Ons dames het maar ‘n identiteitsprobleem, lyk dit my. Of is ek nou heeltemal agter die tyd?
Ek kon my ore nie glo toe ‘n ongetroude vriendin vir my sê sy het my stuk gelees wat ek oor twee “oujongnooiens” geskryf het nie. Haar rede was dat dit nie ‘n onderwerp is waaroor ooit geskryf word nie, en in haar eie woorde, is sy ‘n oujongnooi!
Iemand wat ek ken, is baie lief daarvoor om as sy van ‘n persoon te praat, haar huwelikstatus ook te noem, soos die ‘weduwee, Maria’, of die ‘oujongnooi Sannie’. Dan sal ek haar elke keer wat sy die term ‘oujongnooi’ gebruik, daarop wys dat dit nie meer ‘n term is om mense te beskryf nie. Meisies ‘kies’ deesdae of hulle getroud wil wees of nie, en daarmee het ek geen probleem nie.
Toe hierdie nuwe bedeling ingekom het, het twee damesterme, nl. Mev en Mej, verander na een: Me, sodat daar nie na huwelikstatus verwys word in jou ‘titel’ nie. Mans is almal Mnr, of hulle getroud is, ongetroud is, wat ook al. Daarom is ons vrouens nou almal Me…
Maar ék was al te lank ‘n Mevrou toe hierdie nuwe term ingekom het. Na meer as 30 jaar van getroude lewe voel ek regtig dat ek al die term ‘mevrou’ verdien. Ek het hard gewerk daarvoor! 🙂 Ek het in hierdie huweliksbootjie geseil deur stormsee, kalm water, rotse, stroomversnellings … tot waar ek nou is, steeds getroud met dieselfde man en ek wil dit glad nie anders hê nie. Ek sien dit steeds as ‘n eer om getroud te wees.
Nou wil ek weet, dame, wie en wat is jy? Is jy ‘n mev of ‘n mej of ‘n me? As jy ongetroud is, hoe voel jy oor die term “oujongnooi”?
Toortsie
Toortsie se Faceboekblad