Jetpack vra: What is the legacy you want to leave behind?
Watter nalatenskap wil ek agterlaat? Hoe wil ek hê my mense moet my onthou? Watter monumente het ek in my lewe gebou? Wat ‘n vraag!
Wel, my een groot nalatenskap is sekerlik my kinders en kleinkinders. En ja, ek ís trots op hulle. Ek is ook dankbaar vir hulle. En dankbaar vir my Here vir hulle. Hulle doen hulle ding, is selfstandig. Baie genade van die Here.
Mag my grootste nalatenskap wees dat ek die Here ken. Dat ek ‘n lewende verhouding met die Lewende God het. Mag dit sigbaar wees in my alledaagse lewe. Mag dit straal uit my wese, my oë. Ek skryf dit nou hier en ek is nie sommer skaam om my geloof te bely nie, maar mag dit sigbaar wees selfs al sê ek niks. Mag juis dít ander aanspoor om dit ook te soek.
En ná die vorige paragraaf, tel al die ander duisende goetertjies waarmee ek vroetel, al die kreatiwiteit, al my werk wat ek vir ons boerdery gedoen het, die speel met die plaaswerkers se kinders, die kosboeke, die musiek, eintlik niks.
Die Goue Vroue is ‘n groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Kliek op die volgende link as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…
Dankie Lolla vir hierdie lieflike foto wat jy van my geneem het!
Ek speel die traporrel dat hy so dreun. Die Mendelssohn. Al die orrel se knoppe is uitgetrek om maksimum klank te verskaf. Met my knieë druk ek die twee houte onder die klawerbord wyd oop sodat daar ook meer klank kan uitkom. As ek nou op my eie elektroniese kerkorrel kon speel, sou ek sommer TUTTI gedruk het en albei die volumepedale plat getrap het terwyl die ander volumeknoppie op 16 gestel sou wees. Ek is darem bly dat oom Jan-hulle die ou traporreltjie saamgebring het uit Holland, want hoe kan ‘n mens nou troue hou sonder ‘n orrel en die troumars? Jaaaa, ek weet! Dis 26 April 1664 en Mendelssohn het die troumars eers in 1842 geskryf, maar ek het die troumars al vir jaaare in my kop en ek dateer mos nie uit die 1600’s nie!
Ons hou troue! Pieter van Meerhof trou met Eva Krotoa en ons woon die troue by! Ons almal het mos destyds vir Pieternella van die Kaap gelees en wie sou nou ooit kon raai dat ons haar ouers se troue sou bywoon? Dis ‘n gesellige besigheid. Hy, Pieter van Meerhof, is ‘n avonturier, ‘n toeris en ook nog ‘n chirurg. Hoe hy van die Goue Vroue gehoor het, weet ek nie, maar toe hy van ons avonture hoor, was hy begeesterd. Ek dink dat hy van VirgoC se mediese kennis te hore gekom het. Ons moes net troue toe kom! Dit was so hittete of ons het die troue gemis! Dis net ‘n vloekskoot dat Positief daardie soldaat kon oortuig dat oom Jan ons gestuur het om die eland te jag, anders weet ek nie. Dit sou Donkergat toe wees met ons, al het die Donkergat nog nie eers toe bestaan nie! En ek hou niks van donker gate nie! Dis vreesaanjaend!
Maar dat hier vanaand ‘n heerlike makietie in die Fort is, is nie altemit nie! Al die hogeres van die Kaap is vanaand hier, uitgedos in tabberts wat hulle nog uit Holland saamgebring het. Selfs oom Jan en tannie Maria (of is dit nou Kommandoor of Goewerneur Jan van Riebeeck?) het met ons kom gesels. Hy het vreeslik uitgevra oor ons en ek kon aan sy oë sien dat hy nie heeltemal verstaan hoe ons besigheid werk nie. Dat ons Goue Vroue is wat mekaar in ‘n plek soos ‘blogland’ ontmoet het en dat baie van ons mekaar nog nie eers in lewende lywe ontmoet het nie. Christa hét probeer verduidelik hoe dit werk, maar sy oë het maar baie glaserig gelyk. Ek kry die gevoel dat hy vanaand nog sy wêreldkaart gaan nader trek en met kerslig en al na hierdie onbekende land gaan soek. In al sy omswerwinge vir die HOIK het hy nog nooit van híérdie plek gehoor nie. Tannie Maria was ook geïnteresseerd, want al was ons reg aangetrek en het ons ons respektabel gedra soos dit hoort, kon sy in ons oë ‘n lig sien skyn wat sy nie ken nie. ‘n Mens kan dit ook verstaan, want wat sal sy nou weet van bevryde vroue of vrouens wat geliberaliseerd is? Sy en Appeltjie het tog te lekker gesels. ‘n Mens wil amper sê dat hulle gekliek het. So asof, sou sy in vandag se tye geleef het, sy dalk sou kon inskakel tussen die Goue Vroue. Sy het immers darem self ook al ‘n avontuur of drie beleef. Dis nie elke vrou wat sommer al haar goedjies sal inpak en in ‘n ou bootjie amper om die wêreld vaar nie! Die see is juis so rof en daar is te veel mense wat sterf as gevolg van skeurbuik. Dis tog hoekom die HOIK besluit het om die handelstasie hier by die Kaap te begin.
Die kos is heerlik. Die heerlikste, fynste kos word bedien. Die mans speel biljart. Sonell was die meisie van die aand, the bell of the ball. Sy het amper die bruid oorskadu, as sy sou kon. Maar dit is darem ook nie haar manier van doen nie. Dat die jongmanne mal was oor haar, kan ons nie ontken nie. Haar dansprogram was volbespreek vir die hele aand! Lollos en Ekmyselff het self ook baie dansmaats gehad.
Behalwe natuurlik die regte klassieke danse, is daar sowaar ‘n klomp slawe gereël om, tot groot vermaak van die gaste, die Ikhapara (Riel) te kom dans. Ons verkyk ons aan die energieke pas wat die dans gedoen word en veral die voetwerk is uitstekend. Daar word behoorlik stof uitgedans! Una moet haar omtrent inhou om nie te loop saam dans nie. Sy het juis die aand van haar sestigste verjaarsdag Jerusalema so uit haar hart uit gedans.
Toe die partytjie einde se kant toe staan, wys Trommeltjie vir ons dat dit tyd is om te gaan slaap. Ons slaap mos almal in die groot eetkamer op ‘n kermisbed. Ons groet, ons harte sing. Wat ‘n heerlike aand!
Dis tóé wat die hele garnisoen soldate ons inwag. Ons is ietwat kriewelrig, maar WoordNoot fluister net saggies: “Rustig wees, dames, rustig wees.”
“Dis hulle!”, wys ‘n man met sy voorvinger na ons. Ja! Dis húlle wat die orde hier aan die Kaap wil kom versteur! Hy wys kwaad na my en Positief. “Dis húlle wat onwettig elande jag en probeer voorgee het dat Goewerneur Jan die opdrag daartoe gegee het!”
“Ja!”, sê die een langs hom. “En dit met ‘n GESTEELDE PANGEWEER!”
‘n Ander een staan woedend vorentoe en wys na Frannie en Scrapydo. “En húlle is die dames wat so onkuis met klere omgaan wat ‘n mens nie eers noem nie! Hierdie een”, en hy wys na Scrapydo, “het daardie onnoembare vroulike kledingstuk sommer by die venster uitgegooi en daardie een (Frannie) het dit durf waag om haar een aan ‘n lamppaal op te hang! Dis onsedelik!”
‘n Vierde soldaat swaai sy vinger na Aalsie: “Daardie dame het haar kom mannetjiesagtig gedra en het mansklere… ” Hoes …. hoes … hoes. Hy hyg behoorlik na sy asem. “Sy het MANSKLERE aangetrek en daarmee in die tuin gewerk! Dis ondenkbaar! Hulle wil hulle hier kom staan en stuitig hou!”
Kwaad wys ‘n vyfde soldaat na Kameel: “Dis die dame wat vir Renier Boom verlei het terwyl hy reeds op troue staan met MY DOGTER! Sulke dinge kan níé hier toegelaat word nie! Die Kaap is ‘n ordéntlike plek!”
“En asof dit nie genoeg is nie”, sê nog ‘n soldaat, “het hulle die hele klop wagte die skrik op die lyf gejaag toe hulle in die begraafplaas gemaak het of hulle SPOKE is!” Hy wys na Seegogga. “Hierdie een! Ja hierdie een! Sy was die voorspook!”
“Vang hulle almal! Arresteer hulle! Hulle is almal kop in een mus en as hulle nie alreeds moeilikheid gemaak het nie, kan ons weet dat hulle dit nog sál doen! En as die ander vroue hier aan die Kaap al hierdie dinge moet hoor, sal hulle die Kaap onregeerbaar maak!”, skree die een in bevel.
Tannie Frannie! Jy sal moet HELP! En GOU OOK! Ons is in DIE MOEILIKHEID!