Tannie Hilda

Daar in die demensieafdeling is ‘n tannie, sy het ‘n ander naam, maar om haar identiteit te beskerm, noem ek haar tannie Hilda. Ek is mal oor haar.

Die eerste oomblik toe ons mekaar sien, staan sy op, haar gesiggie straal van vreugde. ‘Sjoe, maar jy is mooi! Jy is pragtig.’ So praat sy aanmekaar en gou-gou het ek besef alles maak nie sin wat sy sê nie, maar dit maak ook glad nie saak nie. Ons speel sommer saam en daar waar sy gaan met haar geselsies, daar gaan ons saam. ‘Hier is ons almal net lief vir mekaar’, vertel sy opgewonde.

Hoekom ek van tannie Hilda vertel? Ek sou haar darem graag as jonger vrou wou ken, ek dink sy was ‘n fees, ‘n bolletjie energie, iemand wat mense oplig. En dís wat vir my wonderlik is, dat die demensiesiekte wat soveel van ‘n mens steel, nog nie haar vrolike en positiewe gees gesteel het nie.

Ek glo met my hele hart dat dit vir die verpleegsters en ander personeel wat daar werk, lekker is om met haar te werk. Selfs nou nog versprei sy positiewe energie waar sy gaan.

Niemand weet wat vir ons voorlê nie, watter pad ons nog moet loop nie. Ek weet ook nie of dit dalk my voorland is nie. Al wat ek kan vra is dat ek ook soos tannie Hilda, enduit positiewe energie sal versprei en mense om my sal opbou. Soos sy steeds doen, want dit is in haar natuur.

Tannie Hilda, ek salueer vir tannie!

Toortsie

Advertisements