My dorp

Toe ek my oë vanoggend oopmaak, sien ek die silo’s. Soos ek dit elke oggend sien. Die ou bekende silo’s en ek het so ‘n rustigheidjie in my hart: Dis my dorp. Ons silo’s. Die silo’s wat ek al van kinderjare af ken.

Eers was dit net die ou silo’s, ‘n paar buise, wat gebou is al voor my geboorte. Later het nog ‘n paar vetteres bygekom. Later nóg en nóg. Deesdae ook lang, wit silosakke om graan in te berg, maar dit bly ons silo’s.

Ons dorp het nie eintlik vreeslik baie hoë geboue nie. Eintlik net die silo’s en die kerk, maar ek kan nie die kerk vanuit ons huis sien nie. Ek kan tog soms sy klok hoor en dit is een van die mooiste klanke. Kleintyd as ons by my ouma geslaap het, het ek al saans vir die klok lê en luister. Elke kwartier ‘n ander deuntjie. Ook in my koshuisdae. Jy weet dit is kwart oor, kwart voor of half, maar jy weet nie watter kwart oor, kwart voor of half nie, tot die uurklok lui en jy dan die slae kan tel. Dis dinge wat my rustig maak. Dinge wat my laat voel dat ek behoort. Tog is die kerk vir my ‘n baken, nie net ‘n lewensbaken waar ek my Geestelike lewe voed nie, maar ook ‘n baken as ek in die dorp beweeg.

Soos ons berg. Nou nie dat dit die hoogste berg is nie, maar ek ken ons berg. Sy vorm. Hy was nog altyd hier. Het nie geskuif nie. Net so, Swellendam se berg wat ek die meeste dae kan sien. Ek het hom vir soveel jare uit ons plaashuis kon sien, nou, op ‘n helder dag, kan ek hom steeds sien.

Dan, die distrik. Die bekendheid van hom wat in my lewe ingegraveer is. Die graanlande. Nou is dit vaal en droog, maar kom ‘n goeie dag se reën en alles verander. Dankbare wêreld. Na-aan-die-aarde mense. Eerlike mense wat dalk vir jou reguit iets gaan sê.

En saans as dit donker is en die hele dorp se liggies brand, sien ek hoe groot ons dorp regtig geword het. Vir meer as vyftig jaar het ek gedink dat die silo’s aan die kant van die dorp is. Nou het ek geleer dat dit eerder amper aan die ander kant van die dorp is en dat daar nog ‘n groot stuk dorp anderkant hom lê.

Ek is lief vir my dorp en distrik. Ek is lief vir sy mense. En elke mens op ons dorp, in ons distrik, wie dit ook al is, is ons dorp se mense. Hulle lê my ná aan die hart, selfs al ken ek hulle nie almal nie. Hulle is vir my kosbaar. Want hulle is deel van hierdie dorp, hierdie gemeenskap, waarvan ek ook deel is.