‘n Camino is ‘n pelgrimstog

Of jy dit nou doen vir die ervaring daarvan of vir die lekker of omdat jy iets het wat jy graag wil verwerk, jy gáán dinge oordink of jy nou wil of nie. Want, sonder dat jy dit eers weet, neem jy vir JOU ook saam op so ‘n tog. Stap JY saam. Jy kan nie vir JOU by die huis los en alleen gaan stap nie. Selfs al word jou bagasie vir jou aangery, dra jy jou bagasie met jou saam. Jou innerlike bagasie.

Nog nooit het Ps 121 soveel waarde gehad soos tydens hierdie staptog nie. Vier dae in die berge. Met God as my helper. Wanneer jy treetjie vir treetjie moet konsentreer waar jy jou voet moet neersit en dit selfs dán ook onder jou uit gly. Wanneer jy gly en in die keerproses jouself pootjie en onbeskermd val en jou kop nié ‘n vieslike klip tref nie weet jy jou Bewaarder sluimer of slaap nie.

Ja, ek hét ook ‘n stukkie bagasie afgegooi. God hét vir my ‘n stukkie waarheid gebring. ‘n Las van my skouers afgegooi. Sonder dat ek dit vooraf beplan het. Maar dis mos wat ‘n Camino is, dan nie?

Ek wens hierdie wonderlike ervaring toe vir enige persoon wat fisies sterk en fiks is. Ek wens almal kan dit doen.

Toortsie

In solidariteit gly ek en my maatjie saam!

Baviaans Camino -Dag 3

Ek moet dit baie duidelik stel: Ons is OOR die Baviaansberg, nie DEUR die Baviaans nie. Daar is ook ‘n staproete in en deur die Baviaanskloof, maar dit is ‘n ander een. Sonder om snaaks te wees: hierdie een is ‘n bielie van ‘n staptog. ‘n Meneer. Ek beveel dit graag aan, maar wees gewaarsku: as jy ouer is, moet jy ekstra goed voorberei wees.

Wat kan ek van vandag vertel? Dit was makliker as die eerste twee dae, maar beslis nie maklik nie. Die terrein waarop ons gestap het, was beslis minder grof en nie so glyerig soos die vorige twee dae op sommige plekke teen die afdraende nie. Ek het vandag geen val aangeteken nie, prys die Here. Ek is Hom ewig dankbaar daarvoor.

Kort nadat ons begin stap het, het dit begin reën. Ons was behoorlik nat. Sommige van ons deurnat. En kouddd. Ons het maar gedruk vir al wat ons het om klaar te stap en het so min as moontlik piekniek gehou langs die pad. Weer eens was die ondersteuning van die span wonderlik en het hulle ons iewers langs die pad ingewag met heerlike vuurwarm koffie, tee, sop, koekies, ens. Middagete is nie langs die pad geniet soos die beplanning was nie, omdat ons eerder so gou as moontlik by ons bestemming wou kom.

Ons het lekker gerus vanmiddag. Môre lê ‘n ekstra lang dag voor waar ons die laaste van die Kougaberg moet oor, asook die Suur Anysberg. Weer ‘n paar bergreekse voor.

Toortsie

Baviaans Camino -Dag 2

Wat ‘n dag! Wat ‘n wonderlike dag. Wat ‘n uitdagende dag.

Gelukkig het ons perderuitergids ons gisteraand gewaarsku dat dit nie poeding gaan wees nie. Onthou, ons bene is gister reeds behoorlik uitgedaag. Hy verduidelik: drie bulte maak saam een bult. Daar is drie van hulle. Dus, drie maal drie, as ek dit reg verstaan.

Op ‘n stadium, na báie bulte, en ek bedoel BULTE, vra ek by nommer hoeveel is ons nou. Die eerste, die tweede of derde? So pas klaar met bult EEN, maar die ergte is nou verby. Sê hy.

Ek het later nie meer bulte getel nie, maar elkeen uitgestap en die afdraende versigtig gevat. Rollende klippe, sien. Op die einde van die dag ‘n behoorlike stuk grond gekoop. Behoorlik.

Die langs-die-pad-ondersteuning is fantasties. Die kos wat ons kry, uit die boeke. Die kameraderie uit ‘n ander wêreld. As jy behoorlik fiks is, andersins jonk genoeg, kan ek dit ten sterkste aanbeveel. Maar jy moet weet: bulte gaan jy klim.

Dis ‘n ervaring van ‘n leeftyd.

Ek wil graag die goud in nog ‘n Towerin/Goue Vrou aankondig. Trommeltjies. Haar goud? Moedigheid. Wonderlik!

Toortsie

Baviaans Camino Dag 1

As ons as kind gaan toer het, het my ma altyd voor ons vertrek Ps 121 gelees. In die 1953-vertaling staan die opskrif: ‘Op pad.’

Gisteroggend voor ons by die huis vertrek, lees ek dit en vanoggend weer. Nog nooit het dit só tot my gespreek soos juis vandag nie, veral toe hulle ons aan Steytlerville se kant van die Baviaansberg aflaai nie.

Ek kyk op na die Berge,

O waarvandaan sal daar dan hulp kom?

My hulp kom van die Here

Wat hemel en aarde kon vorm.

Hy sal nie toelaat dat jy val nie

Hy sal nie toelaat dat jy swik

Want Hy sluimer of slaap nie

Hy laat jou ewig wandel in die Lig.

Heeldag draai die liedjie deur my kop. Eers help Hy my teen die styl berg uit, verby elke zig en elke zag. Net voor die afdraend sê ons perderuitergids, oppas vir gly op die klippies. Daar is klein los klippies en ek loop versigtig.

Skielik gly Trommeltjies agter my. Ons help haar op en stap verder, net sodat ek en sy gelyktydig weer gly en ek nóg ‘n keer. Wel, Toortsie en Trommeltjies besit nou albei twee stukkies grond in die Baviaansberg. En albei van ons het ongedeerd daarvan af gekom.

Vandag was nogal uitdagend. Môre is blykbaar erger.

Dis ‘n wonderlike ervaring. Ons is ‘n pragtige groep mense bymekaar.

Toortsie

Middagete