Dooptyd

Annabelle laat my nou terugdink aan my eie dooptyd, oftewel, ontgroening. Maar eers wil ek julle vertel van Annabelle en hoe ek haar raakgeloop het. Ons het albei geskryf vir Finesse se Goedvoelblogs, om die waarheid te sê, ek dink Annabelle doen dit steeds! Die Goedvoelbloggers het mekaar begin opsoek, nes die WordPressers ook maar doen. Annabelle het vertel van Capital Singers en dit het my geweldig geinteresseer en selfs geroep ook. Ek het ingeskryf daarvoor en vir haar laat weet. Die aand toe ons opstap om ons koorplekke die eerste plek in te neem, staan Annabelle sowaar daar voor in die paadjie en wag vir iemand. Ons het mekaar herken en ná ‘n paar rondskuiwery van ‘n klompie mense wat langs mekaar wou staan of nie verby my lang kop en lyf kon sien nie, beland ek langs Annabelle! Dis glad nie so eenvoudig nie, op daardie stadium was daar 650 koorlede. Die kans om iemand raak te loop, was nie sommerso nie.

Dooptyd. Ontgroening.

Ek is nie ‘gedoop’ toe ek hoërskool toe is nie, maar wel toe ek universiteit toe is. Ons koshuis was bekend daarvoor as die dameskoshuis wat die ergste doop. Dalk is dit my geaardheid om dinge te geniet of dalk is dit die vele mense wat my vooraf voorberei het: “Geniet dit net.” Wel, ek het dit geniet. Seker nie altyd nie, maar dit was vir my skreeusnaaks. Ek het ook ‘n keer of wat moedeloos geraak, maar oor iets heeltemal anders as wat ‘n mens sou verwag. Hulle het ons tot snags baie laat besig gehou, wat moegheid veroorsaak het. Soggens vroeg weer aan die gang. Ja, dit kon as ‘vernederend’ beskou word as jy wil, maar regtig, om een lawwe pawpaw in volle pawpawmondering te wees wat tussen 90 ander pawpaw’s in ‘n droë waterstroom sit en visvang, is vir my skreeusnaaks. En ek gee nie ‘n flenter om wié daar verby ry nie, die moontikheid dat hulle my sal uitken met groen klere, 23 boksterte in my superkort hare, ‘n swart tand, kaart van SA op my rug, lang storie op my maag, boomtak as visstok in die hand, ‘n rosyntjie op die neus om al die ‘groen’ uit te trek, is ‘n ronde nul, selfs al sou hulle moes uitkyk vir my. Want, net ‘n entjie verder is ‘n ander groep eerstejaars ook besig om een of ander lawwe ding te doen.

Ek kon nie verstaan hoe ‘n kleine handjievol studente in ons koshuis dit reggekry het om binne ‘n paar jaar daarná dit heeltemal af te skaal nie. Ek weet dat ontgroening in baie plekke heeltemal hand-uit geruk het, dat daar onmenslikhede gebeur en daarmee stem ek glad nie saam nie. Ook nie dat daar jaarliks ‘n klomp mense is wat hulle hand heeltemal oorspeel en mag totaal misbruik nie. Daarom kan ek verstaan dat ontgroening heeltemal gestaak is. Net soos wat ek dit as student geniet het, was ek maar benoud toe my eie kinders hoërskool en universiteit toe is. Bang dat hulle van dié sal wees wat onmenslik deurloop.

Tog glo ek en het ek geglo dat juis in die lafwees, ons as koshuismaats geleer het om saam te staan. Juis in die belaglikhede van in die middel van die nag koffer inpak, want ons gaan nou teruggestuur word, daar kameraderie ontstaan het. Ja, ek stem saam dat dit nie nodig is dat mense onmenslik hanteer moet word om so iets te skep nie, maar is dit nie so dat mense deesdae baie meer ‘man-man-vir-homself’ is nie? Of daardie kameraderie net nie meer bestaan nie? Of die ek groter geraak het as die ons? In die huwelik, die gesin, die hele samelewing? Survival of the fittest? Kyk waar gaan draai ek nou!

Al wat ek wou sê, is dat ek dooptyd geniet het. En dat my kinders heel anderkant uitgekom het. En dat ek verstaan dat dit afgestel is omdat mense hulle hand oorspeel het. Ek wil nie graag hê dat hierdie blog nou in ‘n klipgooiery sal ontaard nie asseblief. Tog, as jy wil, kan jy met graagte vertel wat vir jou lekker was van jou ontgroening? Of daar iets was wat jy geniet het.

Toortsie

Hoe het jy en jou geliefde mekaar ontmoet?

Só vra Amore Bekker op RSG. Die mooiste verhale stroom in en sy maak dié opmerking:  “Dit gebeur wanneer jy dit die minste verwag, juis wanneer jy nié daarvoor soek nie.” Hoe waar is dit. Ek sien soveel keer iemand wat naarstiglik soek, haar lewe lank, en dit net nooit regtig vind nie… Hoe sal ons dit ooit verstaan?

As ek nou vir julle mý verhaal vertel, moet ek eers van Brand vertel, die mooi, blonde jongman met die potblou oë wie ek heimlik op verlief was. Hy het my knieë jellie gehad.

Op daardie stadium, op die vooraand van die lente, wanneer die liefde op Stellenbosch blom, het ons saam met Eendrag sangfees geoefen. Die sokkie-HK het egter ‘n sokkie by ons koshuis gereël met Dagbreek. So toe die sangfeesoefening klaar is, het baie Eendrag-ouens sommer daar gebly en begin dans, terwyl die Dagbreekouens by die saaltjie se deur instroom. Chaos op sy beste. 🙂

Ons meisies sit en staan maar so teen die mure in die hoop om gevra te word vir ‘n dans. Die massiewe luidsprekers het daar teen die muur gestaan en ek het op een van hulle gesit en kyk hou die ouens by die deur instroom. Toé sien ek vir Brand en ek sit reg, hoop hy gaan vir my vra… maar die outjie wat net vóór hom loop, vra my toe… en ons kliek dadelik… en ons dans en dans, ook op elke daaropvolgende sokkie en koshuisdans… en ons dans steeds graag, alhoewel baie minder deesdae. Ons oumensdans pas nie so lekker meer in tussen die jongmense nie, sien. Regte two-step uit die 80’s.

So dis mý storie, wat is joune?

O ja, die volgende dag sien ek toe vir Brand hand-aan-hand loop met ‘n meisie, en raai, dit het my glad nie ontstel nie!

Groete
Toortsie

Toorts se toeka tokkel oor Studente

In opdrag van Scrapydo.

Studente is wonderlike goed. Ek praat nou van dié lot wat net ná skool gaan studeer by ‘n universiteit of kollege. Hulle is goed, nie mense nie. 🙂 En ek is MAL oor hulle!

Dis wonderlik as iemand die geleentheid kry om na skool by so ‘n inrigting kan gaan studeer. Dis so jammer dat net ‘n klein gedeelte van die bevolking in SA wel die geleentheid kry. Ek kan nie praat oor die res van die wêreld nie, ek weet nie watter persentasie van ander lande se kinders kry wel die geleentheid nie.

Studentwees is ‘n wonderlike tyd. ‘n Sorgvrye tyd waarin kinders as jong volwassenes kans kry om die lewe te toets, terwyl hulle ouers nog in ‘n mate toekyk. Pappa sorg. Vir studente is niks op die aarde onmoontlik nie. As een nou voel hy moet sy bed skuif na ‘n ander plek en al vervoermiddel wat hy het, is sy fiets… wel, wie sê ‘n mens kan nie ‘n bed op ‘n fiets laai nie?

Of, wat het dit van ons gevat om in dooptyd in 1981 ons soos pawpaws aan te trek, met groen klere aan, onpaar skoene, 23 boksterte in ons hare, rosyntjie op die neus, swart tand en met ‘n stok en tou visstok gaan sit en vis vang in ‘n droë sloot? Of om jouself totaal te mismaak en totaal mal te gaan op ‘n joolvlot? Of wat is dit nou om

Studente het soveel lewe, soveel gees. Niks is vir hulle onmoontlik nie. Gooi net ‘n idee tussen hulle en hulle maak van dit ‘n fees! 🙂

Die groot geheim is natuurlik dat hulle so tussen die pret ook soms tyd moet maak vir die studies, ‘n geheim wat baie ongelukkig te laat ontdek! Want in jou studente jare leer jy ook uithouvermoë, daardie ding van deurnag studeer omdat jy môre eksamen skryf en dan niks daarvan oor te kom nie.

Studente leer ‘n netwerk van vriende ken, vriende wat hulle die res van hulle lewe op die wonderlikste maniere kan help indien nodig, maar ook vriende wat gewoonlik lewenslange vriende bly. So is ons groep pelle steeds maats en braai steeds elke jaar nuwejaar saam. Prysloos.

Groete

Toorts

 

My hart huil saam met Stellenbosch

 

Sondag het die Van der Ster gebou by die Universiteit van Stellenbosch afgebrand.  (Ek het die foto verwyder, ek het dit nie geneem nie.)

My hart huil. My hart huil as ‘n gebou afbrand. My hart huil nog meer as dit so ‘n pragtige ou gebou is wat deel is van die karakter van ‘n dorp. Maar my hart huil omdat ek verbintenisse met daardie gebou het.

Ek het daar klas gehad. In daardie gebou lê heelwat van my spore.

Ek dink ek het in my eerste jaar daar Wiskunde gehad, en in my tweede jaar, Bedryfsekonomie. Ek kan baie goed onthou hoe ek en my man in ons eerste jaar, kort nadat ons begin uitgaan het, op die trappies voor die klas staan en grappies maak het. Ons het sekere vakke saam gehad, maar ek dink nogals ek het soms van die klasse saam met hom bygewoon, wat ek eintlik in ‘n ander klas moes doen.

Die Van der Ster gebou het so ‘n groot lesingsaal gehad.

My kinders het saam met moedersmelk die gedagte ingekry dat hulle eendag by die Universiteit van Stellenbosch sou gaan studeer. Dit was ‘n gegewe. Hulle was ongeveer 8 jaar oud toe ek en hulle een naweek Goudini Spa toe was. Die pappa het vloedskade in die Karoo te herstel, dis hoekom ons alleen daar was. Ek besluit toe om vir hulle die Universiteit te gaan wys. Ons het oor Du Toit’s Kloof Pas gery en nie deur die tonnel nie, omdat ek nie baie van die tonnel hou nie. Dit was ook ‘n goeie ondervinding vir die kinders, omdat ons mos nie eintlik meer oor die pas ry nie. In ons studentedae het ons Paasnaweke het ons buffer-aan-buffer gesit as ek saam met my kêrel (nou manlief) Karoo toe was. Dit was angswekkend.

Terug by my kinders vir wie ek die Universiteit wou gaan wys. Ek wou sommer hê dat hulle ‘n prentjie in hulle kop moes kry, iets wat hulle kan visualiseer, iets waarheen hulle werk.

Hulle het skoolgegaan in ‘n kleine plaasskooltjie wat op daardie stadium ‘n volle 35 leerlinge gehad het. In die ou dae was daar net een klaskamer. Toe my oom oorlede is in 1930, het my oupa sy beleggingsgeld gebruik en nog ‘n klaskamer aangebou. In my Graad Een jaar is ‘n derde klaskamer aangebou, en ons was die eerste leerders wat daar kon skoolgaan. 🙂 Dis die somtotaal van die skool.

Van alle plekke wys ek hulle toe die lesingsaal in die Van der Ster gebou. Die verbasing op die gesiggies was genoeg beloning. Hulle hele skool sou minstens 10 keer daar kon inpas!

‘n Plek kan afbrand, maar herinneringe bly…

Groete

Toorts

Onthou om op ons faceboekblad te kyk vir oulike bloginskrywings.

laatlam

Jare gelede, 7 jaar na die ander, is my laatlam gebore. My enigste, laaste, dogtertjie. En nou is die vabondjie 21!

Partytjie MOET gehou word. Op die plaas. In plaas van stoor regmaak, gaan ons dit sommer in die huis doen. Die ma verkies dit so. (Ek dink die ma behoort haar kop te laat lees!) 😉

Die jongeling het slegs twee versoeke: Spit en Pampoenpoffers.

Danksy omstandighede wat saamspeel, en ‘n ma wat ook al ouer en dalk ‘n bietjie slimmer word, kry ons spyseniers om die koswerk te doen. Sjoe, dit is en bly maar net altyd ‘n plesier om saam met Antoinette Events te werk, dieselfde mense wat my troue se spyseniering al jare gelede gedoen het…

Die versiering begin vorm aanneem. Sussa maak vlaggies met verskillende bont lappies, en mamma, wie bontverkrik is, gryp die geleentheid. In plaas van dieselfde tafels en stoele huur, word die huis se meubels gebruik. Elke tafel het ‘n ander grootte of vorm (driehoek en reghoek); geen tafeldoek dieselfde kleur nie, geen twee stoele wat dieselfde lyk kom langs mekaar nie… 🙂 … Dis verskillende kleure Chinese lanterns… veelkleurige vlaggies… rooi ballonne en veelkleurige ligte…

Die ma het in die week nog die rok saamgeflans.

Die jong volwassenes het dit geniet, die seniors ook! Daar is gedans, “pool” gespeel, en sommer om die vuur gesit en kuier…

Die kinders het oorgeslaap en gelê waar ‘n plekkie is – beddens was Min!, so enige beskikbare bank, mat, harde vloer moes die ding doen…

Die volgende dag, voor huistoegaantyd, het hulle gou ‘n bietjie gaan “boer”.

Dankie, dit was ‘n sukses. 🙂

dankbaarekisnie10jaarouernietoorts

Happy days 67