Dis weer sulke tyd!

Dis weer tyd vir Capital Singers! Yesssss! En ek gaan, as alles goed gaan, 1-5 Mei vanjaar saam met hulle sing!

Capital Singers is ‘n massakoor wat drie keer per jaar in Pretoria optree. Hulle word begelei deur ‘n simfonie orkes. Ons kry die musiek sowat ‘n maand voor die tyd en elkeen oefen op hul eie by die huis. Ons kom drie dae voor die tyd bymekaar wat ons vir ‘n vale oefen, om ‘n absoluut professionele produksie staan te maak.

In die verlede het hulle in die Staatsteater gesing, maar hulle het die tent groter gemaak om ‘n groter koor en natuurlik ook groter gehoor te kan akkommodeer en sing deesdae in die Sun Arena by Time Square, Pretoria.

Woon jy in Pretoria of omgewing? Het jy al ooit ‘n Capital Singers Produksie gaan kyk? Doen jouself ‘n reuse guns en gaan kyk vir hulle op Saterdag 4 Mei of Sondag 5 Mei. Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees nie. Bespreek by Computicket.

Die gaskunstenaars is Joseph Clark, Elvis Blue en Vicky Sampson. Ons sing die goed uit die sewentiger- en tagtigerjare, die musiek van my jongweesdqe. Queen. Abba. …

Wil jy hoor hoe hulle sing? Op hierdie video is die koor nog 650 stemme groot. Mei vanjaar gaan hulle meer as 1000 lede hê! Woehooe!

Intussen het ons sangers reeds die musiek ontvang en is ons almal hard aan die oefen om van Mei se Capital Singers weer eens ‘n massiewe sukses te maak.

Kom kyk vir ons!

Groete

Toortsie

Planne

Vir party mense kan dit angswekkend klink, vir my gee dit ‘n gevoel van rustigheid in my hart: Baie van my planne realiseer nie, maar dis heeltemal reg met my, want ek hét so baie planne!

My kop werk heeldag en aldag oortyd en dan het ek dié plan en dan het ek dáárdie plan en BAIE van hulle realiseer nie. Genadiglik nie! En terwyl ek hard werk aan hierdie plan, kom daar ‘n buiteperdplan verby en dan gebeur dit sommer!

Wat vir my angstig maak, is as die planne opraak, as daar nie ‘n toekomsvisie is nie.

Daar is mos die spreekwoord, ‘n boer maak ‘n plan, en dit is baie waar. Wat uiters gevaarlik is, is as ‘n boer se planne opraak. En met hierdie boervrou is dit net so: Solank daar nog nuwe planne gemaak kan word, is die Kaap Hollands, maar as Toortsie haar teen ‘n muur vasloop en daar geen planne te maak is nie … angswekkend!

So beplan ek baie dinge waarvan ‘n groot deel nie realiseer nie, maar ook baie realiseer en dit hang van jou persoonlikheid af oor hoe jy daaroor voel: Gaan jy konsentreer op almal wat nie realiseer nie, of gaan jy fokus op hulle wat wél realiseer? Gaan jy sê, ag wat, dis weer een van Toortsie se mal planne, daar gaan niks van kom nie, of gaan jy eerder dink om te wag en sien en dan verras Toortsie jou met iets heeltemal anders?

My kop is nou op 2019 en ek het ‘n hele paar gróót planne, en wie weet, net dalkies gebeur één van hulle, of nie:

  1. Die Camino roep my. Hy roep my al baie jare. Soms is hy stiller as ander tye, maar op die oomblik is sy stem nogals hard en duidelik. So, Toortsie lees en lees en maak planne. Wanneer? Hoe lank? Van waar tot waar? Ek lees ernstig aan Erns Grundling se boek, Elders, en sommer ook aan Ewald Schmidt se blog toe hy destyds die Camino gestap het en dan is daar hier en daar ‘n bietjie aanvoorwerkies ook.
  2. Toortsie moet haar resepte orden en begin werk aan ‘n moontlike boek 3. Wanneer? Hoe? Of? Die tyd sal leer.
  3. Ek sal baie graag een keer in 2019 wil deelneem aan Capital Singers. Maar as ek die Camino gaan stap, gaan ek dalk nie dit ook kan doen nie.

Drie groot dinge, en ‘n baie besliste vierde wat ek nie nou gaan noem nie, maar almal van hulle vra baie tyd, baie voorbereiding, en my normale lewe gaan mos steeds aan. Intussen is daar ‘n paar goed om oor opgewonde te wees, ‘n vooruitsig, of dit realiseer of nie. 🙂

Toortsie