Beurtwater

Beurtkrag is ‘n realiteit in ons land. So by tye gaan dit goed en dan, ewe onverwags, gebeur dit weer. Beurtwater was tot op hede nog nie vir my ‘n realiteit nie.

Ek het op ‘n plaas grootgeword en ons moes altyd water spaarsamig gebruik. Later jare het ons skemawater gekry van die Theewaterskloofdam af wat beteken het dat ons nie meer heeltemal so versigtig met water omgegaan het nie. Nie dat ons gemors het nie, maar wel nie meer heeltemal so spaarsamig nie.

Droogte is ‘n groot realiteit in ons land. Mense raak meer. Water raak minder. Die nodige onderhoudswerk word ook nie oral gedoen nie. Mense vergeet om sluise toe te draai. Gereeld hoor ek op die nuus van ‘n dorp wat nie meer water het nie. Ek kry nou nog ‘n knop in my keelvan die kwer toe die hele land se vakansiegangers vir Beaufort-Wes 5 liter waterkanne aangery het.

Ek het dit, beurtwater, nog nie beleef nie. Ja, ons het in die Kaap gaan kuier terwyl Dag Zero ernstig gedreig het. Dan het ons maar kanne water van die huis af saamgery en probeer om nie te stort indien dit regtig nodig is nie sodat ons so min as moontlik druk op die waterskema plaas.

By ons dorpshuis het ons tenke opgesit. Tenke wat ons dakwater opvang as dit reën. Daardie water gebruik ons in die huis en ons gryswater word weer in ander tenke opgevang waarmee ons die tuin natspuit. Dit werk baie goed. Ons het wel soms nodig om nog van die munsipale water ook te gebruik, maar dis minimaal.

Hierdie afgelope vakansie by die see word deur twee dinge gekenmerk: Geweldige slegte weer en stormwinde en die waterkrisis. Net voor die vakansie aangebreek het en die hele land se mense hiernatoe stroom, het ‘n waterpomp gebreek. Struisbaai se water kom uit boorgate, terloops. Elke jaar is hier maar ‘n krisis as die vakansiegangers hier is en moet ons mooi werk met die water, maar vanjaar was dit erg. Baie erg.

Hulle was genoodsaak om twee nuwe boorgate te boor terwyl die dorp reeds oorvloei het van mense. Ons het bedags geen water gehad nie, behalwe vir drie dae wat ons wel water gehad het. Saans half twaalf het ons die pype hoor raas, dan het ons vinnig die kanne vol water gemaak, die skottelgoedmasjien het sy werk gedoen en ek het die paar goedjies wat oor was met die hand gewas. Soggens as die vakansiegangers wakker word, het ons water opgedroog.

Dit was vir my ‘n goeie leerskool. Ek het gesien met hoe min water ‘n mens werklik kan klaarkom. ‘n Ketel water saam met vyf liter koue water is genoeg om heerlik in te bad. Ek, wat in elk geval nie elke dag huis skoonmaak nie, het nóg minder huis skoongemaak. Ons het wasgoed gewas wanneer daar wel genoeg water was om die masjien vol te maak. Die jongklomp het leer stort met ‘n vyf liter kan water, hoe, weet ek nie. Toilette is slegs getrek wanneer dit regtig nodig was.

Ons het ook besin oor die waterkrisis, want realiteit sê vir ons dat dit selfs erger kan word oor tyd, selfs al het ons munisipaliteit regtig hulle bes gedoen om die krisis af te weer. Dalk moet ons almal in die land oorweeg om watertenke op te sit en ons reënwater op te vang sodat ons minder afhanklik is van munisipale water. Dis wat ons nou ook beplan hier by die see.

Ek is dankbaar dat daar wel snags water was, ook vir die wa met watertenks wat sommer net drie erwe van ons af was waarby ons kon gaan tap as die nood regtig gedruk het.

Toortsie

Foto-uitdaging Photo challenge

Die uitdaging is om die heel laaste foto wat jy nog geneem het, te plaas. This photo I took this afternoon of Banting/ Keto friendly eats for dinner. Gammon, ham, brie, Goudacheese, cucumber, blue berries and cherries.

Toortsie

#lchf #banting #keto

Nowathome

2019 – 'n Terugblik

Op die laaste dag van 2019 is dit onvermydelik om nie ‘n bietjie oor die jaar te dink nie. As ek na 2019 kyk sien ek ‘n hele spektrum van dinge: goeie dinge, slegte dinge, hoogtepunte, laagtepunte.

2019 was nie die maklikste jaar wat ek al beleef het nie. 2019 het sy uitdagings gehad. Sinkplaatpad. Moedverloortye.

In 2019 het ek ook wonderwerke beleef. Tye wat ek net my hande saamgeslaan het in verwondering. Ek het God sien werk. Ek het ervaar hoe Hy gebede wat al vir baie jare gebid word, beantwoord. Soms, uit die bloute, het daar iets gebeur wat ons glad nie verwag het nie en het ons net besef dat God groot is, dat ons God-in-werking beleef. Soms, onverwags, het ons die wonderlikste verrassing denkbaar gekry.

Aan die einde van 2019 wil ek net vir God loof en prys vir elke stukkie genade wat Hy oor my pad gestuur het, vir elke wonderlike present uit Sy hand, vir alles wat goed was wat gebeur het. Ek wil Hom ook dank en eer dat Hy saam met my was wanneer die pad moeilik was. Dat Hy my regop gehou het waar my knieë soms wou knak. As ek terugkyk oor 2019, kan ek nie anders nie as om Sy goue draad van beskerming, van genade, van omgee raak te sien nie.

Mag jy, as jy terugkyk oor 2019, God se hand in jou lewe raaksien. Mag jy die Goed wat Hy vir jou bewerk het, raaksien en Hom daarvoor eer. Mag jy sien hoe Hy jou deur slaggate gehelp het, opgetel het as jy val, moed gegee het waar jy moedeloos was. Mag jy God eer vir wat Hy in jou lewe doen.

Mag 2020 vir jou goed wees.

Toortsie

Gebare van goedheid

Ek het gister die 40 uitdagings van Waag dit om lief te hê (The Love Dare) geplaas. Vandag kyk ek ‘n bietjie na dag 2 se uitdaging wat só lui:

Vandag mag ons weer eens niks negatiefs van of vir ons geliefde sê nie. As ons nie iets positiefs het om te sê nie, bly ons eerder stil. Ons moet ook ‘n daad van goedheid teenoor ons geliefde doen.

Watter dade van goedheid is daar om te doen?

Die heel maklikste daad van goedheid is natuurlik sommer net om vriendelik te wees. Of om hom te help met ‘n takie wat hy gewoonlik self doen. Of om vir haar die badwater in te tap.

Hierdie oulike webblad het ‘n hele klomp idees hoe om dade van goedheid teenoor jou huweliksmaat te betoon:

  • Trek ‘n hartjie op die toegewasemde spieël terwyl hy in die stort is.
  • Staan vroeg op en maak vir hom ontbyt.
  • Was sy kar.
  • Vertel hom iets wat jy van hom waardeer.
  • Bel haar onverwags deur die dag net om te sê jy is lief vir haar.
  • Gee hom ‘n kopmassering.
  • Kyk sy gunstelingsport saam met hom.
  • Reël ‘n manneaand vir jou man.
  • Verras hom met ‘n warm handdoek ná sy stort.
  • Stel ‘n speellys saam van liedjies wat julle graag geluister het toe julle nog uitgegaan het.
  • Maak ‘n lysie van alles wat jy van jou geliefde hou en los dit op haar kopkussing.
  • Vra hom uit oor sy dag en luister belangstellend.
  • Maak middagete vir hom.
  • Los ‘n mooi notatjie op ‘n Post-It papiertjie op haar stuurwiel.
  • Vertel haar iets wat jy van haar waardeer.
  • Gee jou man ‘n nekmassering.
  • Lees ‘n boek wat hy kort gelede gelees het en bespreek dit met hom.
  • Tittewyt jouself asof jy na ‘n partytjie toe gaan en wag jou man in ná ‘n lang dag.
  • Verras haar met ‘n klein geskekie sommer net ‘omdat’.
  • Vertel haar van jou gunsteling herinnering van julle twee saam.
  • Berei sy gunstelingkos voor.
  • Gee hom ‘n kompliment.
  • Versteek ‘n liefdesnota in sy beursie.
  • Krap sy rug.
  • Druk foto’s van julle twee saam en sit dit oral neer in die slaapkamer en badkamer.
  • Gee hom ‘n hand- en voetmassering.
  • Stuur hom gedurende die dag teksboodskappe om hom te wys jy dink aan hom.
  • Gaan op ‘n ‘date’.

Om goed te wees vir jou maat is nie moeilik nie, ons moet dit mos in elk geval doen. Ek kan net dink dat dit vir ‘n huwelik goed kan wees as ons dit doelbewus meer doen as gewoonlik, as ons sommer net ‘n bietjie daarop konsentreer.

Dit is mos nie moeilik nie?

Toortsie

The Love Dare – Waag dit om lief te hê

As daar ‘n boek was wat ons geweldig baie gehelp het, is dit die boek, Waag dit om lief te hê. Die 40-dae uitdaging.

Hierdie boek is gebaseer op die Christelike fliek, Fireproof, ‘n fliek wat ek regtig vir elke getroude paar wil aanbeveel om te kyk. Ook War Room. Die fliek is reeds ‘n paar jaar gelede uitgegee, dit sal seker op die internet beskikbaar wees.

Verhoudings is in die duiwel se visier, hy maak dit sy prioriteit om verhoudings moeilik te maak en om ‘n verhoudng te laat werk, moet ons eerstens God se hulp inroep, maar ook hard daaraan werk. Ons almal begeer tog ‘n gelukkige huis, of hoe? Ons kan mos nie ons lewe lank bly vat en los en vlug sodra dinge nie reg loop nie? Dis juis deur te werk aan jou huwelik, deur vas te hou in swaarkrytye, wat jy ook die goeie daarvan ervaar en nuwe dimensies van liefde ervaar omdat jou verhouding verdiep. Die beloning is groot as jy bereid is om vas te byt en jou deel te doen.

In die boek, Om lief te hê ten spyte van seerkry, praat van die spelonk van getroudes. Dit is die graf wat Abraham vir Sara gekoop het en waarin die aartsvaders begrawe is, almal getroude pare. Hy noem ‘n belangrike ding, dat, om in die spelonk vir getroude pare begrawe te kan word, huwelikspare deur goeie én slegte tye bymekaar moet bly. Elke huwelik kry sy goeie én sy swaar tye en as ons die swaar tye deurleef, is die goeie tye daarná net soveel beter. Hierdie boek is beslis ook ‘n boek om te lees en te herlees.

Waarvan ek baie van Waag dit gehou het, was dat dit oor veertig dae elke dag iets in die huwelik aangespreek het. Sonder versuim het hy elke dag goeie raad gedeel, maar ook op iets gewys wat die dames graag doen wat die huwelik benadeel en wat die mans ook doen wat nadelig is vir die huwelik. Aan die einde van die hoofstuk is daar ‘n uitdaging om te doen in die volgende 24 uur, soos byvoorbeeld om nie een negatiewe ding vir of oor jou maat te sê nie.

Hier is ‘n opsomming van die uitdagings wat ek hier raakgeloop het: http://www.shenzhoufellowship.org/main2/files/old/SpecialTopics/TheLoveDare.pdf

Dalk het jy lus om die uitdaging vir veertig dae te aanvaar? Geen huwelik kan onaangeraak bly as daar vir veertig dae daadwerklik en positief daaraan gewerk word nie, of hoe? Kom ons maak weer ons huwelike goeie huwelike en ons goeie huwelike uitstekend.

Waag dit!

Love Dare Uitdaging 1: Vandag sê ons niks negatiefs vir of van ons geliefde nie.

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.