Wanneer God Homself herhaal, moet ek luister, sê ek mos altyd. ‘n Rukkie gelede, net voor ek siek geword het, het Hy vir my herinner: Trek die volle wapenrusting aan. Polish jou wapenrusting. Kyk dat alles in plek is. Die knope aan. Of alles in werkende toestand is. Want ek moes voorbereid wees vir die Geestelike Oorlog wat ek moes voer teen die duiwel en sy virus.
Nou kom die oproep: Bid. Bid, bid, bid. Ja, ek weet ek moet bid. Maar God sê: “Bid.” Hy wil duidelik hê dat ek meer moet bid. Ek kry die boodskap van ons dominee af in gister se erediens. Ek kry dit per whattsapp. Per Instagramboodskappe. Per Facebook. Bid.
Bid. Gebruik daardie wonderlike voorreg wat God vir ons in ons hand gegee het, dat ons Hom enige tyd, enige plek, mag nader. Net soos ons is. In gewone taal. Nie net die Hoëpriester wat een keer per jaar die Allerheiligste in vrees en bewing mag betree het nie, maar ook ek, ‘n gewone mens, nie eers ‘n Israeliet nie, mag Hom nader net wanneer ek wil, wanneer ek Hom nodig het!
Vir myself. Vir ons land. Vir al die gelowiges in die wêreld. Vir ongelowiges. Vir hulle wat swaar kry. Vir hulle met wie dit goed gaan. Vir die virus. Dat ons gehoor aan Hom sal gee, sal luister. Dat mense na Hom sal draai. Vir ons regering. Vir ons president. Vir die verkiesing wat voorlê. Bid,bid,bid. Dis wat Hy van ons vra. Herhaaldelik. Hy het dit in ons hand kom sit, hoe kan ons dit nie gebruik nie?
Bid spesifiek. Vra spesifiek vir vergifnis van spesifieke sondes. Bid vir jou vriendin en noem dit waarvoor jy bid spesifiek.
Want ons mag.
Toortsie
Volg gerus my Faceboekblad: “My gebed vir vandag.”
https://www.facebook.com/My-gebed-vir-vandag-100421255341196