SKRYF-SAFARI : ‘n Feëverhaal

Layla het saam met haar pa en ma op ‘n plaas gebly. Sy was ‘n gewone dogtertjie met swart hare, blou-blou ogies met lang swart wimpers. Tog was daar iets anderste aan haar; elke jaar met haar verjaarsdag het sy mooier geword, maar geen spieël wou haar wys hoe mooi sy is nie. Die spieëls was bang as hulle haar wys gaan sy hoogmoedig raak, en nie die vriendelike en liefdevolle dogtertjie bly wat sy is nie.
Layla het groot geword en moes in die stad gaan bly. Mense het na haar gestaar en gewonder of sy ‘n bosnimf is wat hulle kom betower het met haar natuurlike skoonheid. Die meisies wat saam met haar in ‘n ou tannie se losieshuis gebly het, het gewag totdat Layla slaap dan het hulle om haar bed gaan staan en na die slapende skoonheid gekyk. Miskien het sy in die nag in ‘n feëprinses.verander en verdwyn om in die bos saam met die ander feëtjies te gaan speel, het hulle gedink.
Op ‘n dag ontmoet Layla vir Aidin. Hy is gaaf en aantreklik, en Layla verloor haar hart op hom. Hy sit ‘n diamantring aan haar vinger, en sy belowe om oor ‘n jaar met hom te trou. Nie lank daarna nie gaan Layla met vakansie en daar sien ‘n filmmaker haar. Haar skoonheid betower hom so dat hy besluit om haar die hoofrol in sy volgende film te gee – dan kan die wêreld sien hoe mooi sy is.
Terug by die losieshuis bel die filmmaker vir Layla, en daardie middag kom haal ‘n chauffeur haar met ‘n groot blink motor. Vir Layla is dit ‘n nuwe wêreld en sy luister met groot oë na die filmmaker wat haar van sy planne vertel. Sou sy “ja” sê, gaan sy oorsee waar dele van die film geskiet gaan word. Vir Layla voel dit asof sy binne ‘n sprokie beland het en sy besluit om weer in die spieël te gaan kyk vir die geheim. Die spieël het egter doodstil gebly.
Layla se kop is deurmekaar. Sê sy “ja” vir die filmmaker kan sy nie oor ‘n jaar met Aidin trou nie. Sê sy “nee” sal sy altyd wonder wat sou in die towerwêreld gebeur het. Sy besluit om die ou tannie van die losieshuis te vra wat sy moet doen. Die tannie luister mooi na Layla en sê dat Layla by die plek waar een pad twee paaie word gekom het. Die plek se naam is “Keuse,” en net Layla kan kies watter pad sy wil loop. In die bos waar die twee paaie begin is daar ‘n Wyse Rots wat vir Layla die regte pad sal aanwys as sy Hom vra… maar die keuse bly Layla s’n.
Layla stap die bos in en gaan sit by die Rots waarvan die ou tannie gepraat het. Sy begin met die Rots gesels en vertel Hom hoe deurmekaar sy is en dat die Rots vir haar moet sê wat sy moet doen. Die Rots sê Hy kan vir haar die rigting aanwys, maar eers moet Layla stil word, en kyk waarheen elke pad lei, en of dit is wat sy graag vir haar lewe wil hê. Die pad wat vir haar Vrede aandui sal die regte pad wees… maar Layla moet self besluit of sy daardie pad wil stap of nie
Layla doen toe wat die Rots vir haar gesê het. In die een pad sien sy vir haar en Aidin hand aan hand stap. Op die dag van hulle troue verander sy in ‘n pragtige prinses. Aidin gee haar ‘n goue ring, en daarna dans hulle op vrolike musiek tussen blomme rond. Toe die klok twaalfuur slaan trek Layla haar wit prinsesrok uit, en trek weer haar gewone klere aan. Sy en Aidin bly in ‘n huis; hy moet hard werk, maar hulle is gelukkig, en toe daar later vir hulle ‘n babatjie gebore word loop hulle beker oor van geluk.
Die ander pad is met goud besprinkel. Layla se hart slaan bollemakiesie toe sy daarna kyk. Die filmmaker vat haar hand en lei haar die vreemde wêreld binne. Eers is Layla skaam en baie bang… maar hoe dieper hulle die wêreld binnegaan hoe groter en mooier word dit. Layla verwonder haar aan al die blink liggies en sy sien tot haar gesig tussen die liggies. Haar hart klop al vinniger, en sy voel sy wil dans van opgewondenheid. Om te dink dat sy ‘n plaasdogtertjie in hierdie wonderwêreld kan gaan bly. Dis ‘n regte Aspoestertjie storie.
Meteens verskyn Aidin se gesig voor haar en Layla keer terug uit haar wonderwêreld. Sy kyk weer na haar en Aidin se paadjie, en ‘n diep vrede kom lê in haar hart. Dit is die paadjie wat sy wil stap. Sy glimlag en lê terug teen die Rots. “Dankie,” fluister sy saggies. ‘n Rukkie later stap sy al singend terug losieshuis toe.
Dis ‘n ware verhaal wat ek in ‘n feëverhaal omskep het.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975
Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Like this:
Like Loading...