Prince Charming tussen die manne

Om na die FNB Stadion toe te gaan om die Sacred Assembly van Angus Bachan by te woon het soos ‘n berg voor my gelê. Die massas mense, die rye waarin ‘n mens moet staan wanneer die nood roep, die geraas van duisende stemme – alles dinge wat nie lekker met my meniereskop saamwerk nie. Maar ek was verniet bekommerd, ons kerk het tien busse voorsien wat ons soontoe geneem het, en alles het klokslag verloop, en dit was “awesome!” Trane het vryelik gevloei – God se Gees was voelbaar teenwoordig – en ons het diep geraak daar uitgeloop.

Buite gekom hoor ons dat die busse nie weer toegelaat gaan word om ons voor die stadion op te laai nie, dit gaan die vloei van die verkeer belemmer. Dan maar loop tot waar die busse doer vêr in ‘n veld parkeer staan. Vir my ‘n onbegonne taak!!! Twee van die busse is egter in ‘n veld naby parkeer, en Ken gaan hoor of daar nie vir my plek is nie. Die reëling was dat elkeen die bus waarmee hy gekom het moet terugneem sodat daar nie mense agtergelaat word nie. Ek kry heelvoor langs een van die pastore ‘n plek en sug verlig. Die pastoor – seker so oud soos ons kunsternaarseun – gee my ‘n bottel water, en ons begin gesels oor die dag, en ook ander dinge wat kinders van God in belang het. Hoe dit gebeur het weet ek nie, maar op ‘n manier stort my eie getuienis oor my lippe; hy luister aandagtig, en toe ons by die kerk se hekke inry sê hy vir my dankie dat ek dit met hom gedeel het, en dat ek diè getuienis die wêreld moet indra want dit getuig van God se ontsettende liefde vir ‘n verlore mens.

Ek het my hande vol met my selfoon, bruin papiersak popcorn, en ‘n halfgedrinkte bottel water. ‘n Vrou neem dit uit my hande, en haar man sê “kom ek help jou die trappies af.” Ewe galant gee hy my sy hand en help my tot ek stewig – of miskien ook nie te stewig nie – op die grond staan. Die pastoor staan nader, “Die ander busse gaan seker eers oor ‘n uur of wat hier wees, ek sal by jou bly totdat hulle kom. Kom dan help ek jou om in die kerk te gaan sit.” Ek bedank hom vir sy hulpvaardigheid maar sê ek verkies om sommer daar op die klein kappeletjie se trappe te sit en wag.” Ek plak myself op die trappies neer en begin my popcorn eet.

img-20150602-wa0003‘n Vrou en haar twee tienerseuns blyk ook te wag vir Bus No 8 waarop Ken is. Mense het by die stadion soek geraak en haar man het agtergebly om te help. Intussen het daar nog ‘n bus aangekom, en die mense begin afklim. Die pastoor vra of dit reg is as hy gaan aangesien daar meer mense is wat vir bus 8 wag. Ek verseker hom dit is reg; hy begin wegstap maar draai weer om, “Is ek seker daar is niks meer wat hy vir my kan doen nie?”  Ek is nog besig om vir hom te sê dat hy met die grootste plesier kan gaan, toe ‘n man my nader en vra of hy my kan help met iets. ‘n Vrou loop verby en sê laggend “Jy het die manne aan jou voete.” Ek begin self wonder oor die ongewone toedrag van sake. En toe maak “prince charming” sy verskeining in die gestalte van ‘n pragtige graad 9 seun. Dit het donker begin word, en die weer het opgesteek. Die vrou van vroeër en een van haar seuns het ‘n rukkie gelede al verdwyn op soek na oop toilette. Vanuit die skemer stap die ander seun nader en bied my sa arm aan. ‘Come, let me take you into the chapel.” Ek weier nie sy arm nie, en stap die trappies saam met hom op. Binne brand die ligte, en die stoele is lekker sag. “Prince Charming” gaan sit so twee ry voor my, draai om en begin met my gesels. Ek vra hom uit oor sy toekomsplanne; hoor hy wil ‘n sjef word, en terwyl ons daaroor gesels gee ek hom die raad wat ek wens ek kan vir elke jongmens op hierdie aarde gee. Die wêreld daarbuite lyk baie aanloklik, maar moet nooit jou rug op God draai en in die wêreld se arms instap nie. Hy ken nie genade nie.

“Prince Charming” sê dit klink asof ek ondervinding daarvan het, en vir die tweede keer daardie dag bring ek my getuienis aan iemand wat aandagtig luister. Sy ma en broer kom terug en sluit hulle by ons aan. Ons gesels nog so ‘n rukkie toe Ken sy verskeining in die deur maak; hy oorhandig die rugsak aan my en sê hy gaan die kar haal want dit reën buite. Ek groet die mense, maar toe ek opstaan is “prince Charming” aan my sy en stap met my aan sy arm na buite. Sy broer neem die rugsak by my en toe die motor stop draf hy deur die reën en sit die rugsak op die agterste sitplek neer. Intussen help prince Charming my by die trappe af, maak die motordeur vir my oop, en soos watse “lady” klim ek in, bedank hom hartlik, en wuif vir hom toe hy die motordeur agter my toemaak.

Die volgende dag wonder ek nogsteeds oor die behandeling wat ek van die mansgeslag af gekry het. Iets rondom dit was baie spesiaal, en toe onthou ek ‘n dag – nie lank gelede nie – toe ek met die Here oor die mans in my lewe gepraat het, en vir hom gesê ek wonder of ek ooit sal weet hoe dit voel om soos ‘n regte dame deur die mansgeslag behandel te word.

Angs

Ps 66:8-12: “Prys ons God, alle volke, laat sy lof weerklink! Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel nie! U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.”

Angstigheid. Angsaanvalle. Depressie. Woede-aanvalle. Dis alles goed wat my geteister het in my jongerdae. Maar God het my genees. Prys die Here daarvoor!

Tog, as ‘n mens ‘n ‘swakplekkie’ het, sal Satan maar altyd op die loer wees om weer op daardie plekkies ‘n vastrapplek te kry, so mens moet maar altyd wakker wees en dit vroegtydig vir God gee om te hanteer.

Ewe skielik kry ek ‘n rukkie terug weer in ‘n kort tydjie twee angsaanvalle. Die eerste een gaan amper ongesiens verby, maar die tweede een is regtig ontstellend in die middel van die nag, lank nadat ek al aan die slaap geraak het. Ek word wakker en huil onbeheerbaar. Ek ween behoorlik en ek, wat regtig nie lief is vir melk nie, maak vir my ‘n beker warm melk met kakao en xylitol in om my te troos.

Ek weet net dat ek by God moet uitkom en al wat ek in my kop hoor, is, lees Ps 66. Ek soek vir God, ek vind Hom, ek stort my hart vir Hom uit. Daarna gaan doen ek ‘n bietjie kantoorwerk wat my ook jaag en uiteindelik voel ek rustig genoeg om weer te slaap.

God het my gebed gehoor. Hy het my weer rustig temaak. En Satan? Hy het presies reggekry wat hy níé wou nie: Hy het my reguit in God se veilige arms ingestuur! Ek dink hy sal twee keer dink voor hy dit weer waag!

Dankie, Here, dat U ons veilige vesting is. Dankie dat U altyd daar is om ons te troos, te dra, te kalmeer of wat ons behoefte ook al is.

Toortsie

Toortsie se faceboekbladsy

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

Toortsie by Finesse: Verrassing!

‘n Week van oorvloed

Die twee skerms voor in die kerk wys ‘n cowboy wat op sy perd sit met ‘n “lasso” in sy hand; die musiek van “The good, the bad and the ugly” vul die groot gebou. Die tema “A week of bounty.” Dit beteken dat daar gevra word dat mense uit die oorvloed van hulle kaste, aan die armes sal gee. Vir twee Sondae kom mense met swart sakke vol klere, en kartonbokse vol kruideniersware by die kerk aan, en sit dit voor die verhoog neer. Aan die einde is daar 1 406 sakke klere, en beddegoed; dit is kos uitgesluit.

Die stoorkamer van die kerk is groot, maar te klein om diè oorvloed te hanteer. Twee “containers” is gehuur vir die taak. Ken is elke dag in die week daar om “gacebos” op te slaan, tafels uit te dra, en sakke aan te dra. Die groot uitsortering het begin. Elke etenstyd kom hy flou van moegheid by die huis aan. Hy hou by my aan dat ek moet gaan help maar ek skop teë. Die eenvoudige rede is dat ek nie met my dronkkop by tafels kan staan, rondloop, sakke optel ens nie, maar diè Vrydag besluit ek om te gaan. Alhoewel dit staanwerk is sal almal verstaan as ek dit sittend doen… sê Ken. Al sittende pak ek dus die groot taak aan.  Elke kledingstuk word omhoog gehou,  geinspekteer vir vlekke, skeure ens. en dan volgens hulle kwaliteit in groot deurskynende sakke gepak.  Daarna word dit gemerk vir die verskillende welsynorganisasies en arm kerke waarna dit toe moet gaan. Daar is klere te kies en te keur, party splinternuut met nog hulle kaartjies aan, die pragtigste babaklere, die mooiste kinderklere, jasse, en baadjies wat ek nie sou omgee om te besit nie.

Die werk is hard, vreet aan jou skouerblaaie en armspiere maar dit is nie dit wat my onkant vang nie, maar wel die realiteit van die armoede en behoefte in ons land. My emosies is aan flarde, en skaars by die huis of die trane begin loop, en loop nogsteeds die Sondagoggend. So is ek kerk toe. Ons selgroepleier sê vir my “remember, the poor we will always have with us,” en later die middag bedink ek diè woorde en dit bring ‘n mate van berusting. Op Ken se aansporing gaan ek weer die Dinsdag help, en hierdie keer benader ek dit as ‘n daad van liefde. My taak daardie oggend is om mooi netjiese klere – wat nie te kaal is nie – uit te soek, en te pak vir ‘n tehuis wat met prostitute werk wat hulle lewe wil verander. Ek geniet elke oomblik daarvan, en vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel ek dat my lewe weer betekenis het. Dit is vervullend om vir ander te doen, jouself te gee. Ons is nie gemaak om vir die eie-ek te lewe nie, maar om onsself uit te stort vir ander. Is dit nie wat Jesus vir ons gedoen het nie?

Boeke in die asdrom

Scrapydo se toeka tokkel: Boeke

Girl Student with Booksmy grote liefde vir boeke het ek al voorheen geskryf.  Dink sommer nou aan daardie ou Kaapse verhale wat ek verslind het; ai, my arme hart!!!  Maar dit was Heinz Konsalik wat loshande gewen het.  So verslaaf was ek aan sy boeke dat ek hulle gekoop het, en was ek nie trots op my versameling boeke nie.

Nege maande na my bekering trek ons tussen die mielielande in.  Op ‘n dag sit ek op ‘n tafeltjie voor die boekrak, en bekyk my boeke met genoë.  “Brand daardie boeke,” sê ‘n stem so duidelik, dat ek omkyk om te sien wie praat.  Dit was die eerste keer dat ek God se stem gehoor het.  Wat ek nog nie geleer het nie is, wanneer die Here praat gehoorsaam jy.  Natuurlik skop die vlees vas; Ek het onmoontlik reg gehoor, besluit ek.  Die Here weet hoe duur hierdie boeke was, en hoe kosbaar hulle vir my is.  In elk geval ‘n mens brand nie boeke nie!!!

‘n Tweede keer kom die Stem; “Brand daardie boeke.”  Dit is duidelik dat die boeke moet gaan, maar BRAND!!!.  “Goed Here,” ek sal die boeke laat gaan, ek sal hulle weggee.”  Dit klink vir my na ‘n goeie “deal,” maar dit is nie wat die Here van my gevra het nie.  Die volgende oomblik kom daar so ‘n oortuiging oor my dat dit voel asof die boeke my brand.  “Ek sal hulle brand Here,” sê ek vinnig, en begin die boeke uit die boekrak pak.  Ek dra hulle buitekant toe, en gooi hulle in ‘n asdrom.

Daar staan ek en kyk hoe die eerste vlamme aan die bladsye lek, en dan al hoër opvlam totdat dit wat vir my kosbaar was in as verander. Was ek nie so onder die oortuiging van die Heilige Gees nie, het ek myself seker in sak geklee, en die as van daardie boeke oor my kop gestrooi.  Dit was net die begin van ‘n pad waar ek sou leer om uit gehoorsaamheid, kosbare dinge af te lê.

Ek is nie ‘n baksteen nie

Sodat julle my manie oor ‘n baksteen wees beter kan verstaan, plaas ek net eers my antwoord op die kommentaar wat Toortsie gelewer het op my blog; Meneer Bekker en die Rebel.

“Toortsie, my ousus was van kleintyd een van daardie gehoorsame, pligsgetroue kinders wat op alle gebiede uitgeblink het. Rika ‘n jaar jonger as sy was ook akademies slim. In die huis is my ousus as voorbeeld aan ons voorgehou, en ek het dit gehaat. Ek was anderste… kunskant toe geneig, maar dit was nie raakgesien nie, eerder afgemaak. My ma het gesê oor haar dooie liggaam sal ek ooit drama gaan swot. Ek is in my ousus se vorm probeer inforseer. Toe beland ek in die streng meisieskool (‘n prestige skool.) Die onderwyseresse was amper almal oujongnooiens. Nie lank nie of ek moet hoor “Is jy nie Adriana se sussie nie?” En dan word die vergelyking getref, en natuurlik word ek te lig bevind.. Toe al het ek geglo elke individue is uniek, en moet daarvolgens behandel word… maar die wêreld het bestaan uit vorms waarin jy MOET pas. Ek het nêrens gepas nie, en het begin rebelleer teen die onregverdigheid van alles om my. Die rebellie hardloop veel dieper, en het vêrrykende gevolge gehad…. maar so in ‘n neutedop is dit, dit.”

images (2)Jare later – met my lewe in een groot gemors – het ek Jesus leer ken.  Hy het my lewe op so ‘n drastiese manier aangeraak dat ek soos handomkeer verander het.  Soos ‘n dorstige wat smag na water het ek sy Woord ingedrink, en toe op ‘n dag staar hierdie woorde my in die gesig; “you also, like living stones, are being built into a spiritual house ……..” (1 Peter 2:6)  Net daar trek my bors toe, en die ou bekende rebellie skop teen my ribbekas.  In my geestesoog sien ek rye, en rye eenvormige bakstene wat ingemessel is, en alles binne my protesteer daarteen.  “Ek is nie ‘n baksteen nie,” sê ek vir die Here, en daarmee is die saak vir my afgehandel, en ek het geglo vir die Here ook.

Vir baie, baie jare lees ek verby daardie skrifgedeelte.  Ek gee bybelstudie maar raak nie daaraan nie.  Sou ek ‘n preek daaroor hoor, laat ek dit soos water van my afloop.  Soos ‘n wilde perd aan ‘n baie lang tou, lewe ek die geestelike lewe met oorgawe.  Ek is lief vir God, sy Woord, en sy mense.  Deur storms, vuur en beproewing volg ek Hom, net solank Hy nie van my verwag om ‘n vasgemesselde baksteen te wees nie.  En toe begin die tou wat my in toom hou styftrek.  Ek voel hoe ek stadig maar seker ingetrek word, minder spasie het om te beweeg totdat ek op hok gesit word.  Ek skop verwoed teen die mure van my gevangenis, alles tevergeefs.  Uiteindelik kom daar berusting.  Een oggend lees ek diè woorde.  “They will sparkle in his land like jewels in a crown.  How attractive and beautiful they will be!” (Zech 9:16-17)  Die prentjie is vir my so pragtig dat ek dadelik vir die Here sê dat ‘n juweel in ‘n kroon ‘n vêr beter vergelyking is, as ‘n baksteen, en ek nie sal omgee om as ‘n juweel in sy kroon vasgevang te word nie.  Elke juweel uniek, en mooi op sy eie manier.

Heel tevrede met diè prentjie leef ek voort, en kom op ‘n dag weer voor die eersgenoemde skrifgedeelte te staan.  Hierdie keer trek my bors nie toe aan die gedagte om vasgemessel te wees nie.  Inteendeel, ek sien ‘n tempel – saamgestel uit die pragtigste lewende juwele – wat lofliedere tot God se eer sing.  Ek glimlag; “Here net solank ek deel uitmaak van U tempel, gee ek sowaar nie om, om ‘n doodgewone baksteen daarin te wees nie.”