Ai tog! Met Toortsie weet ‘n mens ook nooit. Maar eintlik is dit nie só nie, eintlik wéét jy mos by voorbaat dat jy enige iets kan verwag. Toortsie het vandag die groot stap in haar voetjies. Sien, sy mag mos nou skielik weer wettig stap.
Vroegoggend het sy al gou vinnig gestap om iemand te gaan sien, maar waar die moeilikheid eintlik begin het, was by haar droom laasnag. Sy het van haar ma gedroom. Sies tog, die tannie is mos in die ouetehuis en dis al van vóór die amptelike grendeltyd dat die oumense gegrendel was.
Intussen het hulle dit ietwat verslap en kan Toortsie by die hek by die stoep staan en dan bring hulle haar ma tot by die skuifdeur van die sitkamer en dan moet hulle so oor ‘n afstand kuier. Die vorige keer wat hulle dit gedoen het, was Toortsie vreeslik tranerig. Die ouma het haar glad nie herken nie, bet gedink dis Toortsie se tannie Eljo wat daar staan.
Vanoggend besluit die Toorts dat sy haar ma ‘n slag weer in lewende lywe moet sien. Het hulle dit nou geniet! So oor die afstand het hulle die nodigste gesê terwyl Janine die tolk was en die woorde tot by die ouma se ore gebring het. Sy die sjokolade en koekies net daar sit en eet en dit net voor ete!
Toortsie se stappery het nie daar gestop nie, sy hou toe sommer aan winkels toe ook. Soos ‘n opgewonde kind groet sy elkeen wat verbykom. Bied mense vir haar ‘n geleentheid aan, sê sy nee dankie. Die klompie kinders op hulle skaatsplanke moes eers vir haar wys wat hulle alles kan doen daarmee. Gesels met almal wat lus het. Vertel tot van die Towerinne en die spinnekoppe, ek het my só geskaam! Ek moes omtrent my lag sluk toe daar vier jongelinge van voor af kom en sy effens skrikkerig was en toe gedink het om, sou die nood druk, haar wegneemete vir hulle aan te bied! O, die mooiste was toe ‘n bakkie met ‘n vreemde persoon van voor af kom en by sy ruit uit sê: ‘Goeiemôre mevrou Burger’!
Nou ja, met Toortsie weet ‘n mens mos nooit, soos ek reeds gesê het. Sy sê sy breek so mure af en bou brûe, dis blykbaar haar roeping. Haar pa was ook so: Moes net ‘n brood gaan koop en kom drie ure later by die huis nadat hy ‘n geselsie aangeknoop het met almal. Hy het glo altyd gesê: ‘Madelé, groet die mense. ‘n Mens weet nooit of hulle nie dalk ‘n slegte dag het nie.’
Weet julle wat sê sy toe sy by die huis aankom? “My batterye is nou só gelaai, ek sien selfs amper kans vir Rebusfontein se spinnekoppe!” Tik my met ‘n veer om!
Ursula
Ns. As jy wonder wie ek is, ek is mos Toortsie se Alter Ego.
Toortsie op potgooi: https://soundcloud.com/user-39380642/oggendstappie-straal-god-se/s-aEAeYEHLHAw