Die Goue Vroue is oral

Ja, ja, ek weet! Wat is nuut? Eers het ons Kazakstan Goue Vrou, dr Christa van Staden, in die artikel wat oor haar gedoen is in die nuutste Sarie, vertel dat sy deel is van ‘n groep vroue wat saam stories skryf. Vandag weer, was die Goue Vroue behoorlik goed verteenwoordig toe die Bredasdorpse Leeskring ‘n vergadering gehad het en ek, kan jy glo, moes gesels het oor my boekskrywery. Sien, ek kan net van myne vertel, ek weet nie hoe die ander s’n werk nie. Maar dit is mos so dat ‘n mens die heel maklikste oor jouself praat, of hoe?

Wat ‘n wonderlike groep vroue! Dit was so lekker, so warm, so gesellig.

Ek vertel toe sommer vir hulle hoe my skrywery begin het. Dat ek glad nie van opstelskryf gehou het as kind nie, nie geweet het wát om te skryf nie en altyd gevoel het dat ek ‘n verkeerde storie uitgedink het. Nie dat daar eintlik ‘n storie was nie. My opstelle het begin met dit wat ek wil sê, en dan het ek elke byvoeglike naamwoord wat ek moontlik kon insit, ingesit. Dan het ek nog probeer gorrel en dit ook bygeskryf tussen die ander sinne. Totdat ek uiteindelik genoeg woorde gehad het. Wat ‘n gemors om in te gee!

Ook, omdat ons in die hoërskool vertel is dat jy óf syfervaardig, óf taalvaardig is, en ek meer syferkundig aangelê is, het ek geglo dat ek nie daai skryfding kan doen nie. Terloops, asof ‘n mens nie weerskante toe aangelê kan wees nie. En ek het in die handelsrigting studeer, waar een plus een twee is. Eienaarsbelang = Bates – Laste. Geen gehannahanna daar oor nie.

Tot ek begin skryf het in my bidboek en daar, aan die Here se voete geleer het.

En toe begin ek, baie bang, meer as tien jaar gelede om te blog. Die beste ding ooit! Sjoe! Hoe beskryf ‘n mens dit? Dit het my selfvertroue gegee. Dit was die voorloper tot nou al drie gepubliseerde boeke en ook op ander plekke gepubliseerde werke. Wat ‘n voorreg!

En ek vertel van NaNoWriMo en hoe ek, totaal onvoorbereid, twee dae voor die tyd ingeskryf het en my onthoue wat ek gedink het ek al verloor het, oopgeskryf het, een deurtjie na die ander oopgesluit het. En wat dit vir my beteken het en ek moedig almal aan om húlle stories te skryf, want elke persoon se storie is uniek. Selfs ons tien dames wat vandag daar was, sou elkeen ‘n ander storie vertel, want ons beleef dit elkeen op haar eie manier.

En ons drie Goue Vroue hou saam toespraak. Of is dit eerder praatjie. Dis nie ‘ek vertel die storie’ nie, nee, ‘ons vertel die storie!’. Lekker! Ons vul mekaar aan. Ons vertel van die Goue Vroue, hoe ons saam stories skryf, dat ons in Afrikaans skryf, oral in die wêreld woon. Ek dink nie daardie vroue het al voorheen van so iets gehoor nie. Nuut! Splinternuwe nuus. 🙂 En ons ogies blink en ons is opgewonde en lewendig.

Ja, dit was ‘n lekker dag. Baie dankie dat julle my die geleentheid gegun het, dames van Bredasdorp Leeskring.

Toortsie

Konsep, skeduleer, publiseer

Ek het gedink ek het die antwoord, maar by verdere ondersoek was ek toe glad nie so slim soos ek dink nie. Hoekom gebeur dit dat ‘n storie nie wys op die leser nie? Mag dit dalk wees dat die leser nie noodwendig alles wys nie? Ek vermoed so. Ek het ook al agtergekom dat die selfoon app ook nie al die kommentare wys en as ek later op die rekenaar kyk, vind ek kommentare wat ek nooit raakgesien het nie.

Wat ek wel al agtergekom het en gedink het dat dít die antwoord is:

Wanneer ek ‘n bloginskrywing as ‘n konsep stoor (save as draft), onthou die rekenaar daardie datum en tyd as die tyd vir publikasie. Wanneer ek dit dan wel dalk baie later publiseer en ‘publish now’ kies, word dit gepubliseer op die oorspronklike tyd wat dit die eerste keer as konsep gestoor is. Dit bring mee dat die bloginskrywing dan nie noodwendig as ‘n nuwe een verskyn nie.

Om dit te verhoed stel ek voor dat jy, net voor jy publiseer nou druk, die datum en tyd van die bloginskrywing fisies gaan verander na die huidige tyd. Jy doen dit by ‘post settings’ en dan ‘publish on’. Die foto hieronder is van een wat reeds gepubliseer is.

Sou jy ‘n bloginskrywing wil skeduleer om in die toekoms gepubliseer te word, gebruik jy presies dieselfde funksie, maar vul die datum en tyd in wanneer dit moet verskyn.

Terloops, vandag het my blog die 600 000 klieke perk verbygegaan. Dis sommer net vir interessantheid.

Toortsie

So, jy het nou jou blog begin. Wat nou?

Jy het nou jou blog begin. Jy’s opgewonde, bang, hoopvol, bly, alles tegelyk. Maar wat nou? Hoe maak jy nou? Hoe gaan die mense van jou weet? Waar kry jy die ander blogs?

Die heel eerste belangrike ding is natuurlik, skryf! Begin net! Skryf oor enige ding, maar skryf.

Die ander blogs? Kyk in jou instrumentepaneel wys hulle die nuutste bloginskrywings wat gemaak is. Lees dit. Like dit. Lewer kommentaar, maar die belangrikste is, maak seker dat jy die regte adres invul. Kyk dat die url reg is. As jy kommentaar gelewer het, kliek op jou prentjie daar by die kommentaar en maak seker dat jy by jou blog uitkom. Jy wil mos graag hê die ander blogmaats moet by jou uitkom. Soos die merrie destyds vir my gesê het, maak jouself bekend. Wys jou teenwoordigheid in blogland.

Kyk bietjie by die kommentare en kliek op die prentjies van die ander bloggers wat kommentaar gelewer het. Sodoende kom jy by hulle blogs uit. Voor jy jou kom kry, het jy sommer ‘n klompie blogs wat jy lees en waarby jy kommentaar lewer en binnekort lees hulle weer by jou!

Die leser is ‘n baie lekker hulpmiddel. Kyk bokant die blog, effens aan die linkerkant. Kliek op leser. As jy al ‘n paar blogs begin volg het, verskyn hulle in jou leser.

Ag, kort voor lank is jy ‘n blogger van formaat en geniet jy elke oomblik. Soos die man met die hoed gesê het, ons bloggers byt nie. En sou jy oor enige iets twyfel, vra net. Vra sommer in jou bloginskrywing of in ‘n kommentaar. Die bloggers help graag.

Geniet dit!

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Toe haal ons die maskers af

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Die WordPress Leser (Reader)

Ek het nou eers die WordPress Leser ontdek!

Ek het nog nooit van WordPress se leser gebruik gemaak nie. Ag, ek het een keer daar gaan kyk en toe nie veel verstaan nie en sommer gelos. Nou het ek weer dit bekyk en gedink – dis seker daar met ‘n rede?

Ek wil graag weet:

Wie van julle gebruik die leser? Hoe gebruik jy dit? Hoe maak jy dit meer user-friendly?

Ek sien in HIERDIE BLOGINSKRYWING dat hulle praat van ‘communities’. Is julle deel van sulke ‘gemeenskappe’? Hoe maak mens om deel te word daarvan? Vind jy dit die moeite werd?

Een van die redes hoekom ek nie maklik ‘follow’ druk nie, is omdat ek benoud raak as al die eposse so inkom en ek nie daarby kan kom nie. Iemand het lank gelede een keer geskryf dat sy dit in die reader volg. So hoe maak mens? Aanvanklik het ek die URL van ‘n blog ge’copy’ en gaan ‘paste’ by die by die leser by ‘followed sites’, by ‘bestuur,’ maar daar is ‘n makliker manier! 🙂  Wanneer jy by ‘n blog lees, verskyn regs onder in die hoek ‘n spookknoppie: Follow blog! Dis hy! 🙂 Ek leer mooi! 🙂 Terloops, dís hoekom julle nou skielik almal boodskappies kry dat ek julle volg! 🙂 Maar eintlik volg ek julle nog altyd, ek was net self in beheer daarvan.

Dit lyk my dat as ek ‘n etiket op die leser byvoeg, dit vir almal se oë is.  Watter etikette volg julle?

Hierdie oulike bloginskrywing oor ‘lists’ is nogal interessant. Het julle sulke lyste van blogs? Dit lyk my dan kan jy jou blogs organiseer volgens onderwerpe? Ook dít is vir ander se oë ook sigbaar.

Watter raad het julle omtrent die leser? Help asseblief! Slim mense, waar is julle? Hoe benut julle die leser ten volle?

Die leser? Kyk bietjie heel bo aan jou blog, heel links in die hoekie, staan: My Sites. Net langs hom, Leser. En weet julle wat? As ‘n mens op die leser lees op jou selfoon, maak dit kommentaar lewer by blogs ook aansienlik makliker! Ek begin vertroud raak met my leser. Kan myself skop dat ek dit nou eers ‘ontdek’! Die leser maak dinge regtig makliker en lekkerder.

Dankie!

Toortsie

Ek lees in HIERDIE NUTTIGE BLOG die volgende:

Organize your feeds with Reader lists.

In your Reader, you can keep up with the blogs you’ve followed in Followed Sites, our editors’ picks and features in Discover, and any tags you’ve followed under Tags.

You can also create Lists to organize your feed by topic or group, or create a blogroll of multiple lists, which is handy for people who read a lot, have varied interests, and love to share their recommendations. Ra, the writer and reader at Rarasaurhas built a following of loyal, engaged readers, as well as forged dear friendships offline, compiled in her Reader list, Blokin (short for “blog kin”).

Toortsie by Finesse: Wegbreek

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Die verkeer na jou blog

Ek het Vrydag vertel van die nuwe, gratis e-boeke wat WordPress uitgegee het. Ek het al die boeke afgelaai en ywerig begin lees.

Die e-boek waarmee ek besig is, is Grow your Traffic, Build your Blog. Baie van die goed doen ek reeds, party het ek vroeër gedoen en intussen laat slaplê, sommige dinge is nog vir my vreemd. Wat ek wel weet, is dat ekself regtig baie daaruit kan leer.

Behalwe taalgebruik en spelling, wat hy sommer in die eerste hoofstuk noem, skryf hy dat ‘n mens soms die voorkoms van jou blog moet afstof. Ek het. 🙂 Ek het sommer ‘n bietjie na die uitleg van die widges ook gekyk. Dalk is daar nog ‘n bietjie skommeling nodig, maar dis ‘n begin.

Een van die eerste dinge wat Xena destyds vir my geleer het, is dat jy jouself moet bekendstel deur ander blogs te lees en kommentaar te lewer. Iets wat ek in my besige bestaan begin afskeep het. Die skrywer sê dat jy moet probeer om daagliks op 1 tot 5 (of meer!) blogs moet kommentaar lewer. Jy moet ook oplet op die kommentaar wat jy lewer. Praat saam. Moenie iets skryf soos: “Hello, ek het ‘n nuwe blog, kom lees by my” nie. Probeer om interessante kommentaar te lewer. Wat ekself soveel keer beklemtoon, is dat jy moet seker maak dat jy jou regte blogadres invul as jy by iemand kommentaar lewer. Toets dit deur te kliek op jou naam wat by die kommentare verskyn en kyk of dit jou wel by jou blog uitbring. Hoe gaan ek jou anders in die hande kry?

Hy noem dat ‘n mens die stats tot jou voordeel moet gebruik, dit ontleed en kyk wanneer mense meer lees, ens, en jou bloginskrywings daarvolgens publiseer. Ek dink dis nog ‘n bietjie bo my vuurmaakplek.  Ek weet wel dat my naweek blogs nie so baie gelees word nie, maar ek skryf maar wanneer die woorde daar is.  ‘n Mens kan natuurlik jou inskrywings skeduleer ook.

Hy raai aan dat ‘n mens na jou vorige bloginskrywings moet verwys, en natuurlik die skakel daarna toe moet verskaf.

Iets waaraan ek in die volgende paar dae gaan werk, is ‘n blogroll. Dis verwysings na ander blogs of webblaaie waarna ek graag kyk. Kameel, jy is natuurlik welkom om ook by te voeg. 🙂

Wag, laat ek die stoflap gaan soek en ons bloggie nuwe lewe gee! Dis darem wonderlik hoe maklik ‘n mens eintlik geïnspireer kan word, net deur ‘n paar woorde van iemand anders!

Vir nog blograad, kliek hier. Ek hoop dit kan vir iemand van hulp wees.

stoffer-in-die-hand-toorts

Thank you, WordPress, for a wonderful and inspiring book!