Al weer plastiek

In ‘n poging om minder plastiek te gebruik, nie net in Augustus nie, maar elke dag van my lewe, hou ek my oë en ore oop vir nog maniere om minder plastiek te gebruik. Die realiteit is dat ons steeds baie plastiek gebruik in die huis en dat dit regtig moet gaan oor minder plastiekverbruik, eerder as om te konsentreer op herwinning, omdat slegs ‘n klein deeltjie plastiek wel herwin word.

Ek probeer die plastieksakoorlog wen deur my lap- en papiersakke saam te neem winkel toe, waar moontlik eerder los groente te koop in gaassakkies as voorafverpakte groente. Baiekeer dra ek my inkopies sommer los in die hand as dit min is en ek my sak vergeet het.

Dan is my man so oulik om ‘n groentetuin te hê, so ek koop aansienlik minder groente wat verpak is.

Ek koop ook eerder eiers wat slegs in karton verpak is en nie nog ‘n plastiekomhulsel ook het nie.

Ek probeer onthou om te vra dat hulle my stukkie gaar hoender sommer net in ‘n papiersak sit, in plaas van ‘n polistereenbakkie.

Ek koop mayonnaise in glasbottels, eerder as plastiekbottels, maar soms is die prysverskil net só groot, dan knyp ek maar weer oë toe.

Ek konsentreer daarop om by die kassier te keer dat hulle nog weer seep of vleise in ‘n ekstra broodsakkie druk.

Ek probeer om eerder water uit die filterkraan te drink en minder gaskoeldrank uit bottels uit.

Ek kook in grootmaat en verpak die kos in stewige herbruikbare plastiekbakkies Met tyd sal ek oorskakel na glasbakkies met plastiekdeksels.

Nou lees ek gister in die Platteland van plastiek in klere en ek besef ek skiet ver te kort en wonder of ek ooit dáárdie oorlog sal wen, selfs of ek dit wíl probeer wen. Want ek is mál oor ‘n styfpassende broek met rek in die materiaal. Ek koop graag klere wat sommer net gewas en gedra kan word sonder dat dit eers gestryk moet word. Ek weet nie of ek regtig weer wil teruggaan na egte linne en katoen wat kreukel sommer as jy daarna kyk nie.

Net gister het iemand my gewys dat ons ons geskenke eerder in ‘n kombuisvadoek of ander artikel moet toedraai met ‘n strik om, net om die klompe geskenkpapier wat ook regtig ‘n vermorsing is, te verminder. Ek hoop natuurlik dat my geskenk so groot is dat hulle ‘n tafeldoek nodig het om dit in toe te draai. 😁

Dis ‘n lewenslange stryd en ek weet die geveg gaan eintlik oor plastiek wat net een keer gebruik word en dan in die asblik beland. Die doel van hierdie skrywe is nie om te wys hoe oulik ek is om darem al lapsakkies te gebruik nie. Dis eerstens om myself op die tone te hou, maar dalk gee dit tog vir een persoon ‘n idee om iewers in haar huis te besnoei op haar plastiekgebruik.

Mooi dag

Toortsie

Advertisements

Wasdag nr 13 uitdaging: Gesondheid

Heel eerste wil ek vir Scrapydo om verskoning vra dat ek die laaste tyd so min, eintlik glad nie, aan haar bloguitdagings deelgeneem het nie. Die lewe het net gebeur en ek het nie soveel by blogs uitgekom nie, minder geskryf en ook minder ander blogs gelees.

Hierdie week se uitdaging gaan oor gesondheid.

2019 is vir my en my man nogal gesondheidsgewys ‘n uitdagende jaar. ‘n Jaar met baie stroomversnelings. Vroeg in hierdie jaar het ons die fliek, Stroomop, gekyk en dit was amper profeties, behalwe dat ons toe al van die stroomversnellings sien aankom het.

Nou kan ons dankbaar terugkyk op ‘n jaar waarin die twee van ons in ‘n tydperk van twee maande drie groot operasies ondergaan het. As ek dink dat ons een baie goeie vriend vanjaar ‘n terugslag gehad het met sy geveg teen kanker, maar dat dit darem nou onder beheer is, ‘n ander goeie vriend is tans in die hospitaal nadat 75% van sy lewer verwyder moes word, nóg ‘n goeie vriend is onseker oor sy gesondheid, kan ons net die Here loof dat Hy ons bewaar het deur hierdie jaar vol stroomversnellings.

Met dankbaarheid kan ons sê dat dit goed gaan met ons albei se gesondheid en dat ons vorentoe kyk. Alle eer aan ons Here.

Toortsie

Reën-reën-waar-is-jy-woordsnoer

Die aarde smag na reën.

Afrika smag na reën.

Suid-Afrika smag na reën.

Mens en dier smag na reën.

Ons hoor die een noodkreet ná die ander.

Keer op keer is daar nóg ‘n reënseisoen verby sonder genoegsame reën.

Dorpe kry swaar.

Boere kry swaar, hulle vee vrek, hulle graan groei nie. Alles is asvaal. In eensaamheid verval hulle, asof hul paria is. Duskant moedverloor.

Geen oproerige gedans of gejuig nie, geen eteriese klank van reen wat giet op ‘n dak nie. Geen poeletjie water wat iewers glim nie.

Geen plantegroei wat ontwaak ná ‘n lieflike reënbui in die Karoo nie.

Slegs ‘n gewag.

Stede kry waterbeperkings in die uiterste graad. Hulle vrees Dag Zero. Die swembad, waarby voorheen gazanias geplant was, word nou die opgaarpunt vir gebruikwater.

Dit voel soms of die aarde in ‘n oorlog gewikkel is teen die natuur, terwyl die aarde deel is van die natuur. Impi.

Die wolke weier astrant om te kom.

Mense verloor moed.

Verloor hoop.

Soos ‘n hert in dorre streke, smag my siel na U, o God.

Tog bring God uitkoms. Tog stuur Hy reën. Kry daar dele in ons land tog reën. Gebeur daar wonderwerke.

My hart gaan uit na elke persoon wat geraak word deur hierdie uitmergelende droogte. Mag God gou uitkoms gee. Mag die reën kom. Mag hier fees gevier word in Suid-Afrika.

Daarom kan ek net, saam met elke boer, elke mens, bid vir Suid-Afrika, Vader, dat U ons genadig sal wees. Dat U vir ons land reën sal bring, want Here, ons het U nodig om ons harte skoon te was, maar ook die reën so bitter nodig dat ons kan lewe. Seën ons land, asseblief Here. Amen.

Het jy al ‘n boer sien dans in die reën? Het jy self al gedans in die reën? Ek het al.

Toortsie

Bloguitdaging van Lekkervurige Vuurvliegie. Volg die ander bloggers se woordsnoere hier: https://fresh.inlinkz.com/p/f64779e6a80c44bfb5baa671f2d5bcdf

Sutherland Save the Sheep Projek

Droogtehulp met Burre Burger

Boere in Nood

Skoenboks vir boervroue in die Karoo Projek

Misterie in die biblioteek – Hoofstuk 8

Die Towerinne is mos na ‘n ou herehuis daar naby Rebusfontein om die ou, vervalle biblioteek te gaan restoureer, maar hulle maak lankal nie meer biblioteek skoon nie. Nee, soos wat enige een wat die Towerinne ken, sou verwag, het dit ontaard in heeltemal iets anders. Die Towerinne is besig om ‘n groot misterie uit te rafel! En, voorspelbaar soos sy is, het Broodina ook al weer haar opwagting kom maak en is sy al weer hard besig om onder die radar moeilikheid te maak.

Bang staan die Towerinne in die kelder rond. Stukke geraamte lê oral rond. “Mense, ons moet begin beweeg, sommer nou-nou kom Broodina en die polisie ook nog hier aan”, sê Vuurvliegie.Scrapydo, neem jy en Una die juwele wat julle gevind het en gaan versteek dit asseblief in die tuin. Ek dink dis nodig dat Una ‘n bietjie vars lug kry en dis net makliker as twee van julle weet waar dit versteek is. Julle moet gou speel, voor Broodina en haar gevolg hier opdaag.” Kameel vra dadelik of sy ook kan saamgaan, die noutevrees vang haar kwaai.

Voor jy kan sê ‘mes’, is die drie daar weg.

“Julle wil nie hoor as ek vertel van my ouma nie”, sê Toortsie. “Julle moet nou luister, dis regtig belangrik.”

“Ja, Toortsie, vertel vir ons,” sê Trommeltjies.

“Ek kan ook maar nou nie meer lekker onthou nie, onthou, my ouma is al oorlede toe ek nog in die laerskool was. Sy het vertel van tannie Kokkie wat met ‘n Engelsman getroud is en toe as kok by mense gewerk het. Ek kan nie name so lekker onthou nie, maar toe Lekkervurig vertel van Joseph Angelwood, toe lui daar ‘n klokkie.”

“Wat vertel jy ons nou?” vra Perdebytjie baie belangstellend.

“Dis regtig nou baie deurmekaar en die goed maak nie sin nie, maar sy het vertel hoe sy haar maar ontferm het oor die dogter van die huis, haar ma het haar blykbaar maar geïgnoreer en baie swak behandel. Die kinders was glo aangeneem, dink ek.”

“Ja, dit klop met ons storie”, sê Woordnoot, “dink julle dit kan hierdie Mev Marks wees van wie Toortsie praat? Toortsie, nou moet jy mooi dink, is daar nóg iets wat jou ouma vertel het?”

“Julle moet onthou, ouma Ellie was self ‘n dogtertjie toe sy hierdie tannie Kokkie geken het. Tannie Kokkie was al stokoud en het deurmekaar gepraat. Sy het blykbaar oor en oor iets gesê van twee fonteine en van ‘n portret. Verder kan ek nie veel onthou nie.”

“Portret? Twee fonteine?”, vra Positief, “mense ons moet soek. Lig ‘n bietjie met die koplampe dat ons kyk of hier nie iewers so ‘n portret is nie.”

“Wraggies! Julle, kom kyk!” Christa staan opgewonde met haar kopliggie en wys na ‘n skildery wat op die vloer lê. Dit het van die muur afgeval, die raam gekraak en die glas stukkend. Dis ‘n landskap, maar daar is duidelik twee fonteine.

Dadelik is die Towerinne almal by en bekyk die skildery van nader. Nee, daar is niks vreemds aan nie. Bondelsgedagtes En Seegogga ken natuurlik skilderye en bekyk dit baie mooi. Dan draai hulle dit om en sowaar, hier staan dit geskryf!

Soek dagboek. Onsigbare ink. Spat nat.

Verlig dat hulle uit die muwwe kelder kan kom, gaan die Towerinne soos een man biblioteek toe. Tannie Frannie begin die boek natspat, lees so vinnig soos sy kan en vertel hier en daar wat sy lees. “Dit lyk my Charlotte en Joseph se verhouding het aangehou nadat Klara gebore is. Thomas is ook hulle kind, wat die Angelwoods toe aangeneem het. Die Hardy’s was eers vermoënde mense, maar het hul grond verloor, wat Mnr Hardy gedwing het om ‘n Butler by die Angelwoods te word. Haar pa het haar nooit vergewe dat sy hul gesin so in die skande gesteek het met die swangerskappe nie. En dan lyk dit my of Mnr Hardy en Isabelle kop in een mus was en te doen gehad het met Charlotte se wegstekery in die kelder.”

“Sulke duiwels!”, sê VirgoC kwaad. “Haar eie pa! Hy moes ‘n sielsieke man gewees het, kwaad vir almal omdat hy sy grond verloor het, toe moes arme Charlotte sommer boet vir al die sondes wat sy gedoen het en nie gedoen het nie! Ek verwurg hom sommer as ek hom net in die hande kan kry!”

Net toe kom Kameel, Scrapy en Una van buite af in. “Sjoe! Ons was nou net betyds om die juwele te versteek. Broodina en haar gevolg is in aantog, Hoor net hoe loei die sirenes. Ons moet ons nou net dom hou. Steek vinnig weg wat waardevol is, laat hulle maar die geraamte vind, ek dink nie hulle sal die res ontrafel kry nie. Ons is onskuldig, ons maak mos maar net huis skoon.”

Nou wonder ek:

  1. As dit wel Klara is wat Charlotte se dagboek weggesteek het, het sy dalk tog die waarheid uitgevind?
  2. Sou Klara en Charlotte soms mekaar gesien het?
  3. Was Leonard ook dalk op ‘n manier kop in een mus met sy suster en Mnr Hardy? Ek dink Leonard en Isabelle was jaloers op Joseph omdat hy die familieskatte geërf het.
  4. Ek wonder steeds wat het gebeur dat hulle die huis net so agtergelaat het.

Christa, sal jy asb die raaisel verder ontrafel?

Toortsie

Stel jy belang om hierdie hele storie te lees? Kliek HIER om al die hoofstukke te lees: https://fresh.inlinkz.com/p/3f26291088494dc99c7aa4554a66a313

Suiwer verbeelding van Toortsie, en die hele lot Towerinne daarmee saam.

Interessante identifikasie

Ek moet die pendelpad terug aandurf met een van die plaasbakkies en diesel by ons verskaffer langs die pad ingooi. Heeltyd wonder ek of hulle vir my die diesel gaan gee, ek is nie geregistreer op die stelsel nie, ook nie die betrokke bakkie nie

Sonder probleme gooi hulle die diesel in.

Nou wil ek eers vertel dat my broer en ook my seun al by padblokkades deurgelaat is met my bestuurslisensie! Dis nie dat ons gejok het nie, albei lyk na my, maar ons het gevra of ek maar myne kan wys. Broer het syne vergeet en seun s’n was agterin die kar se kattebak toegesluit

O, hoe het ek die diesel gekry? Hulle het my honde herken!.

😂

Toortsie