Toespraak by Damestee

Weer eens hello en baie dankie vir ‘n wonderlike voorreg om hier te kan kom praat vandag. Ek voel regtig geëerd!

Dit was nooit in my wildste drome een van die goed wat ek gevisualiseer het dat ek by plekke sal praat nie. Ek bedoel, praat kan ek baie, maar om toesprake te lewer nie. Maar dis ook deel van hierdie verrassende reis waarmee ek besig is. 

Hierdie Bantingding het ek nie loop soek nie, dit het oor my pad gekom. En ek is soos ‘n klein dogtertjie wat huppel in ‘n bospaadjie – gelukkig en onspanne. Ek en my ouers het kom piekniek maak en terwyl hulle rus kan ek ‘n bietjie rondkyk en lekker verrassings om elke hoek en draai kry in die wete dat ek veilig is, want hulle is naby. Geen beplande, uitgewerkte pad nie, maar ‘n pad wat ek net móét huppel en dit wat ek sien en wat gebeur, net geniet. 

In 2014 was ek moedeloos. 

Ek het al geweighless en geweight watchers en ongelooflik maer geword, net om die oomblik wat ek beheer verloor, alles op te tel en met rente. 

Toé was ek obese. Vetsugtig. En my gewig het daagliks toegeneem. Ek het alles geëet wat voorkom en het nie opgehou voor ek nie voel of ek bars nie. Al my klere het ongemaklik gesit. Niks het gepas nie. Dit het my behoorlik gewurg. 

Toe bid ek dat God my moes help, want ek weet nie meer nie. 

En Hy stuur vir my die Saterdagaand vriende wat by ons kom eet, wat daardie week begin Bant het. Ek het hulle daardie aand alles uitgevra en nadat hulle weg is, Tim Noakes se boek gekoop en die Sondagoggend het ek begin Bant op Struisbaai met letterlik niks bantingkos in my huis nie. Daar was ‘n stukkie ouerige botter, twee eiers wat nie meer so vars was nie en swak kwaliteit wors wat iemand in my vrieskas vergeet het. 

My hele lewe het verander daarvandaan. 

So het die een boek na die ander gekom. Want op daardie stadium was daar nie oulike bantingresepte op die internet nie. Of dit wat daar was, was eintlik onuitvoerbaar of nie lekker nie. Oorsese resepte.Ook nie eintlik hulp en raad nie. Of ek het nie geweet waar om te soek nie. Dit was of ek in ‘n oerwoud was en my pad moes oopsukkel. 

Ek het verlede jaar die Banting Coach kursus by Nutrition Network gedoen. Nie omdat ek ‘n coach wil wees nie, maar eintlik net vir die tjap ter wille van my boeke. Sodat ek kan sê dat ek ‘n coach is. Vir kredietwaardigheid. 

Ek wou my nie laat bind deur ‘n groep hier op die dorp te begin nie, ek is net te veel weg. 

Maar in Januarie vanjaar kry ek eensklaps die idee om ‘n Bantingkompetisie te hou. In die kwessie van ‘n minuut het ek presies geweet wat ek moes doen en hoe dit moes wees. So asof dit in my kop neergesit is. Volledig uitgewerk. Dit sou ‘n whattsappgroep wees, so dit maak nie saak waar ek is of ek direkte kontak met die mense het nie. 

Ek het gehoop dat daar 3 sou deelneem. Ek is tog nie ‘n tydskrif of TV-persoonlikheid nie, waarom sal mense by my inskryf? Maar hulle het, en op 1 Februarie vanjaar het 25 mense begin en die leefstyl begin aanleer, mekaar bemoedig, mekaar help, gewig verloor, gesond word. 

Ek kyk nie net na die mens se gewig nie, maar is by die volle mens betrokke – liggaam, siel en gees. Mense vertel vir my hulle stories. Ons vat mekaar se hand en trek mekaar op. 

Intussen is die kompetisie al lankal verby, maar die groep hou steeds aan. Daar kom amper weekliks mense by en daar is noual omtrent 50 deelnemers. Ons ondersteun mekaar, gee raad, deel resepte uit. 

Vandat ek die groep het, het ek geweldig baie geleer en gesien. Behalwe natuurlik die gewig wat die mense verloor, is vir my die grootste geskenk die gesondheid wat hulle herwin. Mense raak gesond van siektes wat ek nie eers geweet het bestaan nie. ‘n Vrou wie se lewe deur pyn beheer is as gevolg van ‘n outo-immuunsiekte, het binne ‘n week nie meer pyn gehad nie. Mense se bloedsuiker is skielik onder beheer, hulle bloeddruk normaliseer. Dis net ongelooflik!

Dit bring my by diabetes. Nutrition Network spesialiseer in diabetes. Die kursusse wat ek by hulle doen, se hooffokus is diabetes. 

Want vandat die dieetriglyne in die 1960’s verander het van ‘n hoë vet na ‘n lae vet dieet en meer koolhidrate, het diabetes wêreldwyd met rasse skrede toegeneem. 

Diabetes is ‘n krisis en mense kry dit op ‘n al hoe jonger ouderdom. Kinders is oorgewig en word op ‘n vroeër ouderdom siek. 

Kyk ‘n bietjie na foto’s van die 1970’s, vroeg 1980’s. Daar was nie eintlik vet mense nie!

Die ding is, ons het regtig nie suiker en stysel in ons dieet nodig nie. Dit is ‘n DRUG, is uiters verslawend en dit maak ons siek. Dis meer verslawend as kokaïn. 

Elke keer wat ons koolhidrate inneem, skei ons pankreas insulien af. En as ons koolhidrate eet, word ons baie gouer weer honger. Dan eet ons weer. En dan skei ons pankreas weer insulien af. 

Op die ou end raak ons insulienweerstandig, want ons liggame kan nie al die insulien wat ons afskei hanteer nie. So, die selle koes letterlik vir die insulien en neem dan nie die insulien op wat nodig is om die oormaat suiker in ons bloed te verwerk nie. 

Ons kry hyperinsulemia – ‘n geval van te veel insulien in ons bloed. 

En ons bloedsuiker styg en ons kry diabetes. 

En diabetes lei tot hartaanvalle. 

Diabetes steel van ons. Dit beïnvloed ons oë. Dit laat ons ledemate verloor.

Insulien stoor ook die oormaat energie in die vorm van vet. En hierdie vetlaag om ons lyf is eintlik ‘n insulientjoepie. 

Wanneer ons dan soos met Banting ophou om suiker en stysel te eet, skei ons nie meer die baie insulien af nie. Ons verhoog ons vetinname en eet lekker ryk kosse. 

Ons begin om Ketose af te skei. En ketose weet wat om met vet te maak. 

Ons raak vetverbranders in plaas van suikerverbranders. 

Ons bloedsuiker normaliseer en ons raak maer, energiek, gesond. En minder honger. 

Sedert ek met Banting begin het 8 jaar gelede, het my hele lewe verander. Ek is meer energiek as ooit. Ek is gesond. Ek het nie besef hoe siek ek was nie, ek was reeds ‘n diabeet. Ek was insulienweerstandig. Het Metaboliese Sindroom gehad. Ek is aan suiker verslaaf, maar beheer die verslawing. Vandag is ek gesonder as ooit. 

Alles danksy ‘n kopskuif rondom kos. 

Suiker hijack jou brein. 

As jy oorgewig is, vetsugtig, obese, maak dit nie van jou ‘n slegte mens nie. Nee, jy is steeds die wonderlike mens wat God jou gemaak het. Al probleem wat jy het, is dat jy dalk verkeerde koskeuses maak. 

Dalk weet jy nie beter nie, want die verkeerde koskeuses word aan jou verkoop deur die media en al wat leef en beef. Dalk het jy net iemand nodig wat jou kan help om die regte koskeuses te maak. Dalk het jy net nodig om by my groep aan te sluit as jy sou wou. Sodat ander jou kan help as jy struikel.  

Maar dit is jou lewe, jou keuse. Elke persoon doen dit vir homself en as jy verkies om dit nie te doen nie, is dit heeltemal reg met my. Ook as jy verkies om eerder suiker te eet. 

Die groep kos R750 eenmalig en dan kry jy die 3 Toortsies daarmee saam.

Intussen huppel hierdie dogtertjie voort op die onbekende paadjie en is sy opgewonde oor elke verrassing wat God nog op haar pad gaan bring. Soos hierdie verrassing om genooi te word om ‘n groep mense toe te spreek. Ek weet nie wat voorlê nie, maar Hy weet en dít is vir my genoeg. Al wat ek moet doen is om hierdie pad in gehoorsaamheid en vertroue te stap. Doelgerig, om Sy Naam te eer. 

Nogmaals dankie vir hierdie geleentheid. 

Mag dit met elkeen van julle baie goed gaan.

Toortsie

Nog ‘n jaar is verby

So het 27 Julie weer eens gekom, 8 jaar nadat ek op ‘n Sondagoggend met letterlik geen Bantingbestanddele in die huis, besluit het om dit te waag om dit te doen. Want ek was oorvet. Oormoedeloos. My klere het ongemaklik gesit. Ek het vet gevoel. En al die baie ander diëte wat ek gevolg het, kon my nie meer help nie. In die verlede het ek nog altyd goed verloor op sulke diëte, maar toe nie meer nie. My gewig het buite beheer daagliks meer geword. En ek wou net eet en eet en eet. Want ek was honger. En lus vir kos al was ek dalk nie honger nie. 

Daardie Sondagoggend op Struisbaai was daar twee nie meer so vars nie eiers in die yskas en ‘n pakkie baie swak, onsmaaklike boerewors wat iemand daar vergeet het in die vrieskas. Dis al. 

Maar daardie Sondagoggend het ek die besluit geneem: Hierdie sal die laaste keer wees wat ek met ‘n dieet begin. Ek sal moet volhou hiermee en ek mag nie kyk hoe ek die dieet kan ‘wen’ nie. Wel, by tye hét ek meer in die oranjelys geboer as wat veronderstel was en het ek die vrot vrugte daarvan gepluk. Maar, sodra ek weer konsentreer en die slegte gewoontetjies wat soms ongemerk ingesluip het, los, was alles weer mooi op dreef. 

27 Julie 2014 het ek nie geweet watter reis vir my voorlê nie. Kort vóór dit het ek in desperaatheid gebid: “Here, help my asseblief met my gewig!” Hy het! En ek? Ek is die ou klein dogtertjie wat heerlike en ontspanne in die bos huppel terwyl my Vader sorg en is heerlik verras met alles wat in die pad verskyn. Soos drie resepteboeke (wie sou dit nou ooit kon dink?) … soos gesondheid … ‘n Whattsapp Bantinggroepie. 

As ek nie daardie dag daardie besluit geneem het nie, was ek nou nog op sekere medikasie. Sou ek nou al vir jare diabetesmedikasie gebruik het. Was ek seker al depressief van nie meer weet watter kant toe nie. Danksy my besluit destyds is ek gesond. Kry ek nie meer megraine nie. Is my bloedsuikervlakke op ‘n normale manier onder beheer. Kry ek nie meer ‘brainfog’ nie. Ag, ek weet nie eers wat alles nie. 

Ek het 17 kg afgeskud en behou dit ná al die jare. Skielik het ek ‘n kas vol klere, want klere raak nou oud in my kas omdat dit steeds pas. 

Dit was die beste besluit nóg wat ek kon doen in verband met my gesondheid. 

Before
After (Hier staan ek in die P van BREDASDORP teen die berg.)

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie

Banting/Keto suksesverhale

In 2019 het ek die uitnodiging gegee dat mense hulle Banting/Keto/LCHF-suksesverhale vir my stuur en ek sou dit hier publiseer. ‘n Hele paar mense het gereageer. Lees gerus die volgende mense se verhale:

Binnekant Toe – Keto Sendeling

Piet Blootvoet se Bantingstorie

My grootste vrees – Toortsie

Toortsie se Bantingstorie

Danie se Bantingstorie

Bregda se Bantingreis

Johanna se LCHF verhaal

Helen’s LCHF Story

En weer eens die uitnodiging aan alle Banters/Keto/LCHF persone

Het jy ook ‘n suksesverhaal wat jy wil deel oor jou Bantingleefstyl? Of Keto, as jy sou verkies? Ek sal bly wees as jy dit vir my wil stuur.

Toortsie

Piet Blootvoet se Bantingstorie

Piet Blootvoet het sy Bantingstorie vir my gestuur en ek plaas dit graag:

My verskeie vegan-vriende kla oor menige kwale. Baie is ook lyers aan allerhande toestande wat gemeenskaplik gevoelentes van swakheid insluit. Allerhande inspuitings moet toegedien word om hulle gesondheid in toom te hou.  Nie almal nie maar tog die meeste is oorbegeesterd en raak militant oor hulle geloof wat lankal nie meer blote leefstyl is nie. Nee, dit raak soms charismaties vyandig en mens moet maar koes in die loopgrawe. 

Interessant wat ek ervaar het sedert 2015. Op 7 Julie daardie jaar gee my internis my so ‘n klein wit pilletjie vir diabetes. Sommer gou is dit koorsstuipe, koue koors, pyn wat my heel agteroor laat styftrek. Kan vir vyf weke nie eet of iets anders as water drink nie. Ek verloor 22kg want alles, maar alles, smaak na groen skottelgoedopwasmiddel op harde goïïngsak. Jig!! 

Na vyf weke kan ek weer begin eet, enkele happies op ‘n keer en dan net klein hoeveelhede rooivleis sonder sigbare vet, partytjietamaties en dan ook appels. Die appels is sleg vir my bloedglukose wat te laag daal. ‘n Plukkis appels is nog nie genoeg om dit reg te hou nie. Low GI se mal Ant Tillie. Hier en daar help ‘n krom piesang. Hulle voer mos die reguites uit….. 

Ek het energie en lewenslus soos ‘n twintigjarige fikse soldaat. Klim Metrorail se trappe drie-drie of vier-vier. Na die internis gesê het ek mag nooit weer trappe klim nie. 

Ek verloor nie meer gewig nie maar my klere sit al losser. Gou sien ek dat my losgestopte lyf beter definisie kry. En my stuk of vier- en vyftig jaar is verlede tyd. Selfs die stuk of vyf hartaanvalle en ses of so beroertes sedert 32 verdof in die skaduwees. 

Mens is weer méns! 

Terselfdertyd will alles en almal vir Tim Noakes kielhaal en oorhandig aan Ivan the Impaler. En my seun se kortstondige meisie kom evangeliseer ons met Banting. Nog nooit het ek voluit gebant nie maar my liggaam het van nature iets soortgelyks verkies. 
En dit het vir my gewerk. 

Toe moes ek my goeie gewoontes stelselmatig verruil vir koolhidrate (kwaadhidrate) en goedkoper kosse, want die Overbergse skapies word mos op die effektebeurs geprys sodra dit van die plaas af weg is. Teen die tyd dat dit onder Tafelberg aankom, lyk dit na high yield trading.  Die koolhidrate veroorsaak legio nadelige effekte op my suikersieke lyf. Ver van sestig maar ek voel nader aan 95! 

Die gesondheidsproffessor op RSG en die sjefs op SABC3 se Expresso vertel dat diabete lensies moet eet. My lensies maak my bewerig en dan moet ek baaaaie vinnig ‘n stukkie witbrood aka gif inkry. So kontak ‘n Vegan-vriendin my en vra uit oor lensies. Sy kry nagsweet, skrik wakker snags met ‘n gil. Haar sussie word somtyds flou. Hulle eet lensies. 

Interessant dat swart om die oë en floutes by ander Vegan-vriende voorkom. Die een outjie begin toe vleis eet en was baie gou gesond. 
So leer die Wetenskap ons dat die mens se brein eers begin ontwikkel het nadat die mens vleis begin eet het. Voor dit was die mens maar dom en dierlik.

Soms dink ek die sterk dryf na vegetariese of vegan leefstyle is nogeens ‘n foefie vir radikale gelowe en onwetenskaplik. 
Gaan ons uiteindelik ons menswees omkeer? Tog waarsku die Bybel oor die eet van te veel vleis. 

Baie dankie, Piet, vir jou storie.

Groete

Toortsie

My grootste vrees

Die ding wat ek lewenslank vrees, is dat my gesig iewers op die voorblad van ‘n koerant sal verskyn. Dit is mos gewoonlik net slegte nuus. Skindernuus.

Wel … uhm … dit hét gebeur en ek het niks verkeerds gedoen nie. Wel, nie in die Vleisvreters van Egipte se oë nie! Daar is natuurlik ‘n groep aan die ander kant van die spektrum wat anders daaroor dink, maar ek respekteer dit heeltemal.

Toe ek destyds my drie minute van roem gehad het deur op Pasella te verskyn, storm ‘n meisie op my af in opwinding. Sy sien ek koop ‘n gaar hoender om die middag te eet en kan nie glo dat ek nie ‘n gesondheidsbroodjie daarby bedien nie. Ek sê ek eet nie brood nie en haar oë rek. Ook nie rys nie, die oë rek meer. Ook nie aartappels nie, sy haal amper nie meer asem nie. Ek sê dat, as ek daardie goed geëet het, ek nie op die TV sou kom nie.

Iemand het vir my ‘n goeie woordjie gedoen, nes Seegogga destyds vir my opgekom het by Pasella. Ek het nie daarvoor gevra nie, ek beweeg net dankbaar saam met die stroom.

Mag my ergste vrese nooit bewaarheid word en my skandes op ‘n koerant se voorblad uitbasuin word nie! Intussen ry ek net rustig op die golf. ‘In Awe’.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie