Wanneer ander beter weet

Ek is sekerlik die laaste persoon wat hieroor mag skryf, want ek weet ook soms té beter.

In TPM is ek geleer dat die brein presies onthou wanneer jy vorige kere in jou lewe gevoel het presies soos nou. En dan natuurlik ook waar daardie gevoel se oorsprong is.

Ek is gefrustreerd met ‘n diensverskaffer wat in die verlede vir my uitstekende diens gelewer het. In Januarie 2021 moes hier ‘n klein verstellingkie kom en sedertdien is dít wat eintlik verbeter moes word, swakker. Ag, dan werk dit beter, dan swakker. Ek het hulle ‘n paar keer gebel en gevra dat iemand hiernatoe sal uitkom, maar hulle kom nie sommer net uit na enige kliënt en hier is eers ‘n paar toetse wat ek moet doen voor hulle kan uitkom. Elke keer is daar ‘n redelike aanvaarbare rede gegee hoekom dit nie werk soos dit moet nie, maar steeds werk dit nie.

Totdat ek gister my speelgoed nog nie so behoorlik nie, uitgooi. Hulle kom uit, doen ‘n paar verstellings, ry weer. NIKS het verbeter nie. Ek stel iets voor, wat ek vandag hoor, hulle hoof ook voorgestel het, maar vanoggend het iemand weer eens gevoel dat dit nie nodig is nie. Ons wag eerder nog ‘n ruk.

Dis tóé wat die frustrasie opbou en meer speelgoed uit die kot gegooi word.

Wat het dit met die TPM te doen? Ek onthou toe waar ek die eerste keer so gevoel het. Presies daardie selfde frustrasie. En noudat ek groot is, die frustrasie van PRAAT en nie GEHOOR word nie. Nie gehoor WIL word nie. Want die ander persoon WEET MOS BETER.

Ek was 6 jaar oud. Erge tandpyn. Ek huil dae en nagte om. Regter boonste kiestand is verskriklik seer. Bredasdorp het nie daardie tyd ‘n tandarts nie. Dit beteken dat ons Hermanus toe moes ry. Nog nie so ‘n mooi pad soos vandag nie. Daar aangekom vra die tandarts vir my watter tand. Ek wys hom. HY besluit: Nee, ek sal nie weet watter tand in my eie mond pyn nie. Veral nie terwyl dit al ‘n hele paar dae en nagte pyn nie. Hy trek links bo. Vir jare daarná het ek geweier om my mond vir ‘n tandarts oop te maak. My tande is getrek toe ek onder narkose was vir my mangels.

Verstaan jy daardie frustrasie? Wat sal ek nou weet of die ding in my huis werk soos dit moet? Huh? Regtig? Ek is mos nie ‘n ingenieur of ‘n tegnikus nie?

So, hoe laat dit my voel?, vra ek myself in my TPM sessie. Soos ‘n NONCOMPOUP. Soos iemand waarna nie geluister hoef te word nie. Dat ek NIKS weet nie, die ander persoon wat NOG NOOIT IN MY HUIS WAS NIE, weet beter.

Toe sê God vir my (wat ek mos eintlik weet): Hy luister vir my. Hy hoor my. Wat ek sê is nie minderwaardig nie.

Mooi né? Raai, en nou is ek glad nie meer so gefrustreerd nie. Jy weet, as húlle nie wil hoor nie, is dit mos eintlik hulle probleem. Dan nie?

Toortsie

Ons familie swem nie eintlik nie

Ja, daar is van ons wat swem, maar ek hou glad nie van swem nie en my pa het nie eers met sy voete in die water geloop of visgevang nie. Dis eintlik ‘n skande as jy daaraan dink dat ons omtrent teen die see gewoon het en my ma tog baie lief was vir swem. Maar nee, my oom het verdrink en daarom is ons almal nou bang vir water. En net indien jy wonder, dit was laaaaank voor my geboorte, my pa was maar ‘n skrale 5 jaartjies oud. En nee, oom Daantjie het nie geswem en verdrink nie. Hy het visgevang toe ‘n fratsgolf hom in die see ingeslaan het en te pletter teen die rotse en hulle nooit sy liggaam kon vind nie. Sies tog, dit moes ‘n groot skok vir my oupa-hulle wees wat toe sekerlik maar gekeer het dat hulle kinders onnodig in die water ingaan.

So kyk ek baie keer hoe ander mense hulleself in die swembad of see geniet, maar die moed is net nie genoeg om self ook in te klim nie, selfs al is die lus daar. En as hulle my nog natspat of net waag om aan my te raak, raak die angsvlakke so hoog, ek klim sommer uit.

‘n Belaglike opmerking wat iemand vir my op die verkeerde tyd gegee het, het my laat wonder hoekom dit my so ontstel en ek ondersoek dit toe maar op my ou manier: TPM (Transformation Prayer Ministry). Soos ek al voorheen gesê het, is TPM ‘n voordurende proses wat iemand wat die proses aangeleer het, ook op homself kan toepas. En dit is nie altyd die voor die hand liggende goed wat uitspring nie, maar soms dinge wat jy nie eers geweet het bestaan nie. En God praat met elke persoon op Sy eie manier, soms op regtig vreemde maniere.

In my TPM-gesprek met God kom ek uit by ‘n vreemde leuen: Onbevoeg, en dat ons familie nie kan swem nie. En ons kom by ‘n insident uit wat al voorheen sy kop uitgesteek het, maar in ‘n ander hoedanigheid: Die dag toe ek in standerd twee my kop onder die water moes druk om te leer asemhaal onder water. Die vorige keer het God vir my gewys dat ek kán dryf en effens swem, geen rede dus tot angs nie.

Hierdie keer ervaar ek dat ek diep onder die see in ‘n emmer sit. Heeltemal veilig. Die emmer se deksel is op, daar is genoeg suurstof en ek kan heeltemal gemaklik in hom sit. Maar terwyl ek daar sit, mis ek al die pret. Wil ek daar bly sit, of wil ek die deksel afhaal en uitkom? Deksel afhaal beteken water wat instroom, beteken ek word nat, my gesig ook. God wys my dat ek bevoeg is om die deksel af te haal, om vry te kom van ‘n familieleuen, maar ek en slegs ek kan die deksel afhaal. Ek stamp die deksel af en gaan vanself na bo, want ek kán mos dryf! En soos ek boontoe beweeg voel ek hoe ek bevry word.

Watter familieleuen dra jy met jou saam? Is julle familie maar stadig? Dom? Meestal minderwaardig? Is mense met jou naam geneig tot selfmoord? Het jy ‘n sterk angel omdat jy ‘n Skerpioen is? Is jullle familie slim, maar verkies om eerder julle talente weg te steek? Of is julle maar sommer ‘n voorbarige klomp? Kan julle nie eintlik stories vertel nie terwyl jy in der waarheid met ‘n sak vol stories in jou rondloop? Of ons familie sal altyd sukkelaars bly. Ons hou ons geloofslewe privaat en praat nie daaroor nie. Watter familieleuen bind jou vas? Pootjie jou? Druk jou in ‘n emmer? Dalk is dit tyd om dit af te skud. 🙂

En nee, ek gaan nie nou skielik ‘n Springbokswemmer raak nie, maar ek dink dat, as die water nie te koud is nie, ek dalk meermale in ‘n swembad mag klim in die toekoms.

Toortsie

Terugflitse

Scrapydo daag ons uit om oor terugflitse te skryf. Sy vra spesifiek watter boek ons gelees het wat ons aan iets herinner. Ek dink om dit dalk uit ‘n ander hoek te benader, want op hierdie oomblik kan ek nie aan ‘n spesifieke boek dink nie. Eintlik, elke boek wat ek lees maak tog op een of ander manier iets wakker ten opsigte van jou huidige omstandighede of anders iets wat jy onthou.

Onder andere skryf sy dat ek en Kameel die oudste blogvriendinne was wat sy gemaak het. Wat ‘n eer! Maar dadelik bring dit die terugflits in my kop dat ek en Kameel op ‘n stadium ‘n blog saam bedryf het. Dat Kameel saam met my geskryf het en dat dit baie lekker was, maar toe sy die dag bel om te sê dat sy haar eie blog wil begin, was dit ook goed en het ek dit vir haar gegun.

Terugflitse is die een ding waarmee ons werk by TPM (Transformation Prayer Ministry). Dit is die ding wat ons by die wortel van die probleem uitbring. Want nou se krisis is gewoonlik mos nie regtig nou se krisis nie. Ons vra die kliënt om te fokus op die gevoel wat hy het en sy brein onthou dan onmiddellik die ander kere wat hy net so gevoel het. Ongelooflik! Dit is soos as jy by ‘n winkel verbystap en skielik aan iemand anders dink omdat jy vir ‘n oomblik iets gesien het wat daardie gedagte wakker gemaak het.

Nou die dag was ek baie gefrustreerd en ek het behoorlik my speelgoed uit die bababed gegooi. Daardie aand, lank na slaaptyd, lê ek en wonder: Hoekom het ek so oorreageer? Die frustrasie was dat daar dinge is wat gedoen moet word, maar net nie gedoen word nie.

Ek fokus op die gevoel en die terugflits kom: Toe ek in standerd twee in die koshuis was, was die klavier in ‘n klein sitkamertjie wat ook die juffrouens se sitkamer was. Wie se briljante idee sou dit wees? Daar is duidelik vir ons gesê: As die rooster sê jou oefentyd is Dinsdae om 4 nm, sal jy daardie tyd oefen. Daar aangekom op my bestemde oefentyd, sit die juffrou en haar kêrel daar. Wat moet ek nou doen? So ek oefen maar. Juffrou en kêrel loop uit. Ek voel simpel. Oorbodig.

Die volgende dag is die klavier geskuif na die eetsaal/studiesaal. So as ek wou/moes oefen, was daar gewoonlik ‘n ander klomp raasbekkies ook. Of ons moes in die kleinsaal gaan oefen, met ‘n nog groter klomp kekkelbekkies in die vertrek. Later jare toe ek meer gevorderde goed gespeel het wat soms Sforzando was, was dit die koshuisvader se onaangename taak om te kom sê dat ek te hard speel. Oorbodig. (Frustrasie: Ek moet oefen, dit moet gedoen word, maar word dit nie behoorlik gegun nie.)

En toe sê God vir my dat as ek vir Hom speel, dit nooit oorbodig is nie.

En hy vervang die leuen van ‘jy is oorbodig’ na die waarheid van ‘jy is welkom.’

Terugflitse is nie daar om jou te ontstel nie. Dis juis daar sodat jy die leuen wat jy vir jare met jou saamdra, kan vervang met Sy waarheid wat vrymaak.

Groete

Toortsie

Ontslaaf

Skielik moet ek nou gereeld klavier in die kerk speel. Dit, nadat ek dit amper nie meer gedoen het nie behalwe oor Desembervakansies op Struisbaai en Agulhas. Eintlik speel ek mos al vir jare kitaar en omdat soveel klaviere nie meer onderhou word nie, verkies ek sommer by voorbaat om kitaar te speel as hulle my vra om te begelei, bo klavier.

Ons jarelange klavierspeler van die orkes het getrek en ons het ‘n nuwe dame wat speel. Ek het by voorbaat nie aangebied om die pos te vul nie, dis vir my lekker om sommer net te kom saamspeel sonder al die ekstra verantwoordelikheid.

So met al die pandemiebedrywigheid het die orkes ook min gespeel die laaste tyd. Ons begin al verlang na mekaar. Die eerste keer wat die orkes moet speel, kan die klavierdame nie. Ek steek my hand op en dit gaan goed.

Vanoggend was dit weer my klavierbeurt. Ek kry die liedere, koop die musieknote wat beskikbaar is by Flam, ek verkies note voor my bó heeltemal op gehoor speel wanneer ek begelei. Vir as die krisis kom.

Een van die liedere is I’m no longer a slave of fear. Ek moet erken, dié lied laat my maag effens op ‘n knop. Lonelda speel saam op die kitaar, sy sing dit fantasties. Gistermiddag sit ons tweetjies ‘n tweeuurlange oefensessie in. Of ek al glo wat die liedjie sê wanneer ek dit speel, bevraagteken ek.

Vanoggend verslaap ek, word 4 minute betyds wakker en storm kerk toe. Ons oefen, leer ‘n nuwe lied aan. En speel vir die Here. Vir Hom alleen.

Want Hy het vir my in ‘n TPM-sessie gesê dat ek nooit ‘n oorlas is as ek vir Hom klavier speel nie.

Toe die gevreesde lied begin, gee ek my totaal oor. Al wat ek moet onthou, is A min, G, C, F. Niks meer nie. En ek laat my hande toe om 100% vir die Here te speel. En sit verstom, want my hande speel en speel en speel. Akkoorde, invulstukkies, lopies, toonlere, met gevoel, hard, sag … en ek sit en beskou die besigheid in verwondering.

Ek loop al heeldag met ‘n vreemde tevrede uitdrukking op my gesig. 🤓 Dis of ek skielik ontslaaf is van sekere outydse begeleimetodes ook. 🤔 Het ek gesê, alle eer aan God?

Toortsie

Kwaad – prakties

Ja, ons ken daardie gevoel. Iemand het ons verkeerd hanteer, iets aangedoen wat hulle nie moes nie. Eintlik kan ons nie daardie kwaad laat gaan nie, want die persoon verdien dit nie. Hy het nie eers om verskoning kom vra nie en sou jy hom daaroor konfronteer, sal hy dit ontken of homself regverdig. Daar is geen berou van sy kant af nie. Of dalk weet die persoon nie eers dat hy jou geaffronteer het nie. Maar jy dra die kwaad in jou hart. Soms selfs sonder dat jy dit besef. Jy sê selfs dat jy hom vergewe het, maar het jy? Die waarheid is, eintlik verdien hy glad nie daardie vergifnis nie.

Maar raak ‘n bietjie stil. Begin dink ‘n bietjie oor die situasie. Wat voel jy? Wat het gebeur? Teenoor wie voel jy kwaad/teleurgesteld/woedend/bitter of watter woord jy ookal wil noem? Dalk jouself?

Hoekom is jy kwaad vir die persoon? Wat het hy gedoen? Wat het hy ALLES gedoen? Skryf dit neer. Wat het hy nie gedoen nie? Wat moes hy gedoen het? Nog redes?

Ervaar jy huiwering om die kwaad te laat gaan? Wat dink jy gaan gebeur as jy die kwaad gaan laat gaan?

Die waarheid is dat jy nie die ander persoon gevange hou met jou kwaad nie, maar eerder jouself. Dat as jy die kwaad aanhou koester, jy self nie vorentoe kan beweeg nie. Dat jy nie regtig die ander persoon se gedrag met jou kwaad kan regkry of verander nie. Dat die ander persoon sy eie issues moet uitsorteer. Sy eie probleme. Dit waarmee hy sukkel. En dat ons, solank ons ons kwaad koester, aanhou kwaad bly, ons die doringboompies in ons brein toelaat om te groei, groter te word en skade toe doen aan ons eie liggaam en siel. En nee, die verkeerd wat die ander persoon doen of gedoen het, gaan nie reggestel word as ons nie meer kwaad is vir die persoon nie. Dit is sy dinge waarmee hy self moet regmaak in sy hart. Die verkeerd wat hy doen is nie nou skielik reg net omdat ons ons kwaad laat gaan nie.

Gestel jy voel om wel die kwaad wat jy voel teenoor die ander persoon (of jouself) te laat gaan, kan jy hierdie gebed bid:

Here, ek is baie kwaad vir (sy naam) omdat hy (noem op wat hy alles genoem het). Dit was verkeerd van hom om dit te doen, maar ek wil nie meer die kwaad dra nie. Ek kies om dit te laat gaan sodat ek vorentoe kan beweeg.

Gee jouself kans. Sien jy hoe jy die kwaad laat gaan? Voel jy dit?

En hoe voel dit nou daar? Daar waar die kwaad was? Voel jy steeds die kwaad? Voel jy beter?

Onthou om nou vir die Here te dank dat Hy jou hiermee gehelp het. Gee aan Hom die eer, want sonder Hom is geen vergifnis moontlik nie.

Deur dit te doen, het jy ‘n toksiese doringboompie in jou brein uitgeskoffel en dit vervang met ‘n pragtige, gesonde, groeiende stuik. En aan jou siel goed gedoen.

Toortsie

Met erkenning aan die Prosesgids van TPM Kaap. (Transformation Prayer Ministry – Transformasie Gebedsbediening)