Goedversorg staan sy in die deuropening van haar hipernetjies huis. Aan haar oë kan ek sien dat sy my nie herken nie; maar tog nooi sy my vriendelik binne. “Dit is so lekker om kuiermense te kry,” maak sy my tuis. Niks in die vertrek het verander vandat ek laas saam met Rika daar was nie. Teen die een muur glimlag die aantreklike donker man in sy “tuxedo” nogsteeds met ‘n breë glimlag vir my, en in die foto langs hom kyk ‘n pragtige jong vrou dromerig na buite. “Dit is Juan, my oorlede man,” sê sy toe sy sien ek kyk na die fotos. “Die ander een is van my toe ek jonk was.” “Vertel my julle storie,” vra ek. Sy kyk my vol twyfel aan. “Ek weet nie of hierdie 83 jarige kop nog alles mooi kan onthou nie, maar ek sal dit vir jou vertel as jy dit graag wil hoor.” “Asseblief,” vra ek, en maak myself gemaklik op die bank.
Sy begin haar vertelling by haar ma se dood toe sy elf jaar oud was. Dit maak diep emosies in haar wakker; soos haar vertelling vorder breek haar stem met tye, en ander kere kan jy die wroeging daarin hoor. Wanneer dit vir haar moeilik word om te praat kyk sy na die swartkopman in die foto, vee met ‘n sakdoek die trane van haar wange af, en hervat haar verhaal met die woorde; “Wonderlike man. Daar was nie kwaad in hom nie, soos jy hom daar sien lag so was hy altyd.” Met tye raak sy so stil dat ek wonder of sy nog bewus is van my teenwoordigheid; dan hervat sy haar verhaal, partykeer met ‘n herhaling van dit wat sy my reeds vertel het maar ek gee nie om nie, die verhaal van lief en leed boei my, en ek hang aan elke woord.
Annie was elf jaar oud toe haar ma oorlede is, en sy die huishouding moes oorneem. Haar pa het kontrakwerk gedoen, en net naweke huistoe gekom. Daar was drie jonger kinders, ‘n vyfjarige boetie, en twee sussies; onderskeidelik drie en ‘n half jaar, en veertien maande oud. Annie het nie teruggedeins vir die groot verantwoordelikheid nie; haar ma ‘n sieklike vrou het haar van kleins af geleer om vuur te maak, huis skoon te maak, wasgoed te was, te stryk, kook, en kinders te versorg.
‘n Buurvrou het aangebied om skooldae na die jonger kinders om te sien. Die huise was vêr uitmekaar, en toe Annie een oggend weer haar boetie en sussies moes terugneem huistoe omdat die buurvrou nie kans gesien het om die dag na hulle te kyk nie, het sy besluit om sonder grootmenshulp klaar te kom. In die oggende nadat sy die jonger kinders versorg het, het sy brood in ‘n vadoek toegedraai – dit so neergesit dat haar boetie dit maklik kan bykom – die deur agter haar toegesluit, en die drie en ‘n half myl skooltoe gedrafstap. Kom twaalfuur het die juffrou haar gesê sy kan gaan sodat sy die jonger kinders kan gaan kosgee.
Een Vrydagmiddag wag sy tevergeefgs vir haar pa om huistoe te kom sodat sy hom kan vra of sy na ‘n stranddiens toe kan gaan. Later besluit sy om die jonger kinders saam met haar te neem, en stap die drie myl strand toe. Die stranddiens is alles en nog meer as waarvoor sy gehoop het. Speletjies op die strand, en vir elke kind ‘n pakkie swiets voordat hulle huistoe gaan. Taai van die swiets kom hulle pikdonker by die huis aan. Haar hart klop in haar keel toe sy haar pa sien. Sy verduidelik waar hulle was. “Jy behoort pak te kry om so in die donker met die kleintjies rond te loop,” sê hy, maar dan versag sy stem. “Die huis is so mooi skoon, en alles so op sy plek dat ek dit nie oor my hart kan kry om met jou te raas nie.”
Klaar met skool gaan werk Annie as ontvangsdame in ‘n hotel op die seefront. Kamer en etes is ingesluit, en tot haar groot vreugde word die jonger kinders toegelaat om so nou en dan by haar te kuier, en oor te slaap. Sy verdien veertien pond ‘n maand; baie geld vir haar wat aan so min gewoond is. Die lewe glimlag breed oor haar.
Op ‘n dag kom die hotelbestuurder na haar toe en sê hulle verwag ‘n Kolonel, en Hertogin uit Engeland, en of Annie asseblief uit haar pad sal gaan om die vername gaste tuis te laat voel. Dit doen sy dan ook so goed dat die Kolonel haar nader en vra of sy nie by hom en sy vrou in Durban wil gaan werk nie. Sy is onseker; Durban is vêr van die Kaap af, maar hy maak sy aanbod so aantreklik, en verf vir haar so ‘n rooskleurige prentjie dat sy instem as haar pa sou “ja,” sê. Haar pa luister aandagtig na die Kolonel se beloftes van meer geld, en ‘n wonderlike toekoms vir haar, en gee sy toestemming. ‘n Paar weke later vertrek sy saam met die Kolonel en sy vrou na haar nuwe tuiste toe. Die huis is alles wat die Kolonel gesê het; ‘n veertien slaapkamer “mansion.” Wat hy haar egter nie vertel het nie is dat sy sonder hulp die swaar fluweelgordyne uit Engeland sal moet meet, korter maak, en hang, en daarna soos ‘n bediende in die huis werk. Haar salaris is die helfte minder as dit wat sy by die hotel gekry het. Die maande gaan verby en van die vername man se beloftes kom daar niks nie. Eensaam en diep ongelukkig werk sy voort. Die groot huis wat soveel beloftes ingehou het word ‘n gevangenis, en sy begin planne beraam om weg te kom.
Sy nader die Kolonel en vertel hom van haar ongelukkigheid, en haar begeerte om weer as ontvangsdame by ‘n hotel te gaan werk. Hy vra haar om nie oorhaastig te wees nie, en gee haar die versekering dat hy vir haar werk by ‘n hotel sal kry. Groot is haar blydskap toe hy kort daarna sy belofte waarmaak, en haar by ‘n hotel gaan aflaai. Maar sy is ontnugter toe sy uitvind dat sy nie as ontvangsdame aangestel is nie, maar wel as ‘n “chamber maid.” Om beddens op te maak, en piepiepotte leeg te maak was nie haar idee van werk nie, sy het ‘n werk gesoek wat vir haar vervulling sou bring. Binne haar was talente opgesluit waaraan sy uiting wou gee. Maar haar lewe het eers ‘n ander draai geloop.
Like this:
Like Loading...