Skryf ‘n opstel: Covid 19

Skryf ‘n opstel oor die pandemie.

Hierdie onderwerp kan jy op verskillende maniere benader. Ek vra vrae om jou gedagtes te stimuleer en jy formuleer die antwoorde in jou kop en skryf dit neer. Nie soos in antwoorde nie, maar maak jou antwoorde dit waaroor jy skryf. Maak dit jou eie. Onthou, behalwe as jy regtige feite noem, wat korrek moet wees, jou belewing van die virus joune is. Uniek. Niemand kan dit van jou wegneem nie en jy kan daar eerlik skryf hoe jy daaroor voel.

  1. 1.) Jy kan net ‘n reguit feite-opstel skryf waarin jy dít wat jy oor die virus beskryf. Waar is die eerste pasiënte wat hierdie virus onder lede het, aangeteken, nl die dorpie Wuhan in China, in Desember 2019.
  2. Jy kan ook noem dat dit baie vinnig wêreldwyd versprei het. Dit word van persoon tot persoon oorgedra en dat mense wat van een land na ‘n ander gereis het, dit versprei het na meer lande.
  3. Ook dat daar nou al verskillende variante van die virus is. Dat verskillende mense verskillend daarop reageer.
  4. Die inperking en hoe dit die land en die ekonomie wêreldwyd raak.
  5. Hongersnood en soveel mense sonder inkomste.
  6. 2) Ek wil jou aanraai om dalk eerder juis dít te skryf wat niemand anders gaan skryf nie. Skryf oor hoe die virus vir jóú beïnvloed het.
  7. Is daar enige van jou familielede wat siek geword het? Is daar selfs sterftes onder mense wat jy ken?
  8. Hoe het die inperking jou skoolbywoning geraak? Kon jy gemaklik aanpas by die nuwe reëlings, of was dit vir jou super-ontwrigtend? Wat is vir jou sleg van die hele ding?
  9. Kon jou ouers van die huis af werk? Kon hulle enigsins werk?
  10. Het julle gesin dalk by een of ander diensorganisasie betrokke geraak, soos byvoorbeeld ‘n sopkombuis? Het jy help kos uitdeel en hoe het dit jou geraak? Jou menswees geraak?
  11. Is jy bang? Waarvoor is jy bang? Dat jy doodgaan? Siek word? Dat julle as gesin dit tans nie maak nie en is jy bang dat julle nie kos in die huis sal hê nie? Beskryf jou vrese.
  12. Hoe voel jy oor die virus? Voel jy daar word genoeg gedoen om die verspreiding daarvan te keer? Of voel jy dit is sommer niks en dat die owerhede oorreageer?
  13. Wat doen jy en julle gesin om te verhoed dat julle siek word?
  14. Is daar iets spesiaals wat jy of julle gesin in hierdie tyd gedoen het om die inperking te vergemaklik? Het julle iets nuuts aangepak? Selfs ‘n nuwe manier om die alledaagse dinge te doen, aangeleer?
  15. Was die inperking en dit wat daarmee gepaard gaan, vir julle selfs goed? Het dit gelei tot nuwe geleenthede? Vertel daarvan?

Alhoewel jy nie my ervaring net so mag oorskryf nie, kan jy dalk as agtergrond lees hoe ek, Toortsie die virus ervaar het:

  1. a) So het ek dit opgedoen
  2. b) Die sleg van die siekte, hoe ek dit ervaar het. (Jy moenie so lelik praat nie, hoor!)
  3. c) Wat vir my gewerk het om die siekte te beveg.

Die heel belangrikste van alles bly:
Jy moet jou opstel SELF skryf. Jou EIE opstel. Dit maak nie saak as daar foute in is nie, dit is hoe jy leer om dit te doen. En geniet dit. Wees trots op dit wat jy skryf en doen.

Groete

Toortsie

Vir nog opstel- en mondelinghulp, kliek HIER.

Net ‘n dankie

Ek lees verskillende mense se ervarings van covid, maar ook hoe hulle deur ander mense hanteer is. Ek? Ek kan net dankie sê.

Ek wil graag getuig dat die gemeenskap my regtig ondersteun het, gedra het, vir my gebid het toe ek en my man nou so siek was. Hulle het vir my kruideniersware gebring, aangemoedig. Die whattsappgroepe waarvan ek deel is, het moeite gedoen om my te bemoedig. Die VLV se Amigo’s, die Goue Vroue, ons bybelstudiegroepe, familiegroepe. Ds Braam. Ons bure was fantasties. Bredasdorp, ek is dankbaar en trots. Blogmaats.

Gister stap ek die eerste keer versigtig die groentewinkel binne. Steeds bang ek maak dalk iemand siek selfs al is dit al amper drie weke sedert ek geinfekteer is en regtig nie meer aansteeklik moet wees nie. Dadelik kom ‘n vrou na my en vra vriendelik of ek gesond is en hoe dit gaan, nie bang dat die kiem na haar oorspring nie. My bure whattsapp en gesels met my oor die heining. Mense wat verbyry en my in die kombuis sien staan, stop, hoet, val omtrent uit die voertuig uit om vir my te waai en te wys: ‘So bly jy is weer op die been!’

As ek stap sal iemand ook stop en vra hoe dit gaan.

Ek woon in ‘n wonderlike gemeenskap. Ek woon in ‘n wonderlike wêreld met wonderlike mense. In utopia, as jy my vra, met wonderlike mense wat lief en goed is vir my en ‘n God wat my dra. Wat meer het ek nodig?

Toortsie

https://soundcloud.app.goo.gl/q95DFhcwVc7o24gH6

Wat my help met covid – prakties

Ek is jammer dat ek julle so verpes met Covid en as julle nie wil lees nie neem ek julle nie kwalik nie. Die doel van hierdie skrywe is om dalk vir iemand anders te help wat deur dieselfde simptome as ek gaan.

Eerstens wil ek sê dat ek besig is met Geestelike Oorlogvoering in hierdie huis in ‘n erge graad. As Gesalfde van die Here, as ouderling in Sy Koninkryk, wat ek oor jare verkry het in diens van Hom, nee, nie ouderling in my kerk nie, ouderling in Sy Koninkryk, het ek die outoriteit om dit te doen. Hy het dit vir my gegee. Hy sê in Sy woord wat ek oopsluit sal oopgesluit bly, en wat ek toesluit sal toegesluit bly. Hy sê as ek die satan weerstaan, móét hy luister. Met Christelike gesag as profeet kan ek met oortuiging sê dat hierdie covidgemors van die duiwel is. Daarom beveg ek hom nie net liggaamlik nie, maar geestelik ook. En ek loof en dank God dat Hy my gekies het om deur hierdie siekte, Sy mag, Sy krag, Sy almag te demonstreer. Ek loof Hom vir mense vanoor die hele wêreld wat vir my bid en waarvan ek die krag sonder twyfel voel. So, wat help vir my? My God.

Maar kom ons raak prakties.

Dit is mos so dat hier duisende video’s die rondte doen. Kyk maar na hulle selfs al irriteer dit jou. Berei jouself voor.

  1. Beweeg. Dit was dr Annelie van Struisbaai se raad, oor en oor. Beweeg. As jou liggaam jou toelaat, beweeg. Dit stoot die suurstofvlakke beslis op. Dit bring verligting. Dankie dr Annelie vir jou liefdevolle sorg toe die krisis op die hoogste was, terwyl jy my eintlik van geen kant af ken nie. Jy is kosbaar.
  2. Stoom jouself met kookwater en ‘n handdoek oor jou kop. Sommer as jy vermoed jy dit mag hê. Keer daai kiem betyds.
  3. Nebuliseer. As ek in die oggend opstaan en alles in my liggaam is ontsteld en my hart klop en ek is uitasem, bring dit kalmte.
  4. Haal diep asem. So diep soos jy kan, want dit is seer. En doen longoefeninge. Dankie VirgoC vir jou onuitputlike bron van kennis en liefdevolle raad. Jy het nie ‘n idee hoe ek op jou raad gesteun het nie, veral in daardie opboutyd.
  5. Longoefeninge – Kyk daai videos. Blaas met Seegogga se bamboesstrooitjie in ‘n beker water. Uit, uit uit, en waag dit dan om diep, diep, diep asem te haal tot die hoes jou oorval, hoes, hoes, hoes, vee die sweet af en blaas weer. En Virgo het gesê ek mag haar sulke tye maar slegsê, maar ek belowe, ek het nog nie. Om nie jou longkapasiteit te verloor nie. Dankie, dr Anel Keuck Rademeyer, vir jou ekstra bietjie aanmoediging hierin.
  6. My man se liefdevolle sorg. Hy maak virmy kos. Hy vryf my in met Vics. Hy slaan my opp die rug as die slym vassit en ek nie meer kan hoes nie. Hy gee my fisio op my rug, kap, kap, kap, kap sodat dit kan loskom. Dankie dr de Kock van Struisbaai vir hierdie raad. Dokter het dit twee keer gesê en ek het nie gereageer nie, maar ek het gehoor. Dit verrig wondere.
  7. Vloek daai virus. Skel hom. Sê hom sleg. Wys hom hy kry jou nie onder nie. Skryf daaroor. Bid. Soek hulp by jou vriende. Doen dit op die manier wat vir jou werk, wat vir jou moed gee. Ek is ‘n uitsaaier, so die hele wêreld het onmiddellik geweet. Jy doen dit dalk anders, dis ook reg. Op jou manier, maar beveg hom met alles in jou. Moenie vir hom outoriteit gee nie.
  8. Stort. en nog ‘n keer en nog ‘n keer. Hoeveel keer op ‘n dag. Stort, trek vir jou droog aan. Julle wil nie weet by outfit nommer hoeveel ek al vir vandag trek nie. Jy is net skoon en droog aangetrek, dan is die nuwe stortvloed sweet weer daar.
  9. Lê op jou maag. As al die ander misluk, dit werk. En ja, ek kan nie meer regtig op my maag lê nie, ek het ‘n nekbesering en swak rug. Ek lê sommer so dwars oor die bed met my voete wat eenkan afhang en my kop aan die ander kant. Dit bring geweldige kalmte in my longe. Dan rus ek behoorlik.
  10. Rus. Saam met die beweeg, rus. Slaap as jou liggaam daarvoor vra.
  11. Sonlig. Die son kom nou vir die eerste keer uit, so ek kan nou nog nie getuig dat ek dit gedoen het nie, maar, sonstoep, hier kom ek.
  12. Vriende wat vir my goedjies van die winkel af saambring en dit dan voor my hekkie neersit, nes hulle met die melaatses in die ou dae gedoen het. Dankie Christal. Dankie liefste Seegogga, dis nie die eerste keer wat jy my help nie. Jy is vir my kosbaar.
  13. Die liefde en ondersteuning van elke blogmaat, ek kan nie julle almal nou hier noem nie, elke faceboekvriend, whattsappvriend. Julle aanmoediging doen presies wat dit sê: dit moedig aan.
  14. Staan op jou knieë met jou kop so tussen jou arms terwyl jy hoes. Dankie Perdebytjie, jou video het my gered. Die slym sit soms vas daar waar dit nie moet nie, dit moet uit, maar jy kry dit nie uit nie. Jy moet hoes maar het nie krag nie. Soek daai video, ek kan dit ongelukkig nie hier post nie. Die prentjie is van ‘n man wat so op sy knieë staan. As jy dit nodig het en nie kan kry nie, inboks my op my Faceboek of kry op ‘n manier by my jou Whattsappnommer dat ek dit kan aanstuur.
  15. Ek neem my medikasie soos die dokter sê. Vitamienes, wat ook alles. Ek neem my suurstof gereeld en stuur die lesing deur aan die dokter, ‘n paar keer op ‘n dag. Kortisoon. Dankie dr Erna Visser van Bredaadorp. Dankie vir jou omgee jou liefde jou bel om te hoor hoe dit gaan.

Julle, my vermislagie is mos maar baie min. Covid het dit hou heeltemal afgeskuur. Ek is my ou, reguit self. Vreesloos. Want die bietjie vrees wat ek nog oorgehad het, is nou ook afgeskuur, ek was darem te naby aan die dal van doodskaduwee. Bly veilig, pas jouself mooi op. Neem die vaksien wanneer dit beskikbaar raak. Doen wat die slim mense sê om te doen. Beveg die duiwel met alles in jou. Maar die heel belangrikste, maak seker waar jy staan met God. Die Woord sê dat ons nie hom moet vrees wat ons kan doodmaak nie, maar Hom wat oor ons gees moet besluit. Dis nie bangmaak waarmee ek besig is nie. Maak reg met God terwyl jy nog die kans het. Daardie kans kan vinniger van jou af weggeneem word as wat jy dink en as jy jou keuse gemaak het, is die wonder dat jy regtig niks hoef te vrees nie, ook nie ‘n simpel virus wat dink dat hy die wêreld in sy mag het nie.

Toortsie