Oor val

Kyk, van val kan julle my niks vertel nie. Ek is ‘n kenner van ‘n vallery. Ek kan val. Ek kan hard val. Ek het nie rugby gespeel en geleer hoe om te val nie. As ek val, val ek behoorlik. Ná my rugoperasie vyftien jaar gelede, het ek minder geval. In die begin. Ek vermoed dat ek geleer het om versigtiger te wees. Minder te storm. Meer te kyk. Beter te kyk. Tog lyk dit of ek daardie vaardigheid al weer afgeleer het, want deesdae val ek weer vir die eerste span. Hoekom is dit dan net ek en Trommeltjies wat op die Baviaans Camino geval het? Hoekom het al die ander dan heelhuids deurgekom?

Jy kan my vallery letterlik óf figuurlik opneem. Jy kan spottenderwys daaroor praat óf ernstig. Ligterlik óf dieper. Want ek weet ook van val in my geestelike lewe en in my pogings tot dinge wat ek doen. Val in my verhoudings. Val in … ag noem maar op.

Ek het een dag gelees dat dit glad nie saakmaak hoeveel keer jy val nie. Wat saak maak, is hoeveel keer jy opstaan. Weer probeer. Dít was een van die beste lewenslesse wat ek ooit kon leer. Val gaan jy val. Die geheim lê in die opstaan.

Die geheim lê in die probeer, in die doen, in plaas daarvan om só bang te wees vir val dat jy sommer van die begin af niks doen nie. Jou tyd gebruik om ander dop te hou en te voorspel dat hulle gaan val en dit raak voorspel, want doeners val. Oor en oor. Doeners maak foute. Baie foute. Doeners leer hopelik uit hulle foute. En probeer weer. Val dalk weer, maar sonder dat hulle dit besef, beweeg hulle treetjie vir treetjie vorentoe.

Ja, ek ken van val. Ek weet van foute maak. Ek weet van mislukkings. Ek weet van dinge probeer wat nie realiseer nie, sommer baie daarvan. Ek ken die gevoel van ”n mislukking wees’, van ‘niks regkry nie’, van ‘al die ander mense kry dinge reg, hoekom werk my goed nie uit nie?’ Ek weet daarvan. Ek het dit al aan my lyf gevoel. Veral in daardie jare toe ek nog so graag ook ‘n merkie van my eie wou maak. Suksesvol wees in IETS. Iets GROOTS wil regkry.

Tot ek op ‘n tyd Beleef God in ons Bybelstudie gedoen het. Om die waarheid te sê, ek het daardie Bybelstudiekursus oor tyd vier keer deurgewerk. Want ek kon soveel daaruit leer. Elke keer iets nuuts leer. En ek is seker dat as ek dit vandag weer sou aanpak, ek nog weer nuwe goed daaruit sou leer, want ‘n mens groei mos en jy leer en jy raak dinge baas en kan weer leer. In Beleef God het ek geleer dat jy eers betroubaar in die klein dingetjies moet wees, dan sal God jou ook vertrou met die groter dinge.

Of dit vir ander waar is, weet ek nie, maar vir my is dit een honderd persent waar. Ek moes eers leer om klein dingetjies reg te doen. Dingetjies waarvoor ek dalk selfs my neus opgetrek het. Ek moes leer dat geen ding op aarde benede my is nie. Niks. Geen werk is te laag vir my om te doen nie. Ek moes baie leer. En baie val. En net so baie opstaan.

En ek leer steeds elke dag.

Toortsie