Hier in Blogland is ons ‘n groep mense, meestal vroue, wat saamspeel, saam laf is, saam uitdagings aanvaar, mekaar ondersteun, mekaar aan die groottone uit die modder sleep, mekaar oplig, mekaar dra, saam lag … Dis nie ‘n geslote groep nie, ons verwelkom graag met ope arms nuwelinge wat ook graag in die pret, saamskryf, saamspeel, saam leef wil deel. Dit is ook nie verpligtend nie. Jy speel saam wanneer jy wil en wil jy die keer uitsit, mag jy, maar die kans is goed dat jy dalk tog aangemoedig sal word om saam te speel as jy sou wou. Hierdie groep, kan ek met oortuiging sê, is regtig lief vir mekaar, gee om vir mekaar. Hierdie groep mense het mekaar nog nie noodwendig in lewende lywe ontmoet nie, sommige van hulle het wel, maar dít is ook nie die grootste probleem in die wêreld nie.
In blogland het ek geleer dat daar iewers in die wêreld soms mense is wat, waar ek gedink het ek is die enigste persoon wat soms anders dink, ook soos ek dink. Terselfdertyd het ek geleer dat daar baie mense is wat anders as ek dink, en dat dit nie verkeerd is nie. Ek het geleer om ander mense se stories en standpunte deur te luister en die verskeidenheid daarin te omhels. In blogland het ek soveel van ander mense geleer. Danksy blogland het ek ook soveel van myself geleer.
Want, om dinge te verwoord, om dinge neer te skryf, moes ek soms dinge deurdink. Ek moes dink oor hoe ek oor iets voel, maar nie net dit nie, ook hoekom ek so voel. Ek het ook geleer dat daar sekere goed is wat veilig is om nie oor te skryf nie, al is dit dalk nodig. En soms het ek gewaag en wel daaroor geskryf in die hoop om nie op tone te trap nie.
Blogland het my lewe verryk, nie het nie, dit doen dit steeds. Blogland het my leer waag om die pen op te neem. Ek, wat gehuiwer het om ‘n opstel te skryf op skool, het dit gewaag om eers my ou klein opstelletjies hier te kom neerskryf oor my eie lewe, oor dinge wat vir my gemaklik was om oor te skryf, om minder gemaklike dinge neer te pen, om aan bloguitdagings te begin deelneem, om te waag om oor onderwerpe te skryf wat vir my minder bekend of gemaklik is, om te waag om deel te neem aan blogvervolgverhale waar ek iewers tussen ander meesterskrywers ook my beurt kry om ‘n hoofstuk te skryf (angswekkend!).
Ek is mal oor blogland en sy mense!
Toortsie