Kameel : Betyds

 

Lê-jou-eier: Safari-skryfuitdaging

4d908c7917e761c124c3cb5b821fe671Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien, klim vinnig uit die lorrie, buk by Saar en vra besorgd wat het gebeur. Met ‘n vuil hand vee Saar oor haar nat wange, en probeer glimlag. “Dis sommer niks Braam… my kop het vir ‘n oomblik uitgehaak… maar ek is nou weer reg.” ‘n Frons verskyn tussen Braam se wenkbroue, “Jy het jou kerkklere aan… waarheen was jy oppad.” Iets in sy stem stuur ‘n koue rilling langs Saar se ruggraat af. “Ek, ek…” stamel sy maar kom niks verder nie. Braam se oë rus op die tas wat eenkant lê. Sy liggaam verstyf merkbaar. Met saamgeklemde kakebeen, kyk hy na Saar. Sy oë is staalgrys en sy stem yskoud toe hy praat. “Jy wou soos ‘n sleg hond wegloop.” Stadig kom hy regop; hy lyk meteens jare ouer. “Vat jou tas, en loop…. ek wil jou nooit weer sien nie,” en met die woorde draai hy om, klim in die lorrie, en ry weg. 

Saar bly verwese in die pad sit. Moos staan nader; daar is trane in sy klein ogies, “Moos het altyd gewonner wanneer gaan hy breek, nou het Moos met sy eie oë gesien die sweer het gebars. Kom dan help Moos jou op die donkiekar, en vat jou daar na sy pa toe.” Gedweë laat Saar haar soos ‘n kleindogtertjie deur die getroue ou Moos lei. Sy sit langs hom op die harde houtbankie, en kyk verdwaas na haar en Braam se gesigte deur die stukkende glas. Warm trane begin opnuut oor haar wange loop. “Dis soos hulle lewe wat nou aan skerwe lê” dink sy hartseer. Die donkiekar skommel voort, dan praat Moos asof met homself. “Al hierdie jarre hy het vir hom sterk gehou. Daardie dag toe hy agter sy ma aangehardloop het, en die tas by haar wou vat sodat sy nie kan weggaan nie, het Moos geweet die kjênd het baie seer gekry; hy het daar by die stofpad gestaan en haar agterna gekyk. Daarna wou hy nooit weer daaroor praat nie, net begin fluit as Moos met hom wou praat.” Saar staar grootoog na Moos. “Sy ma Moos… ek dog dan sy is dood.” Moos is stil, dit lyk asof hy haar nie gehoor het nie so verdiep is hy in sy eie gedagtes. Dan praat hy. “Vir hom was sy van daardie dag af dood….. maar Moos het geweet, daardie seer lê baie diep, en hy gaan ‘n sweer maak…. maar eendag, eendag gaan die sweer bars, en hy en ander gaan seerkry” 

Saar kreun kliphard en laat sak haar gesig in haar hande. “Wat het ek gedoen Moos…. nou verstaan ek hoekom hy so kwaad was.” Die donkiekar kom voor ‘n draadhek tot stilstand. In die skadu van groot bome staan die wit plaashuis. Behalwe vir die werfhonde wat naderdraf lyk alles doods en verlate. “Hoekom het sy nog nooit voorheen opgemerk hoe hartseer die huis lyk nie?” Voordat Moos afklim draai hy na Saar toe. “Jy is nou hartseer Saar, maar dis goed daardie sweer het gebars…. nou kan die Jirre hom skoonmaak en salf opsit. Wanneer Braam gesond is, sal die Jirre hom terugstuur na jou toe.” ‘n Vlammetjie van hoop flikker meteens in Saar se binneste. “Jy dink so Moos?” vra sy hoopvol. Moos gee haar ‘n tandlose glimlag. “Moos weet so. Moos vra nog al hierdie jarre vir die Jirre om Braam gesond te maak…. en vandag het Moos gesien hoe die Jirre begin werk.”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Kameel – Camilla en die Towerpaleis

Skryf-Safari: Uitdaging

Ek hoor gerugte dat ek Camilla van koninglike afkoms is en ‘n paleis geërf het. Moenie alles glo wat julle ore hoor nie; my storie is baie meer romanties as dit. Marco, is toe altyd ‘n prins wat opsoek was na ware liefde. Hy was moeg vir vroue wat hom vir status en geld gejag het, en het besluit om uit die oog in ‘n vêr land as polisiebeampte te gaan werk. Sou hy verlief raak op ‘n meisie, en sy is bereid om alles vir ‘n polisieoffisiertjie op te offer sou hy weet dit is ware liefde. Die storie rondom my en Marco ken julle. Nou bly ek in ‘n sprokiesmooi paleis saam met Marco… wat intussen koning geword het. My aankoms by die kasteel het opslae gemaak… genoeg om ‘n boek te vul… maar daaroor wil ek nie nou praat nie. Ek moes op Marco se ma se aandrang “afgerond” word. Daar is mos altyd ‘n heks in elke verhaal. My rooi stilettos wat ek op aandrang van Marco ‘n klomp pare van gekoop het, het ook in die paleis se asblik beland. Miskien dans die “chambermaids” nou vir hulle geliefdes daarmee. (fluister) Daar is nog een paar weggesteek. Kersligaande wanneer ons twee alleen is word die stilettos uitgehaal, dan dans ek net vir Marco soos daardie aand by Toweropstal toe ek sy hart verower het.

Screenshot_2018-04-17-13-44-47-1Towerpaleis is in rep en roer. Die Butler het sy hande vol met die besoekers wat een na die ander opdaag. Op sy statige manier kondig hy naam na naam aan; “Mev. HesterLey Marais.” Hester stap die goudgegulde vertrek binne, maak ‘n buiging voor die koningsmoeder waar sy op haar rooi fluweelstoel sit en haar deur  skrefiesoë bekyk. Sy knik haar gryskop liggies, en wys Hester met ‘n ligte handbeweging weg om deur ‘n lakei na haar slaapkwartiere toe geneem te word.

Vanwaar Camilla by haar kamervenster staan sien sy die Towerinne aankom, en elke keer spring haar hart van blydskap as sy ‘n gesig herken. “Ag Marco, kon ek hulle nie maar ontvang het nie…. kyk, kyk daar is Scrapy. Kyk hoe deftig lyk sy met haar swart hoedjie op.” Marco kom staan agter haar, slaan sy arms om haar en begin lag toe hy Trompie in sy vlugpak en helmet sien. “Ek dink nie die paleis se honde gaan ooit weer dieselfde wees na hierdie kuier nie.” Hy draai Camilla na hom toe. “Ek verstaan jy wil graag jou vriende sien, maar as jy wag tot vanaand se bal gaan die verrassing soveel groter wees. En gun maar my ma haar plesiertjie om jou vriende deur te kyk…. môre vertrek sy op haar wêreldtoer, en dan my liewe Camilla behoort die paleis aan jou. Sy oë vonkel ondeund; hopenlik staan die paleis nog, en al die skatte is nie weggedra by dan nie.” “En jy gaan Abrie ‘n ridder maak Marco?” vra Camilla met verwondering in haar oë. “Definitief… die man het dan my lewe gered daar agter die hopsbalie.” Met die woorde begin albei lag, en hulle onthou.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=776174

Kameel – ‘n Foto vir haar man

Na ‘n “gesprek” met Hester oor my dae as fotograaf in ‘n studio, plaas ek ‘n vorige bloginskrywing om julle ‘n kykie agter daardie toe gordyne te gee.

imagesDie vrouestem oor die telefoon is half huiwerig, “Ek wil ‘n afspraak maak om een aand in die week fotos te kom neem.”  “Dit is in die haak,” antwoord ek, “sê net wanneer en hoe laat,” en met die woorde kry ek ‘n pen en my afspraakboekie gereed.  Daar is aarseling aan die anderkant van die lyn, en dan kom die stem in ‘n fluistering, “dit is vir my man, ek wil…… ‘n….. jy weet, kalerige fotos hê.”  Net daar stop ek alles, vir ‘n sekond of twee is daar doodse stilte op die lyn, dan sê ek,  “As jy pornografiese fotos bedoel, is ek nie die regte fotograaf vir jou nie”.  “O, nee!” korrigeer sy vinnig, “nie pornografies nie, net….. wel, kalerig.”  Ons maak ‘n afspraak vir dieselfde aand, en die res van die middag maak ek vir my prentjies van die wulpse vrou.

Ek is nie bang vir die menslike liggaam voor my kamera nie.  Op daardie stadium het ek fotos vir ‘n agentskap geneem, en meisies het voor my lens die onskuld van die kind tot die slinksheid van ‘n Delila uitgebeeld.  Toe die deurklokkie lui stap ek om te gaan antwoord.  Twee jong vroue staan voor my; die een wat die fotos wil laat neem stel haarself en haar vriendin voor; ek wys hulle deur studio toe, en laat glad nie blyk hoe stomgeslaan ek is nie.  Die jong vrou hier by my is pole verwyder van die prentjie in my kop.  Sy is ‘n “plain Jane,” groot gebeend, met blou oë, en haar blonde hare is in ‘n stywe poniestert vasgemaak.  Sonder grimering lyk sy vaal en daar is nie ‘n greintjie sensualiteit aan haar nie.  Inteendeel sy is baie skaam, en ongemaklik waar sy nou voor my staan.

“Kom sit en vertel my wat jy in gedagte het,” sê ek gerusstellend.  Sy is nie lank getroud nie, en wil graag vir haar man ‘n vergroting van haar laat maak waar sy wel…. ‘n bietjie “cleavage,” wys.  Sy gee my toestemming om my eie inisiatief te gebruik.  Ek glimlag breed (van verligting… en om haar meer op haar gemak te stel,) en sê vol selfvertroue, “Geen probleem nie, ons gaan vir jou man ‘n mooie, mooie foto neem, “cleavage,” en al.”  Ek bevind my nou op bekende terrein; in my element spring ek aan die werk;  “Eers gaan ek jou grimeer, sonder grimering gaan die ligte jou heeltemal uitwas,” en hiermee trek ek die kwas en verf nader.   Op die doek hier voor my begin ek skilder, en sien hoe haar gesig ontspan, en kort-kort breek daar ‘n effense glimlag deur.  “So ja, nou vir jou hare;” ek trek die rekkie uit haar hare, “ons laat jou hare loshang, en…“ al geselsende kam ek my vingers deur die blonde massa, “maak dit effens deurmekaar, vir die regte effek.”  “Daars hy, kyk hoe pragtig lyk jy nou,” en wys na die spieël teen die een muur.  Sy bewonder haarself vir ‘n paar oomblikke, haar oë blink, en daar is ‘n breë glimlag om haar mond.  “Nou vir die klere,” sê ek, “jy kan agter daardie skerm uittrek…. net jou boklere, maar hou jou bra aan, ek sal daarmee deel wanneer ek jou drapeer.”

Daar is ‘n prentjie in my kop; alles swart en in die middel van hierdie swart ‘n halflyf foto van ‘n blonde vrou in sagte wit drapeersel.  ‘n Sagte maar tog sensuele foto vir die man van haar drome.  Sy maak haar verskyning, en ek laat haar op die mat by ‘n lae tafeltjie hurk.  Dit is toe ek die deurskynende materiaal om haar begin vou dat ek besef daar is niks waarmee ons ‘n “cleavage,” kan vorm nie…. niks.  “Ek is maar plat,” sê sy toe sy sien waar my oë rus.  Ek gaan nie met haar stry nie, dus glimlag ek vol vertroue, “Ons kyk wat ons kan doen met dit wat jy het.”  “Druk jou bo-arms styf teen jou lyf en bring hulle dan vorentoe;” gewoonlik werk die metode vir die nie so goed bedeeldes.  Nogsteeds niks, nie eers ‘n beduidenis van ‘n “cleavage,” nie.

In die skemer studio met net die sagte studioligte aan, is alle skaam weg. Vanwaar haar vriendin sit begin sy lag; eers probeer die blondekop haar lag inhou, maar dan bars sy ook uit van die lag.  Ek sien al hoe die mascara traanspore oor haar wange trek, maar hulle lag is so aansteeklik dat ek nie my “pose” kan hou nie, en begin saamlag. “Trek uit daardie bra dat ek kan sien wat daaronder aangaan,” sê ek in die lag.  Sy maak so, en ek skud my kop terwyl ek kopkrap. “Ek gaan nog een ding probeer en sowaar ek het nog nooit ensiklopedieë vir dit gebruik nie,” en met die begin ek die lywige boeke onder die swart lap op die tafeltjie voor haar pak.  Ek drapeer haar in wit; “nou goed, staan vir my op jou knieë, dan buk jy oor die tafel totdat die ensiklopedieë onder jou borste rus, sak dan bietjie af sodat dit kan opdruk wat daar is, en terselftertyd druk jy jou bo-arms teen jou lyf en dan vorentoe.”  Gehoorsaam doen sy dit; drie paar oë staar net na een plek, wagtend op die takboklammers , soos die tweeling van ‘n ribbok wat tussen die lelies wei, waaroor Salomo so in vervoering geraak het.  Niks, ons kyk verniet…. want daar is niks.

My model val agteroor en gedrapeer in wit lê sy op die mat en rol soos sy lag.  Haar vriendin krul in haar stoel, en ek sak net daar op die grond neer, lam van die lag;  Die trane rol oor ons wange; drie vroue lag oor dit wat ‘n suster-eva so graag aan haar man wil gee, maar nie het om te gee nie.  Miskien lag ons ook met trane oor ons eie tekorte wat ons minderwaardig laat voel in ons vrouwees. Toe ons uiteindelik tot bedaring kom, kyk ek na die blonde vrou wat op die vloer saam met my sit; haar gesig is sprankelend, haar oë skitter soos diamante.  As hierdie blondekop se man weet wat goed is vir hom sal hy die lag in haar wakker maak, dink ek.  Salomo het oor meer as net die takboklammers, en borste wat soos torings staan geskryf; hy het die “Sulammitiese” vrou besing en op ‘n stadium gesê “draai jou oë liewer weg van my af, hulle maak my onrustig.”

“Kom” sê ek vir haar, “met jou oë gaan jy vir jou man ‘n liefdeslied sing.”  Ek knap haar op en hang ‘n swart fluweelstola om haar skouers… die fokus moet op haar oë wees.  Sy neem haar posisie in, “Ek gaan jou deur die hele proses praat,” sê ek van agter die kamera.  Deur die lens hou ek haar dop; die vrou hier voor my is soos klei in my hande, “Frame for frame I molded her into the image I had in mind,” en terselftertyd hoop ek haar man sal haar teen hom vashou soos die seëlring op sy bors.

Kameel – Sing met ‘n padda in die keel

Ken is weg Suidkus toe om vir ons seun en sy familie te gaan kuier. Dus is ek vir ‘n week of wat alleen in die Voëlnes. Vanoggend doen ek soos gewoonlik my stiltyd maar met een groot verskil… ek kan weer hardop met die Here praat. Ek vertel Hom ek dink Hy is Awesome en wat nog meer, en lag toe ek vir Hom sê die Skrif sê vanoggend “Sing a new song to the Lord,” maar ek weet werklik nie of Hy dit wil hoor nie.

My stem was nog nooit goed nie, dit het die sangonderwyseres in standerd vyf my goed laat verstaan; maar dit het my nie gekeer om daar tussen die mielielande, vir ‘n uur in die bad te lê, en uit volle bors vir die Here te sing nie. Maar met die ouderdom saam klink dit al meer asof ek ‘n padda ingesluk het.

Nou goed, sê ek vir die Here, ek gaan nie ‘n nuwe lied vir Hom sing nie maar Hy weet hoe lief ek Hom het, en gaan vir Hom een van my gunsteling liedjies sing, en heel krakerig val ek weg met

“I love You Lord

And I lift my voice

To worship You

Oh, my soul rejoice,

Take joy my King

In what You hear

Let it be a sweet, sweet

Sound in Your ear.”

By nou sou my kinders al lankal hulle ore toegedruk het. (Hulle sê my singery in die oggende wanneer ek hulle wakker gemaak het was ‘n straf.) Ek sê toe maar vir die Here dit was nou nie baie goed nie, maar ek hoop Hy het dit geniet.

Net toe kom hierdie whattsapp van ‘n vriendin deur. 😀😀😀😀

IMG-20180415-WA0002

Geniet julle dag!!!

 

Kameel – Hoe meer siele, hoe meer vreugde

Net as ek dink ek het nou alles gesien, dan gebeur daar weer iets wat my, my kop laat skud. Die groot “issues” in die lewe het so gereeld gekom dat dit my nie meer skok nie; dis die klein onverwagte dingetjies wat my nog vang. Ons huisgesin is mos mine, yours, ours and others’ – maar hulle is almal ons s’n. Boeties en sussies met vyf verskillende pa’s en vier verskillende ma’s, uit vier nasionaliteite met genoeg gene om jou kop te laat spin.

Die jare toe my twee oudste tienerseuns vir vakansies kom kuier het, het hulle sommer hulle jonger stiefboetie ook saamgebring. Die motto van ons huis was “open heart – open home,” dus is die kind met groot liefde ontvang…. al het nie sy pa (my eks) of ma met my gepraat nie.

Wel, die kinders het mekaar toe nie uitgemoor nie, en elkeen het hulle eie nes begin skrop. Party se nesse is ook maar goed deurmekaar, waarvan die stil kind s’n definitief die koek vat. Sy en haar man (sal hom maar skoonseun noem) is al ses jaar uitmekaar – maar nie geskei nie. Hy het die twee dogters gevat; hulle een vakansie kom haal en nooit weer teruggebring nie. By daardie tyd het die stil kind klaar by ‘n man vyftien jaar ouer as sy gebly. Skoonseun het ons nog nie weer met ‘n oog gesien nie, en hy is ons nie goedgesind nie.  Ons twee kleindogters sien ons so wan en dan met ‘n familiebyeenkoms. Hulle bly ongelukkig vêr van ons af. Intussen het skoonseun ook ‘n nuwe liefde gekry; ‘n vrou met drie tieners, wat ons van geen Adamskant af ken nie.

Vrydagmiddag kom ek en Ken by die huis, en daar staan ons twaalfjarige kleindogter, met ‘n blondekop vriendin aan haar sy, ons en inwag. Bly, maar heel verbaas vra ek natuurlik wat, hoe, waar, wanneer – en hoor die vriendin is nie haar vriendin nie maar haar vyftienjarige sussie (skoonseun se liefde se dogter) en dat hulle vir drie dae kom kuier het. Die nuwe liefde het hulle kom aflaai. Jy kon my met ‘n veer omtik.

Die nuwe sussie (wat ek nou wonder of sy ook as my kleinkind tel) kry natuurlik toe ‘n stywe druk en warm verwelkoming. Gelukkig is Marlé hulle se huis ook ‘n oophuis, en het die twee meisiekinders blyplek. Marlé vra later so half verdwaas of ek dit verstaan. Nee, ek verstaan dit nie maar wat, niks in ons huisgesin het nog ooit veel sin gemaak nie.

En wat maak ek al van Vrydag af? Geniet myself gate uit met die vier tieners op die erf. Speel vingerbord en lag en gesels weer soos toe my kinders in die huis was.

En dan het die IPL krieket ook begin…. hoe lekker kan die lewe nie raak nie!!!

IMG-20180408-WA0008