Eintlik wil ek sê, ek het opgeslip, maar Toortsie hou nie van woorde soos ‘opgeslip’ nie, so ek sal dan maar sê, ek het drooggemaak. Behoorlik drooggemaak.
Ná haar dogter se troue was ek só kwaad vir Toortsie! Die kamtige Sarel het daardie hele week aandag gekry, terwyl sy my amper blatant geïgnoreer het. Dit, terwyl ek maar altyd agter die skerms dinge moes reghou.
Toe die troue verby is, pak sy op, Struisbaai toe, en dáár het sy haar so besig gehou met die familie wat daar gekuier het, sy het my skoon vergeet.
Die tóé wat ek besluit het, ek gaan die pad vat. So op my eie het ek die land deur getoer, my kop vol woede vir ou Toortsie.
Maar, op’n stadium het my gedagtes oor haar verander. Eers was ek woedend, toe skaam-kwaad, later net skaam, want ek het besef dat ek haar regtig lelik in die steek gelaat het. Ek was ‘n afgedwaalde Alter Ego! Dis nie eintlik iets om op trots te wees nie!
Eers was ek te skaam om terug te kom, maar later het ek tog my moed bymekaar geskraap.
Toe ek op die plaas aankom, is daar geen mens nie. Dooiemansdeur. Die huis staan leeg. Ek het die groot trek gemis!
Toe maar dorp toe, maar ek was nie seker van die adres nie. Hul sou eers in ‘n ander huis bly en het toe van besluit verander. Verder nog was sy deurmekaar met die straatname ook. Én die nommers! Ek dog Toortsie raak nie deurmekaar met nommers nie!
Ek het gaan klop by die adres wat sy soveel keer genoem het, maar daar het vreemde mense gebly. Ek het op en af in die straat gedwaal en toe by ‘n huis bekende goed raakgesien. Die huis was toe.
Een dag het ek verby die kerk gestap en hoor toe die orkes oefen. Sowaar, daar staan Toortsie ook! Ek het saggies saamgesing en sy het my gehoor!
Nou het ek julle raad nodig: Hoe kan ek Toortsie nader en om verskoning vra?
En dan wil ek ook net sê, Alter Ego’s trou nie! Die grappies oor Sarel is nie snaaks nie!
Ursula
Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page
Toortsie se Facebook page
Finesse Blogger of the week
Finesse: Om te pendel saam met jou man
Toortsie by Pinterest