Eksperiment 2 Sonoond

Ek vorder, ek vorder! En leer. Gister was nou weer ‘n eksperimentele dag.

Die son het sommer lekker geskyn en 10 vm het ek vir oondjie uitgesit met sy gesiggie na die son. Sommer gou het sy temperatuur mooi gelig.

In ‘n swart oondplaat het ek ‘n bevrore ribbetjie gesit. Jammer, ek weet nie al gisteraand dat ek vandag ribbetjie wil gaarmaak nie. Daarom bevrore. Met ‘n swart bakplaat bo-oor as deksel het dit sommer gou ontdooi en mooi begin aanloop.

Toe raak ek meer voortvarend en besluit om my groente ook in die oondjie te sit bo-op die rib met die wete dat dit dalk die rib stadiger laat gaarword. Dit was wel so.

By 1 nm rond was die groente gaar, maar die rib nog nie. Met die groente uitgehaal, sit ek toe nog ‘n varkfilet bo-op die rib.

Teen 4 nm het die oond sy hitte vinnig verloor en het ek alles uitgehaal. Rib was heerlik gaar, vark ook. Tog het die vark baie vog verloor – dalk was dit net te stadig? Ek weet nie.

Hierdie wonderlike webblad het my baie antwoorde gegee.

1) Swart bak met swart deksel is ‘n moet.

2) Son moet op deksel skyn – daarom het die rib soveel stadiger gekook.

3) Daar moet 5 cm spasie rondom die bak wees.

4) 120 grade Celsius is warm genoeg, ook omdat die son direk op die bak se deksel skyn.

5) ‘n Mens moet maar rustig wees en ekstra tyd toelaat.

6) 10 vm tot 2 nm is die beste tyd van die dag om te kook.

7) Jy kan die potte voorafverhit as jy haastig is.

8) Dit kook ook blykbaar vinniger as jy die bak effens lig met ‘n glasbak of iets.

Wel, my kos het alles lekker en gaar gekom ná ‘n dag in die son, alles kosse wat heelwat elektrisiteit sou gebruik om gaar te kom. My week se kos is gaar en reg! En ja, my reseppies kan sowaar in die sonoond gemaak word.

Toortsie

Toortsie se groente uit boek 1 in sonoond gemaak.

Wat maak jy met jou hande?

‘n Groot deel van enige verslawing, is die gewoontes wat daarmee saamkom. En om daardie verslawing af te leer, behels nie net die ontslae raak van die chemiese afhanklikheid daarvan nie, maar amper ‘n hele nuwe bestaan.

Soos byvoorbeeld, as jy jou alkoholverslawing wil oorkom, beïnvloed dit, behalwe die ‘ophou drink’, ook jou tydbesteding, die vriendekring waarin jy beweeg en vele ander goed. Skielik kan jy nie meer saans sit en drink nie en moet jy nuwe maniere kry om jou konstruktief besig te hou. Jy moet dalk nuwe vriende vind, want jou belangstellings het dalk ook nou verander en jy wil mos nie weer in dieselfde slaggat trap nie.

Destyds toe my man ophou rook het, was sy groot uitdaging: Wat maak hy nou met sy hande? Die hande wat die sigaret heeltyd na sy mond gebring het?

Sonder dat ek dit eers besef het, behels eetverslawing ook die bring van kos of drinkgoed na jou gesig en is dit ‘n lekkerte wat jy moet afleer as jy jou eetverslawing wil oorwin. Ek het nooit daaraan gedink nie! In die kursus wat ek tans doen oor eetverslawing, versugtigheid en diabetes het ek hierdie oulike raad geleer om permanent ‘n nuwe leefstyl aan te leer. Doen dit stap vir stap, nie alles op een slag nie.

1) Kry ‘n doel voor oë. Hoekom wil jy jou leefstyl verander?

2) Sluit alle koolhidrate uit alles wat jy drink. Drink slegs iets wat geen koolhidrate bevat nie.

3) Sny alles uit ‘waarop’ jy kos eet – die brood, die fyn aartappels, die chips, die rys. Eet die eiers, maalvleis, kaas sonder die styselbasis.

4) Moenie goed probeer vervang nie. Moet ook nie die namaaksels na die verbode item vernoem nie. Eerder fyn blomkool as blomkoolrys.

5) Sny alle stysel uit. Vrugte ook, behalve tamaties en avokado’s. Vrugte bevat regtig baie suiker en as jy reeds ‘n suiker- of vetsugtigheidsprobleem het ..,

6) Hou op snack tussen etes. Selfs nie eers koolhidraatvrye snacks nie.

7) Probeer slegs een of twee keer per dag eet. Eet wanneer jy honger is.

8) Vir die gewoonte, die hande … drink elke twintig minute een sluk koffie of tee. Water natuurlik ook!

9) Spandeer tyd met jou God en sorteer dit uit in jou hart wat jou pla.

Toortsie

‘n Menslike benadering

Sjoe, het ek nou Dr Robert Cywes, ‘n pediater as ek reg is, se praatjie ongelooflik geniet en baat daarby gevind! Dit is deel van die Nutrition Network Advisor Training kursus wat ek tans doen wat grotendeels handel oor diabetes en vetsugtigheid. Hy het vetsugtigheid en insulienweerstandigheid en alles wat daarmee saamgaan, nagevors. Ek hou veral van die menslike manier waarop hy die kursus aanbied. Jy weet, dit is nogal iets wat ek die hele kursus ervaar: menslikheid. Geen Banting Polisie wat jou die hele tyd in ‘n blik wil druk nie. Eerder deernisvolle mense wat jou graag wil help.

Nadat hy verduidelik het hoe diabetes en vetsugtigheid vorm en al die belangrike feite daaromtrent genoem het, gaan haal hy die vetsugtigheidprobleem op ‘n heel ander plek: By ons emosionele status. En ja, dit verstaan ek baie goed. Want ek was nog my hele lewe lank ‘n emosionele eter. Ek eet as ek bly is. En as ek hartseer is. Of as ek opgewonde is. Of kwaad is. In my hele lewe was ek nog net twee keer sonder eetlus en dit was toe my pa die gat in sy slukderm gekry het en my broer die gif gedrink het. Nie eers Covid kon my eetlus of smaak by my steel nie.

Ek hou van die manier wat hy vetsugtige mense hanteer. Dat die persoon eers die probleem moet eien. En dat hy nie verwag dat ‘n mens oornag sommer alles sal reg doen nie. Nadat jy jou probleem verstaan en geëien het, is die eerste stap om seker te maak dat jy niks in jou mond druk wat koolhidrate bevat nie. Een stap op ‘n slag. Hy kyk na hoe gereeld jy iets in jou mond druk, maar veral die emosionele waarde daarvan. En hy hanteer dit nie as ‘n dieet nie, maar as ‘n leefstylverandering wat stappie vir stappie gebeur. Remove and replace. Remove and replace.

Maar veral ook sy gedagtes rondom emosies het so in my kraal geval. Hoekom eet jy? Hoe voel jy? Dat jy jou emosies op die naam noem (soos ons in TPM doen). Dat jy iewers in ‘n dag mediteer of bid. Stil word. Dat jy jou ‘issues’ sal hanteer. Ook goed doen wat lekker is. Goed doen wat jou TROTS laat voel. Stadig maar seker aktiwiteit begin insluit in jou program. Jou emosies voed. En gevoelswaarde het, empatie, sagwees vir ander en jouself.

Toortsie

Intermittent Fasting/Banting vordering

Ek wil optimisties begin sê: Dit lyk my ek begin kry die Intermittent Fasting onder beheer. Ek doen mos darem al vir meer as 7 jaar Banting, soos almal weet, maar kombineer dit nou met Intermittent Fasting.

Hoekom Intermittent Fasting?

Omdat ek Pre-diabetes was en Metaboliese sindroom gehad het, wat ek alreeds kon omswaai danksy Banting … maar pre-diabetes beteken ook dat ek insulienweerstandig was en as ek nie my hand daarop hou nie, kan dit weer sy kop uitsteek. Daarom is dit uiters belangrik dat ek in die eerste plek koolhidrate tot ‘n minimum beperk. Want koolhidrate veroorsaak ‘n groter afskeiding van insulien. En as jy te veel en te gereeld insulien afskei raak jou liggaam insulienweerstandig. En as jy insulienweerstandig is neem jou selle nie die insulien op wat hy nodig het om die suikers in die bloed te verwerk nie en kry jy suikersiekte. Wat meer insulien vra. Wat jou meer laat eet. Wat jou selle nie opneem nie omdat jy insulienweerstandig is. Wat maak dat jy insulienaanvullings moet kry.

Nou ja, my vastende suikervlakke was destyds .1 (punt een) onder diabetes. NET PUNT EEN SUIKER MEER IN MY BLOED HET BETEKEN DAT EK ‘N DIABEET SOU WEES! Die Here het my beskerm. Ek het soveel waarskuwings gekry wat ek nie besef het nie. Selfs nie daardie tyd hoe ‘n verskriklike siekte diabetes is nie … mense raak blind daarvan, verloor ledemate … dis een van die top 5 indien nie top 3 gevaarlikste siektes in die wêreld.

So, my Banting het beslis gehelp dat my pre-diabetes en metabolises sindroom omgeswaai is.

Maar ek is steeds ‘n weidier wat heeldag loop en knaag en die gevaar daarin lê steeds dat dit te gereelde insulienafskeidings kan veroorsaak.

Daarom probeer ek nou slegs twee keer op ‘n dag eet met my eerste ete middagete en dan saans aandete. Beide redelike groot borde kos. En ek drink die hele oggend baie water en tee sonder melk of suiker om my te help.

Dit gaan al baie beter. Ek word nie meer regtig honger nie. Ja, my lyf vra nog vir kos en ek moet maar nog wakker wees om nie onbewustelik iets in my mond te druk nie. Tog lyk dit of daar lig in die tonnel is. En natuurlik, Bantingkos hou jou beslis langer versadig. Beslis LowGI, Glutenvry, wat is al die ander buzzwords? Die ding is, geen verandering is maklik nie, ‘n mens moet net begin. Een treetjie op ‘n slag. Een dag op ‘n slag. En as jy val, staan net weer op en beur vorentoe.

Toortsie

So, wat is volgende?

Wel, tot op hede het die volgende items alles gebeur die afgelope vier jaar:

Toortsie 3 Skedule (Sedert 2017):

1. Verwerk en toets van resepte, rofwerk resepte, resepte oor en nogmaals oormaak en oorskryf en tik in rekenaar.  – AFGEHANDEL

2. Resepte tik op rekenaar, druk. – AFGEHANDEL

3. Kosmaak van gedrukte kopié, foute regmaak. – AFGEHANDEL

4. Proeflees deur koskenner. – AFGEHANDEL

5. Foto’s en weer eens resepte toets. – AFGEHANDEL.

6. Resepte waar onsekerheid is, verander en weer eens toets. – AFGEHANDEL.

7. Alle foute regstel op rekenaar. – AFGEHANDEL.

8. Foto’s merk met resepname, verseker dat elke resep ‘n foto het, elke foto ‘n naam. – AFGEHANDEL.

9. Alle ander aantekeninge, ens wat nog in die boek moet kom, skryf. – AFGEHANDEL.

10. Konsepboek ingestuur vir proeflees. – AFGEHANDEL

11. Voorblad kies – wat ‘n storie! – AFGEHANDEL

12. Eerste proefleesresultaat terugontvang, voorstelle deurgegaan, weer geproeflees, terug ontvang. – AFGEHANDEL.

13. Alles nog ‘n keer deurgaan en verseker dat daar nie iewers iets met ‘n hoeveelheid of bestanddeel of metode verlore gegaan het nie. – AFGEHANDEL

14. Teks stuur vir die uiteensetting van die boek. – AFGEHANDEL

15. Uiteensetting saam met haar deurgaan. – AFGEHANDEL

16. Boek terugkry, dit weer eens woord vir woord deurgaan om te soek vir moontlike foute wat deurgeglip het. – AFGEHANDEL. Weer eens en weer eens en weer eens woord vir woord deurgegaan, drukkersduiwelfoute reggestel. AFGEHANDEL.

…………………………………..

17. Finale boek na drukkers stuur.

18. Proefkopié ontvang, deurgaan en goedkeur.

19. Die finale druk! 

20. Die groot bemarkingstorie. Want ‘n mens koop ‘n boek net een keer, dan het hy hom. Nie elke maand weer een nie, tensy hy vir iemand anders ook die boek wil koop.

Ja! Ek is nou daar wat ek wag vir verskillende drukkers om vir my kwotasies te stuur. Die bladuitleg is klaar. Alles is klaar. Dis berge oor tot hier, maar hier is ons nou! En ek is opgewonde, want dit gaan mooi mooi mooi wees.

Toortsie 3, is dit nie? Lekker kos vir Banting, Keto, Intermittent fasting, diabete en sommer vir almal wat hou van lekker eet.

Groete

Toortsie