Z. Ek het dit gemaak! Uiteindelik! Agteros kom ook in die kraal. Stadig maar seker wen dikwels die beker. Ek het darem van die begin af gesê dat ek dit op my eie pas gaan doen. Julle, dis regtig GLAD nie my persoonlikheid en aard of wat ook al om so ‘n reeks te doen nie. Ek voel om nou op my rug te loop lê!
Eintlik dink ek ek moet NIKS oor Z skryf nie. Nee. Niks. Ek dink JULLE kan ‘n bietjie oor Z skryf. Maar dan moet ek darem sê, ek het ‘n hele groepie saamspelers gehad wat elke keer ‘n bydrae gemaak het. Dankie vir julle!
Z staan vir Zero. Nul.
Z is natuurlik die laaste letter van ons alfabet, maar dis nuttelose inligting, julle weet dit tog!
Z is ‘n zebra. Almal vra altyd, is hy wit met swart strepe of swart met wit strepe? My antwoord? Logika moet heers! Natuurik is hy wit met swart strepe. Kyk bietjie onder sy maag of loop die strepe dwarsdeur? Wat sê jy? Wit met swart, of swart met wit? Het julle al ‘n sebra se geluid gehoor? Dis nou ‘n ander storie, hoor!
Zorba the Greek. Ons het dit so graag gedans in ons studentejare. As ek nou na hierdie video kyk, besef ek ons het dit heeltemal verkeerd gedans! Hoe verlang ek nou na Griekeland! Nou ja, dan het ons die Boere-Zorba gedans!
Dan is daar Zettie. Toe ek my seuns die heel eerste keer by ons laerskool gaan inskryf het, was sy daar, en sewe jaar later toe ek vir meisiekind daar inskryf, was sy steeds daar. Ook toe ek baie jare later weer musiek gegee het by dieselfde skool. As ek aan haar dink, dink ek aan haar humor, haar lag. Zettie. 🙂
Klaar, klaar klaar!
Toortsie.
Kameel, nou is dit REGTIG klaar. 🙂
Nou gaan ek slaap.
zzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzz
Wag nee! Ek het nog woorde oor! Zanzibar! Ek was nog nie daar nie. Blykbaar ‘n moeite werd plek om heen te gaan.
Die woordeboek het sowaar 20 Z woorde. Dis nou die Ou HAT. Van die meeste van hulle het ek nog nie gehoor nie. Zoeloe ken ek wel. Ag man, ek kan nie Zulu praat nie, maar dis een van ons land se groepe mense. Zoem. Die gezoem van die bye en die lekker turksvye en die sodaspuitfonteine. Zirkonium. Kubiese zirkonium wat amper soos ‘n diamant lyk. Ek dog dit word met ‘n S gespel, maar julle weet wat van gedog geword het!
Baai!
Toortsie by Finesse: Saam-saam
Toortsie se faceboekpage
Toortsie se Bantingboerekosboek Faceboekpage