presies vir my dieet werk. En weer eens, sodat dit ook vir ander tot hulp kan wees.
Hoekom doen ek rugoefeninge? Beslis nie omdat ek graag wil nie, maar omdat, as ek dit nie doen nie, selfs pynpille later nie meer help nie. Rugpyn dwing my om my rug te oefen en my sterker te maak, eerder as om pynpille te drink, want as ek my rug oefen, hoef ek daardie dag nie pille te drink nie.
Hoekom lees ek my Bybel en bid ek? Spandeer ek tyd met God? Want ek kan nie anders nie. Hy is my Rots, my Anker, die Een by wie ek skuil. Die Een wat my kalmeer in rowwe tye. Die Een wat my vreugde deel, by wie ek krag kry.
Hoekom gaan stap ek graag? Natuurlik vir die oefeningwaarde daarvan, maar om in die natuur te kom is so goed vir enige persoon en stap is goeie oefening. Vroeërjare is daar neergesien op stap, ‘n mens moes eerder draf. Vir sommige mense, soos ek, is stap beter. En dis lekker. En jy voel so goed daarná. Tydens ‘n stapsessie orden ek my gedagtes, as so iets enigsins moontlik is. Kry ek nuwe idees. Perspektief.
Hoekom spaar ek? Want, in daardie uiters moeilike beginjare het ek besef dat dit die énigste manier is om my finansiële omstandighede beter te maak. Kon ek van die spaargeld gebruik om myself te verbeter op verskeie vlakke om my omstandighede te verbeter deur ‘n beter inkomste te genereer binne my milieu.
Die ding is – ‘n mens kan nie jou omstandighede verander as jy alles op dieselfde manier bly doen nie. Iewers moet ‘n mens waag buite jou gemaksone, dinge anders begin doen, selfs al is jy ál een.
Toortsie