Dag en datum

Dana Snyman vertel in sy rubriek in die Kerkbode van sy rooi Gideonsbybeltjie wat agterin ‘n bladsy het waar jy die dag en datum van jou bekering kan neerskryf. Net gisteraand vra ons dominee in die aandoordenking (ek wens ek kon dit hier plaas) dat ons in ons gesinne moet vertel van ons bekering. Wanneer ons tot bekering gekom het. Of ons nog kan onthou hoe opgewonde ons was oor God? Hy lees uit Jer 2:2: “Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, in ‘n wêreld waar niks geplant word nie.” Verlede Vrydag was dit ook ons onderwerp in ons Bybelstudiegroep toe ons die brief aan Efese in Openbaring bespreek het. Openb 2:4: “Maar Ek het dit ten julle: julle het My nie meer lief soos in die begin nie.”

Wat ‘n aanklag. Julle het My nie meer so lief soos julle altyd gehad het nie. Julle is nie meer so opgewonde soos in die begin nie.

Soos menige mense wat in gelowige huise grootgeword het, het ek nie regtig ‘n dag en ‘n datum nie. Bybellees en bid was deel van ons lewe. Kerktoegaan. Bidure. Tog, in standerd vier se einde het ek die stranddienste op Struisbaai ernstig begin bywoon. Wat ‘n geestelike inspuiting was dit nie! Elke Desembervakansie. Die studente was so opgewonde oor die Here. Ek ook. Ek onthou die dag aan die einde van standerd vier waar ons groepie daar in die spanleidster se tent gesit het en sy die boekie met ons deurgegaan het oor hoe jy die Here aanneem. En ek weer eens my hart vir die Here gegee het, soos soveel maal daarna. Nie omdat ek weggedwaal het nie, maar sommer net as bevestiging van my geloof. Ek het nou nog daardie boekie met my datum agterin geskryf. Iewers in Desember 1974.

Ek hét baie keer in my lewe weggedwaal. Nooit heeltemal weg nie, maar beslis afgekoel. Steeds het ek soggens en saans vinnig Bybel gelees en gebid, maar ek was beslis ver. Tog was God nooit ver van my nie. Het Hy my nooit verlaat nie.

Ook vandag is dit nog ‘n belangrike vraag in ons elkeen se harte: “Het jy die Here aangeneem?”, maar meer nog, “Het jy Hom nog so lief soos voorheen?” Dis iets wat ons gereeld moet ondersoek. Watter dinge het vir my meer belangrik geword as my stiltetyd? Wat is belangriker as my verhouding met God? Want, voor ons dit besef, het iets stilletjies ingesluip en God se tyd by ons kom steel. Dít het die predikant net Sondagaand vir my op die TV gevra.

Daarom dat God Homself ook teenoor my herhaal: “Hoe lief het jy My? Het jy My regtig so lief soos wat jy sê?” Dat ons selfs al het ons ‘n gesonde verhouding met Hom, al spandeer ons baie tyd met Hom, steeds vir onsself daardie vraag moet vra. Is ons nog so lief vir Hom? Bluf ons nie onsself nie?

Toortsie