Die eerste tree … die hoeveelste tree

Hierdie bloginskrywing is oorspronklik geskryf op 31 Maart 2011. Dit het verwys na blogs wat nie meer bestaan nie. Hierdie is die verwerkte weergawe soos gedoen op 18 Maart 2016.

Ek het gewonder hoekom daar soveel haat in die wêreld is. ‘n Blogmaat (BB) het verduidelik dat dit verskil as iemand ná aan my my iets aandoen, teenoor wanneer ons sommer net haat het, haat vir wie ook al. Plaasjuppie het toe daarop gereageer met die vraag: “Hoekom is daar so min liefde in die wêreld? Is dit omdat ons in onsself gekeer geraak het?”

Kom ek gee vandag die eerste tree en saai die heel dag liefde, waar ek ook al is, met wie ek in aanraking kom. Ek gaan mense groet, vir hulle glimlag, iets moois vir iemand sê wat dit glad nie verwag nie. Ek gaan my woorde probeer sluk as iemand met my lelik is. Ek gaan die eerste tree gee… of dalk die hoeveelste tree. Ek gaan ook veral op my gedagtes let, konsentreer daarop om positiewe dinge te dink, want as ons positief dink, doen ons ook positief!

Wat van jou? Ek daag jou uit!!! Gee JY ook vandag ‘n eerste tree of ‘n hoeveelste tree. Kom ons saai vandag soveel liefde dat dit ‘n verskil maak! Dat dit aan iemand anders so ‘n verskil maak dat hy/sy ook sommer begin liefde saai!

Nehemia het die onmoontlike reggekry. Hy het die muur rondom Jerusalem herbou in rekordtyd, ten spyte van soveel mense en magte wat dit probeer keer het. Hoe het hy dit reggekry? Hy het geglo in wat hy gedoen het. Hy het op God vertrou. Hy het die mense van Jerusalem gevra om elkeen net die stukkie muur voor sy huis reg te maak. Kom ons maak vandag die stukkie muur voor ons huis reg.

KOM ONS GAAN SAAI LIEFDE!!!!

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad.

 

 

Advertisements

Van negatief na positief

Ekself het nog nie die beurtkrag so erg gevoel nie. Dalk is ek net te simpel om dit agter te kom. Ek kry wel soms ‘n sms van die munisipaliteit af, maar ons krag is nooit af wanneer hulle sê dit gaan af wees nie.

Hierdie naweek het ek beurtkrag gevoel toe ons by die see was. Genadiglik lees ek die SMS 20 minute voor die krag sou afgaan, want ek het ‘n huis vol gaste gehad en ons het nog nie ontbyt gehad nie! 😯  Gou-gou het ons aan die werk gespring, die ketel gekook, eiers en bacon gebak, en toe die krag afgaan, het almal heerlik geëet (hoop so!) en koffie en tee geniet.  Dit lyk my dit help nogals as jy die skedule het. Gelukkig het vriende dit op faceboek gesit, so ek kon dit dophou. 🙂

Die res van die naweek het ek baie negatiewe dinge wat mense sê oor ons land, op verskillende plekke gelees. Moet ons bly, of moet ons gly? Val die land se wiele nou heeltemal af? Gaan ons als verloor? Moet ons al ons geld die land uitvat? Moet ons ‘n plan B hê? Selfs plan C, D, E…?  Mens word sommer moedeloos net om dit te lees.

Op skool het ek soveel keer die storie gehoor van ‘n oorlog wat gewen word sonder dat ‘n skoot geskiet word, net omdat dié wie dink hulle gaan verloor, sommer in hulle koppe al klaar verloor het en oorgee.

Natuurlik moet ons innoverend dink. Dalk ís dit nie so ‘n sleg idee om van jou geld in die buiteland te belê nie. Mens sit mos nie al jou eiers in een mandjie nie. Dalk ís die spreekwoord, “Work in the sun, bank in the shade”, waar.

Vanoggend het ek die volgende op faceboek geskryf:  “Dit is so dat dat dinge nie orals reg loop in ons land nie. Dit is so dat dit voel of die wiele regtig aan die verloor is.   Nou het ons ‘n keuse: Gaan ons moan en groan en kla, die land sleg maak, swart smeer, waarvan die meeste van die goed dalk die waarheid is?    Of gaan ons probeer positief dink?
Wat kan ons doen om die huidige situasie beter te maak? Hoe kan ons, ek, ‘n positiewe invloed op die land uitoefen? Wat kan ek vandag doen om iemand anders se lewe, en ook my eie lewe, beter te maak?   Deur my eie lewe en ook die lewe van iemand anders beter te maak, maak ek SA ‘n beter plek.
Kom ons kry maniere om die probleme te omseil.
Ons moet ALMAL daaraan werk, en as daar van ons groot kokkedore is wat nie hulle deel doen nie, is dit mos HULLE probleem. Solank EK MY DEEL DOEN.”

Kom ons raak probleemoplossers…  En as jy die angel uit beurtkrag wil haal, gaan lees wat skryf Maankind.

Die stryd is nog lank nie oor nie. Ons KAN dit maak.

Ons vir jou, Suid-Afrika.

Let’s do it!

Toorts

Ns. Loer gerus in by ons fb blad. Dit sal vir ons lekker wees.

7 positiewe dae

Dis nou op hierdie stadium die in-ding om mense te “tag” vir een of ander positiewe iets. Ek is altyd opgewonde hieroor omdat ek weet dat dit positiewe denke bevorder,  ek skei sommer meer goedvoelhormone af, en in die proses gaan dit beter met my. Gelukkig is hierdie tagspeleties almal vrywillig.

Terloops, van “tag” speletjies gepraat, ons blog het die afgelope tyd twee toekennings gekry, die een was vir die mees bemoedigende blog, en Kameel het my vir die “Written Acts of Kindness Award” benoem. Syself was eers benoem, waarná sy my benoem het. Ek staan met ‘n rooi gesig. Weet julle, danksy my toerdery, is my lewe uiters deurmekaar. Baie baie dankie vir die toekennings, maar vergewe my dat ek nog niks daaraan gedoen het nie. Asseblief.

My sewe positiewe dinge was:

1)  OESTYD. Die besigste, rofste tyd van die jaar. Die tyd vwanneer ons die DANKBAARSTE is dat God ons gesaaides beskerm, gevoed, gereën het vir die hele jaar. Positief? God kyk na ons!

2) Om ‘n werk te hê, is ‘n geskenk van God. Daarom sal ek my werk met ‘n lekker hart doen, uit dankbaarheid aan God, sodat Hy daardeur geëer sal word en die mense aan wie ek verantwoording moet doen, tevrede sal wees. Só wys ek dat ek omgee vir God en ook vir die mense om my.

3)TALENTE, daardie wonderlike gawes wat God vir elke liewe persoon uitdeel, spesiaal uitgesoek, sodat ons dit kan gebruik, geniet, ontwikkel soveel soos ons wil. Tot voordeel van onsself en ook van ander. Tot eer van God.

4) Sport, en wel stap en draf, wat so ‘n ondersteunende sport is.

5) Sondag. Die dag wat God spesiaal vir ons mense gemaak het om te kan RUS. Die dag waarop ons kan stil word en aan ons verhouding met Hom en ook ons vriende en familie werk.
Mag ons almal ware dissipels wees wat daagliks Oorgee, Omgee en Aangee.
Oorgee aan God, Omgee vir ander, en die Goeie nuus van Jesus aangee sodat ander dit ook mag glo en beleef.

6) Maandag. Die eerste dag van ‘n splinternuwe week wat gratis vir ons gegee word. ‘n Hele week wat ons kan maak net wat ons wil, dit kan inkleur soos ons graag wil, selfs al het ons ‘n voltydse werk of vol program.  Wat ons met ons week doen en hoe ons hom volmaak is en bly ons keuse.

7) Ek is sommer net positief na ‘n goeie nagrus, positief oor die dag wat voorlê, ‘n dag waarop ek my beste sal lewer met waarmee ek besig is.
Mag julle ook ‘n wonderlike dag hê.

Toe, vanoggend, voeg ek ‘n nr 8 by: Hoe kan ek nie anders as om positief te wees as ek soggens die een na die ander mooi, eenvoudige, opregte gebed uit ons plaaswerkers se monde hoor nie? Sooo spyt ek het so laat in my lewe daarmee begin. Sooo dankbaar ons het wel dit begin doen. Sooo positief oor die Lig wat nog hiervandaan gaan skyn, die getuienisse wat uit ons werkers se monde van die een na die ander gedra gaan word. Jesus leef!, dis gewis!

Wat hieruit gevolg het, was:

Kan julle julle indink watter verskil dit sal maak as ELKE plaas, ELKE besigheid, ELKE kantoor waar daar Christene is, OOR DIE HELE WêRELD, elke oggend begin met ‘n kort Skriflesing en gebed?

Kan jy jou indink? Ek daag jou uit om dit te probeer.

Groete

Toorts

 

 

 

positief? of negatief?

Alhoewel ek my bes doen om op positiwiteit te konsentreer en daaroor te skryf, het ek ook maar my afdae. Dae waarop ek alles behalwe positief is, dae wat ek kwaad is vir my man, dae wat ek moedeloos is, dae wat ek nie weet watter kant toe nie. Soms voel ek ek loop teen ‘n muur vas. Soms gaan als seepglad, in my huis, lewe, huwelik, met die kinders. Ander dae weer loop als net verkeerd, wil niks werk nie. Is jou beste pogings nie goed genoeg nie.  Voel ek ‘n mislukking. Flop die verhoudings. Lig my huis se dak.

Party dae skryf ek oor positiewe dinge en gee raad omdat dit raad is wat al vir my gewerk het en ek hoop dat dit vir ander kan help. Soms werk my eie raad nie eers vir my nie! Soms wil ek nie luister na my eie raad nie!! Soms skryf ek sommer net vir myself in ‘n poging om my kop skoon te kry, of om weer op positiewe dinge te fokus, of om weer perspektief te kry.

Al wat ek weet is dat ‘n mens kies wat jy skryf, wat jy vir die buitewêreld wil wys. Ek glo dat dit wat ek vir die buitewêreld wys, die waarheid is, maar party dae lyk dinge so anders dat ek amper myself nie ken nie!! Dalk wys ek nie heeltemal ALLES nie, soos ek glo ook julle nie doen nie?

Soms is ek positief omdat ek van nature meer na die positiewe neig, soms het ek ‘n hand nodig om my op te trek, soms is net God oor. Maar steeds kies ek positiwiteit, en mag God my help om altyd by hierdie keuse te bly!!  Mag daar altyd ‘n goue randjie om elke donker wolk wees! – vir my, maar ook vir jou wat hier lees!!

Party dae sleep God my letterlik aan my groottoon om my uit my negatiwiteit te kry.

Is julle ook so? Party dae positief en ander dae foeter dit??

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

fine

Fine. Die einde. Die einde is hier! Die koeël is deur die kerk!!  Ja! Dis dAg 40 vaN 40 PosItiEwE dAe!! 🙂  So ‘n paar dae gelede HET hier ‘n glipsie gekom toe ek die pos wat eintlik vir more geskeduleer was, per ongeluk gaan publiseer het, en hy hardnekkig bly klou het!  😳 

Maar… glipsies of nie, hier is ons nou by die laaste dag. Vandag dink ek aan die lekkerte van iets klaarmaak. Want dit kan ons maar aan mekaar erken: Dit IS lekker om iets af te handel. Of dit nou ‘n trui is wat klaar gebrei is, ‘n marathon wat klaar gehardloop is, ‘n werkstuk wat jy inhandig, noem maar op! Daar die gevoel van “ek het iets reggekry” is ongelooflik!

Ek het die waarde van woorde soos “volharding” en “uithouvermoë”, “mooi so”, “hou aan”, “jy sal dit maak”, herontdek. Soms is so ‘n woordjie al wat jy nodig het om deur die drif te kom. Dalk het jy wat hier lees dalk by so ‘n drif vasgehaak en het jy net ‘n hand nodig om jou deur te trek. Komaan! Byt vas! Treetjie vir treetjie maak ons dit! Fokus op die eindpunt! Maak dit klaar en kom vertel vir ons. Dit maak nie saak hoe lank dit neem om dit klaar te maak nie, solank dit net klaarkom! Dalk kan julle ook sommer vertel van kere wat julle moed in julle skoene was en iemand julle deurgehelp het. Of van “onmoontlike” goed wat julle klaar gekry het!

Nogmaals dankie vir elke woord van bemoediging wat soveel van julle gegee het! Kom ons vier fees!!

POSITIWITEIT!!!! JAAAAAAAA!!!!!

SOLI DEO GLORIA!!!