Dieselfde storie oor en oor

Ewe wysneus dink ek nou die dag by myself: ‘Sjoe, dis nogal lank laas wat God vir my so ‘n herhalende boodskap gegee het wat Hy regtig wil hê ek moet hoor,’ min wetende dat Hy reeds besig is om dieselfde storie oor en oor vir my te fluister en dat ek dit nie besef nie!

Ja, ek hét kennis geneem toe ek met my selfoon gefoeter het tydens stiltetyd en dit toe stukkend was toe ek dit ná die stiltetyd optel. Net om dit sowat 4 dae later aan te skakel en daar geen fout daarmee was nie. Die boodskap wat ek daaruit geneem het: In ‘n oogwink kan Hy iets van my wegneem as ek dit belangriker ag as tyd met Hom. En ja, ek hét geluister, maar nie genoeg nie.

Want gedurende die vakansie met al die kinders by die huis en ek so besig was met huishou, het my stiltetyd afgewater. Ja, ek hét steeds my stiltetyd gedoen daagliks, maar nie so rustig en in diepte soos gewoonlik nie. En was die normale tekens weer daar op ‘n stadium: Ek is ongeduldig, eintlik ongedurig. Onrustig. Ontevrede. on on on on …

Vertel my vriendin gister by die Bybelstudie hoe God vir haar gewys het dat sy ‘n fout gemaak het deur ter wille van die samesyn met haar kinders, tóg ‘n fliek gekyk het waarin Sy naam ‘n paar maal oneerbiedig genoem is. Dat Hy op Sy spesiale manier vir haar gewys het dat niks en niemand bó Sy Naam gestel mag word nie.

Maar die pennie val nog nie.

En skielik val hy toe ek vanoggend my kleinkind oppas en my man in die vertrek langsaan die TV aansit en die dominee hard en duidelik die storie van Martha en Maria vertel. Die dienende Martha wat alles moes regkry vir die ete terwyl Maria by Jesus se voete sit. En die dominee sê dat dit reg is, ons móét gasvry wees, maar nie ten koste van tyd met Hom nie. O ja, interessant. Terwyl ek dink dat God nie besig is om Homself te herhaal nie, moet Hy al vir my SKREE, want ek HOOR nie!

Want, toe ek daaroor dink vanoggend en met Hom daaroor praat, wys Hy my dat Hy Sondag ook met my gepraat het. Die man by die kerk het genoem dat ons tog nie by die huis moet bly as die kinders daar kuier nie, maar steeds op ‘n Sondagoggend moet kerk toe gaan soos wat ons sou doen as die kinders nie daar was nie.

Jip. Die boodskap wat oor en oor vir my gesê word in verskillende woorde en op verskillende maniere? Dat ons (ek) in my besige bestaan waar my aandag so maklik deur gasvryheid, of borduurwerk of hekelwerk of VLV of Amigo’s of klavier of orrel wat geoefen moet word vir my volgende les, nie my stiltetyd moet afwater, afskeep, aframmel nie. En is dit dan nie presies wat Hy ook vir my oor en oor sê in Daniël waarmee ek tans besig is nie?

Toortsie

Reis en eet!

Soos soveel mense wat my ken sal weet, is reis en eet twee items wat baie hoog is op my prioriteitslys. En as ek reis, daar ook geëet moet word. En dat ek mos kos geniet en nie skuldig voel daaroor nie. Want kos is ‘n geskenk van die Here en Hy sou dit nie so ‘n belangrike deel van ons lewe gemaak het as Hy nie wou hê dat ons dit moes geniet nie. Gesellige samesyn rondom ‘n etenstafel – wat is lekkerder as dit?

So op ons pad stop ons dan hier en daar om ons behoefte aan kos te bevredig. Daar is die Cattle Baron in Mosselbaai se Mall, die Spur by die Punt, braaivleis om ‘n lekker braaivleisvuur.

Daar is Elvis Brew naby George se lughawe waar jy met vreugde en uitbundigheid ontvang worden die kelners vir mekaar skree, Thank You uitgejuig word as jou koffie reg is, jou koffie op jou baam vir jou geroep word, wat jou sommer ‘n ekstra glimlag op die gesig sit en ‘n vonkel in die oog. ‘n Gevoel van warmte en lekkerkry.

Nie dat ons dit nodig het nie, stop ons by die Royal Hotel in Willowmore vir middagete. Want die Royal Hotel is beroemd vir hulle heerlike kos. My omelet lê die bord vol, beslis nie net van een eier en ‘n bietjie water gemaak nie. Dis ruim gevul met bacon, ham, tamatie, gebraaide ui, sampioene en gegarneer met kaas. Vriendin se spekslaai is ook nie suinig met die spek nie en is keurig bedien. Daar word ook hoender schnitzel en ontbyt wat die ander bestel, is net so uit die boonste rakke. Nadat ons alles geëet het, 4 persone, drankies ingesluit, is die rekening so min, ek is skaam om dit hier te noem. Willowmore se Royal Hotel, as dit so bedoel is en ek ooit weer by julle verby ry, wees verseker dat ek weer gaan inloer!

Maar asof dit nie genoeg is nie ontdek ons die Royal Hotel in Steytlerville. Wel, ek sê niks meer nie, want daar is ‘n Tapas in PE en Nanaga en as ek gelukkig is, wag daar ‘n Fat Fish in Plettenbergbaai.

Intussen reis en eet ek heerlik voort. Ek los net die rys, aartappels rn brood dan kan ’n mens ver kom.

Toortsie

Die drie meesters

Op Martjie se klavier sit die drie meesters, Mozart, Händel en Beethoven. Nee, hulle sit nie regtig daar nie, ‘n mens sit mos nie op ‘n klavier nie. Dis kleine borsbeldjies van hulle wat op die klavier is.

Hulle word meesters genoem omdat hulle so goed was in musiek en die pragtigste musiek geskryf het. Daarom word hulle ook komponiste genoem, want mense wat musiek skryf, word komponiste genoem.

Al is hulle al baie jare gelede oorlede, leef hulle steeds voort wanneer mense hulle musiek maak en waar hulle op Martjie se klavier sit, verbeel ons ons dat hulle nog lewe.

“Ek hou darem baie van Martjie”, sê Händel, “wanneer sy my musiek op haar blokfluit speel, geniet ek dit so baie. Ek kan sommer sien sy is lief vir musiek. ” “Ja”, antwoord Beethoven, sy is regtig ‘n liewe kind. ” “O, ek het dit nou die dag so geniet toe die klein Kobus homself so op die klavier geniet het”, sê Mozart. “Ag, nie dat hy al enigsins sinvolle musiek kan speel nie, hy is nog te klein, maar ek kon iets in sy ogies sien en in sy aanslag. Daar is iets musikaals daarin.” “Sy sussie wat ook so wou saamspeel, was net te pragtig, ek wou haar sommer opeet,” sê Händel. “Nog so klein, maar hulle deel alreeds die liefde vir musiek.”

Alhoewel ons hulle sommer op hulle vanne noem, moet ons hulle respekteer vir wat hulle in die musiekwêreld gedoen het. Handel is eintlik George Frideric Händel en hy het geleef van 1685 tot 1759, meer as driehonderd jaar gelede! Hy was ‘n Duitsgebore Engelse komponis en het in ‘n era geleef wat as die laat Baroktydperk bekend was.

Ludwig van Beethoven was ‘n Duitse komponis wat van 1770 tot 1827 geleef het. Hy word steeds beskou as een van die wêreld se beste komponiste wat ooit geleef het.

Wolfgang Amadeus Mozart het van 1756 to 1791 gelewe en was ‘n klassieke komponis wat in Salzburg grootgeword het.

“Ek weet nie wat van die wêreld gaan word nie,” sê Händel bedruk. “‘n Mens kan net nie meer luister na die musiek wat die jongmense vandag komponeer nie, en hulle noem dit die vreemdste name: Kwaito, Marimba, Rock, wat nog alles?” “Ja”, antwoord Mozart, “baie van die name kan ‘n mens nie eers behoorlik uitspreek nie.” “Dit is eintlik net ‘n lawaai, as jy my vra”, gee Beethoven ook sy kommentaar. “As ek darem dink aan die pragtige musiek wat ons gemaak het toe ons nog geleef het. Eendag sal die mense seker in hulle kinderstories vertel, ‘eendag, lank lank gelede het die mense pragtige musiek gemaak.'” “Daardie musiek was so mooi, ‘n mens kon sweer dit is in die hemel gemaak”, antwoord Mozart. “Ja”, sê Händel, “dalk sê hulle dit het sommer uit die hemel geval, die mense praat ook deesdae so vreemd.” “Ek verstaan nie die jongmense nie, hulle volg net nuwe modes klakkeloos en dink nie waaroor dit gaan nie”, sê Beethoven.

Die volgende oomblik kom Martjie die huis binne met sakke vol kersversierings. Sy begin die een versiering na die ander ophang, dit lyk of sy met ‘n towerstaf besig is om die hele huis te verander. Sy sit ‘n kersgeskenk onder die kersboom vir haar geliefde Janes en weet dat hy opgewonde gaan wees daaroor. Hulle kan soms nes kindertjies blinkoog staar na dit waarvan hulle hou. Sy wonder watter geskenk hy vir haar in gedagte het? Dalk ‘n avontuur of twee? Dalk kan hulle met ‘n boot op die rivier gaan vaar. Net die gedagte daaraan gee sommer vir haar sterre in haar oë. Dit sal nou regtig ‘n hoogtepunt wees as hulle dit kan doen!

Terwyl Martjie so besig is om al die kersversierings uit te pak, sit die drie meesters in verstomming vir haar en kyk. Kan dit wees dat die Kersgety al weer hier is? Kersfees in die somer verwar hulle elke jaar, hulle is gewoond om Kersfees in die winter te hou met sneeu wat die wêreld vol lê. ‘n Wit Kersfees. ‘n Tyd wat ‘n mens in baadjies gevul met donsvere rondloop. Die versengende hitte hier in die suide van Afrika maak dat hulle tred met die tyd verloor.

Die volgende oomblik draai Martjie na hulle toe met ‘n gesig wat straal van opwinding. Wat het sy in haar hande? Asof gelanseer kom sy na hulle toe en voor hulle hulle kom kry, het elkeen ‘n Vader Krismis hoed op sy kop! “Kyk net hoe pragtig lyk my drie skatte nou, net reg vir Kersfees”, sê sy opgewonde. “Julle moet nou net nie dat hierdie kershoedjies ‘n gekuier afgee nie, hoor! Ek het juis vir my so ‘n pragtige Mozart Kersfees CD bestel. Maar Mozart, wat is mooier as jou eie Twinkle twinkle, little star? En, liewe Beethoven, jou 9e simfonie word so baie in die Kerstyd gesing in die vorm van Ode to Joy. Ja, sonder liefde is ons niks. En Handel, liewe Händel, wat sou die wêreld sonder jou Messias wees? En Vrede op aard in welbehae? (Joy to the world.)”

“Wat maak die kind nou?”, vra Händel. “Sy is besig om van ons ‘n bespotting te maak, ons wat al vir konings musiek gekomponeer het.” “Ag man,” antwoord Mozart, “ontspan. Gee die kind ‘n kans. Het jy gehoor wat sy ons noem? ‘Skatte.’ Dit kan net een ding beteken en dit is dat sy lief is vir ons.” “Ja wat”, antwoord Beethoven, “wat die jongelinge nie alles sal aanvang nie, maar soos Mozart tereg opgemerk het, sy is regtig lief vir ons en ‘n mens kan dit hoor as sy ons musiek soos engele bespeel, sy doen dit met respek en soveel genot en liefde en sy leer dit ook vir haar leerlinge, om goeie musiek te respekteer. Kom ons gun haar die bietjie plesier.” “Goed dan”, antwoord Händel, “as dit is hoe jy dit stel, voel ek ook net so. Kom ons gun dit vir haar.”

Die volgende oomblik kom Janes, pootuit van die werk af, by die huis in. “O, Martjie! dit lyk mooi! En wat gaan hier op die klavier aan?” En toe hoor ‘n mens net sy skaterlag terwyl hy die drie meesters een vir een bekyk. Daarna gee hy ‘n bietjie aandag aan die honde en laat hulle hulle vangskote met die bal oefen.

Mag julle ‘n wonderlike Kersfees geniet. Mag julle die vreugde van Jesus wat gebore is vir ons ervaar.

Toortsie

Suiwer verbeelding van die Toortsie met so hier en daar ietsie waarheid in.

Kantelpunt

Ek kry die laaste tyd net nie meer behoorlik tyd om te lees nie. Nie blogs nie, nie boeke nie. Tog lees ek baie. Dit klink my of ek uit twee monde praat. Want snags wanneer ek in die middel van die nag vir ‘n uur of wat wakker lê, lees ek boeke op my selfoon om sodoende hopelik nie my man te pla nie. Ek lees tans aan twee boeke: Lore of Nutrition (Prof Tim Noakes) en After the Rapture (David Jeremiah).

Toe ontdek ek oudioboeke. Ek het LIbby op my foon afgelaai, aangesluit by ons plaaslike biblioteek en by Libby aangesluit. Dáár kan jy e-boeke leen, maar ook oudioboeke. Ek kan sit en boeke luister terwyl ek my administratiewe werk doen, brei, hekel, borduur, kos maak. Wat ‘n fees! Ek het al Bookshop by the Sea (Denise Hunter) en A Distant Shore (Karen Kingsbury) gelees en kan albei van hulle aanbeveel.

Die laaste boek wat ek gelees het, was Kantelpunt (Sophia Kapp).

Terwyl ek dit luister, het verskeie emosies deur my kop (of hart?) gegaan. Want, nes Nellie, is ek ook ‘n vrou wat in die 1960’s gebore is. Ook Afrikaanssprekend. Ek verstaan waarvan sy praat. Natuurlik nie altyd in dieselfde graad as wat sy dit beleef nie, maar ek weet waarvan sy praat.

Heeltyd weet ek dat ek oor hierdie boek iets sal wil skryf, maar wat? In die begin is Nellie oortuigend negatief. Wroeg sy oor baie dinge. Sy beleef goed wat Afrikaanssprekende vroue uit die sestigerjare beleef. Sy beleef die konvensies waarmee ons grootgeword het. Dinge wat ons dalk maar net aanvaar selfs al stem ons nie saam daarmee nie. Sy praat oor dinge waaroor vroue van ons era nie normaalweg praat nie ter wille van vrede. Om nie die mense om ons te ontstel nie. Mense nie ongemaklik te maak nie.

Maar Nellie het ‘n stem en sy begin leer hoe om dit te gebruik. Dalk nie altyd soos ander wil hê sy moet dit gebruik nie, maar wel. Sy maak foute wat dalk nie foute is nie. Sy leer haarself ken. Sy leer die waarde in haarself ken. Sy spreek heilige koeie aan en kry nie altyd die reaksie wat sy verwag nie. Net soos wat ek dit ook nie altyd kry as ek dit doen nie. Want heilige koeie wil nie aangespreek word nie. Heilige koeie is heilige koeie om ‘n rede en dit moet in plek gehou word ter wille van dit wat ‘normaal’ is, selfs deur hulle vir wie dit benadeel. Want samelewing vereis dit.

Al wat vir my hartseer is is dat sy nooit haar amper wrewel teen die kerk laat vaar nie. Dat sy nooit God in Sy liefdevolheid, Sy Grootheid, leer ken nie. Dat sy nooit te doen kry met kinders van God wat haar regtig van Sy liefde leer nie, of, as sy wel met hulle te doen kry, dalk dit nie ervaar nie of dit verkeerd ervaar? Want kinders van God maak ook foute, dra dalk die boodskap op ‘n manier oor wat daardie persoon nie op daardie oomblik reg verstaan nie. Kinders van God mag dalk ook soms verkeerde redes hê hoekom hulle in Sy Naam optree.

Ek is baie bly dat ek die boek gelees het. Dat ek die groei in Nellie kon beleef en op soveel maniere daarmee kon identifiseer. Ek is trots op die Nellies in die samelewing. Die Nellies wat bereid is om stroomop te swem. Want stroomop swem is nie maklik nie. Dit is beslis ‘n boek wat alle vroue kan lees. En mans? Wel, as hulle dit sal lees met ‘n ontvanklike hart, kan dit ook vir hulle goed wees om te lees.

Ek is bly dat Nellie ‘n stem het. Ek is bly dat ek ‘n stem het.

Knap gedaan, Sophia Kapp. Knap gedaan.

Toortsie

Giggel-giggel

Kyk, julle het darem sekerlik nie verwag dat alles by die konsert presies tussen die lyne sou wees nie. Nie as Toortsie dit reël en dit in Toortsie se huis is nie. Gelukkig ken baie van die gaste vir Toortsie goed en glo ek ook dat hulle gereed kan wees vir enige gebeurlikheid.

Genadiglik het Toortsie goeie helpers gehad. In die eerste plek, uitstekende musikante en hét sy op hulle gesteun om die kwaliteit van musiek hoog te hou. Want sy speel nie Rustle of Spring soos ‘n ligte lentebriesie nie. Nee! Sy speel die woeste, wilde Novemberwinde wat hierdie jaar net nie wil ophou waai sodat die Transvalers reën kan kry nie! Dan is daar altyd nog die kans dat sy iewers in ‘n muur kan vashardloop terwyl sy speel of vergeet waar sy is of wat nog als? Enige iets is moontlik!

Sy reël vooraf met almal. Verduidelik hoekom sy die hulp wil hê al word sy gerusgestel deur haar skoonseun dat alles sal uitwerk. Die ding is, in ‘n kwessie van minute sal hier omtrent 40 mense opdaag en nie weet hoe en waar nie. Die erf en parkering is mos nie regtig gebou vir so ‘n skielike toeloop van mense en karre nie.

Alles verloop mooi. Gesellig. Lekker warm. Glad nie ‘n formele saal effek nie. Ook nie plek vir neusoptrekkery nie, die vertrek is te vol.

Die oggendkonsert verloop uitstekend. Toe kom die aandkonsert en ons moes vinnig planne maak toe ons lieflike sopraan siek raak en onttrek.

Alles verloop uitstekend. Selfs die vullers in die oop gate op die program verloop heel goed. Ek en my dogter speel die duet wat ek en die sangeres sou speel. Dogter het letterlik 10 minute gehad om dit in te oefen. Dit gaan heel goed.

Die volgende oomblik bars ek en Meisiekind in ‘n totale giggelaanval uit. In die middel van die stuk, met geen rede nie! Ons speel soms duette en dis gewoonlik chaos, want ons bladlees en mors en lag dan verskriklik.
Ek dink terwyl ons speel, sjoe dis darem net verskriklik lekker so saam met my kind. Ek loer vir haar en sy vir my en die volgende oomblik breek ons ons en lag so dat ons eers moet stop en beheer terugkry voor ons verder kan speel. 😂

Die stuk se naam is Witches Flight. Orrelmeester wat vir ons blaai, staan verstom. Het die besems nou aan die brand geslaan?

By die terugspeel van die opname klink dit of die lag ingeskryf is in die stuk. Want die musiek wat daarop volg klink soos die kekkellag van wegvlieënde hekse.

Ag, dit was pret!

Toortsie