Bybelstudiegroepe

Ja, ek het op skool aan bybelstudiegroepe behoort. Om die waarheid te sê het ons in Standerd 5 reeds aan die ACVV behoort omdat daar so ‘n oulike onderwyseres in die koshuis was wat gevoel het dat ons Standerd 5’s maar ook ‘n groep mag hê. En op Universiteit het ek altyd aan ACVV kringe behoort.

In 1992 bel ‘n buurvrou op die plaas vir my. Hulle wil ‘n groep behoort en stel ek en my man belang daarin om deel te neem. Ja ek stel belang, maar in my agterkop weet ek nie of my man sal wil nie. By etenstyd sê hy dat hulle hom ook gekontak het en ja, ons moet ook deel wees van daardie groep. Dit was nadat Ds Stan daardie Pinkstertyd bidure by ons plaaswyk gehou het en bybelstudiegroepe wat deur die lede self bedryf word in plaas van die predikant, aangemoedig. Daardie tyd was hier ‘n baie groot beweging van bybelstudiegroepe op ons dorp.

Maandagaand vir Maandagaand het ons groep bymekaargekom. Deur die jaar, maar nie tydens skoolvakansies nie. Ons het beurte gemaak van huis tot huis en die een by wie dit was, het dit ook sommer aangebied. Ons het gesing, bybelstudie gehou en gekuier tot laataand. Deurdie jare het die groep soms gegroei, soms kleinder geraak totdat dit net voor Covid uiteindelik doodgeloop het.

Ek het vir lank die groep gelei en het tydens Covid verskriklik daarna verlang. Want as jy so ‘n groep lei leer jy so baie. Jy doen intens voorbereiding. Is besig met die Here.

Toe Covid begin ligter raak het en mense weer stilletjies by mekaar gekom het, het die Here vir my ‘n groep toegewyde vroue gegee en ons kom op ‘n gereelde basis bymekaar. Ons bestudeer Openbaring, leer geweldig daaruit, leer by mekaar. En dalk verstaan ons Openbaring nie presies soos wat dit veronderstel is om te wees nie, maak dit nie saak nie. Ons leer van God, van Sy Woord, van vandag.

In Januarie terwyl ek vinnig by Spar inhardloop – onthou ek is altyd op ‘n galop – vra ‘n tannie my of ek nie asseblief by die Dienssentrum ‘n bybelstudiegroep sal lei nie. Ek sê dat ek graag wil, maar ek eintlik glad nie tyd het nie en Maandae al is wanneer ek dit kan doen. O, sê sy, Maandae sal perfek wees. Dis eintlik wanneer hulle dit gedoen wil hê. Ek wonder by myself: Wie is die gehoor? En ek besef: dit sal mense wees wat die Here ken, want self al ‘n pad met Hom geloop het. Mense wat ‘n behoefte het aan so iets.

En daar, in die harwar, in ‘n uiters besige Januarie 2022 begin ‘n wonderlike belewenis. ‘n Geskenk reg vanuit die hemel, net soos die ander twee groepe ook geskenke uit die hemel is. Ons gaan steeds voort met ons Openbaringgroep en geniet dit geweldig. Maar in albei die groepe het ek mentors gevind. Mense by wie ek maar mag leer. Ek is slegs die fasiliteerder. Dit is iets ongeloofliks. Ek het nie net mentors gevind nie, maar nuwe vriendinne. Vriendinne met wie ek die pad in vertroue en veiligheid kan stap.

Wat ‘n voorreg! Wat ‘n geskenk! Soos nog altyd kan ek net wens dat elke persoon op aarde aan so ‘n groep kan behoort. En as jy dalk die behoefte het aan so iets, steek jou voelers uit tussen jou vriende. Dalk kan julle ook so iets begin. ‘n Groep wat gedoen word volgens julle persoonlikheid, julle behoefte. Kry ‘n boekie by CUM of Bybelkor wat julle kan deurwerk. Dit is beslis die moeite werd.

Toortsie