Die oorgee, aangee van jou kinders bly maar ‘n groot ding. Veral vir die mammas. Veral ook vir my.
Ek dink soms mense is so uitermate behep met hulle kinders, hoekom kan hulle nie aanvaar hulle kinders word groot nie… tot ek besef, ek is maar net so! Ek is NET SO behep met my kinders, indien nie meer nie! En nee, dit IS NIE maklik om te laat gaan nie.
Dit het ek maar net weer eens besef toe my dogter oorsee wou gaan saam met ‘n vriendin. Eers skop ek hande viervoet vas. NEE! Nee, nee, nee! Beslis nie! Dis my allerlaaste laatlam!
Maar met tyd besef ek: My kind word groot. “Practise what you preach.” Vertrou jou opvoeding.
MAAR EK VERTROU MY OPVOEDING!
Nou hoekom dan die weerstand?
Want ek gaan nie saam om haar te beskerm nie. (Asof ek haar nog kan beskerm.)
Ja, ek kan haar nie beskerm nie, maar ek kan haar darem help dink in ‘n krisissituasie.
Die stemmetjie fluister…
… Toe ek so oud was soos sy nou is, was ek al besig met trouplanne…
… Sy kom al hóé lank op haar eie reg hier in ons land…
… Jy sal MOET laat gaan, sy het haar eie lewe wat syself moet lei…
… Jy het mos ‘n selfstandige kind grootgemaak…
Ek gee my toestemming, en keer op keer as die angs wil kom, word dit maar weggewerk…
Met ‘n traan in die oog waai ek totsiens op die lughawe. Die moedige kind stap alleen deur die hekke… Ek bid konstant. Beskerm my kind, bring haar veilig terug…
… My maag is skielik op ‘n knop. Die kos wat ek bestel het, kry ek om de dood nie in nie…
Getrou stuur sy boodskappe om te laat weet dit gaan goed… Op die foto’s sien ek net vreugde en opwinding…
… en my maag begin ontspan.
“Laat jou hart nie ontsteld raak nie, glo in God, glo ook in My.”
Ek glo mos!
Om te laat gaan is NIE maklik nie, maar ter wille van ons kinders MOET ons dit doen… Soms oorreageer ons, dis menslik, maar ons móét laat gaan.
Maar MAKLIK IS DIT NIE!
Groete
Toorts
Sy het veilig teruggekom. Vreugdevol, verruk, opgewonde, met skitter-ogies… en die má het dit ook oorleef… net-net, maar darem. Hoe hou die ma’s dit wie se kinders in ander lande woon?