Honeymoon met die Here (4)

 Die volgende dag nooi God my om saam met Hom te gaan stap langs die see. Dit was my laaste dag voor ek moes teruggaan en ek het gewag vir Sy ‘take home’ message. Ek het uitgesien na die dag. Het besef dit gaan ‘n ver stap wees en het my bewapen met ‘n waterbottel, sonblok , ‘n paar sparkles en my handdoek en sarong.

 Die gesprek was eers lig:

 ‘Ek is bly jy kom saam met My vandag My kind.’

 ‘Sjoe Here wat ‘n lieflike dag. Dankie dat ek hier kan wees om net weer my batterye te laai…..’

 En ek sing  ‘I love You Lord, and I lift Your Name….There is none like You….’

‘Dit is lekker as jy vir My sing. Ek hou van jou stem….. En …Ek wil meer vir jou doen as net ‘jou batterye laai!’ – so droogweg sê Hy dit

‘…..SIen jy al die wonderlikhede en die detail van wat Ek  gemaak het: hier op die sand….in die golwe……..in die lug … voel jy die koel wind ….die warm son? Ek’t dit gemaak vir jou. Om te geniet…..Jy is spesiaal vir My.’ – en ek voel gekoester

‘Sjoe Here, dit IS heerlik hier. U ‘t seker geweet ek is mal oor die see, dis hoekom U my hierheen gebring het om te herstel, né?’

‘My kind, Ek weet alles van jou af….. Onthou, Ek het jou gemaak, ja, ook jou liefde vir die see…..Ek het jou versigtig aanmekaar gesit, sodat alles net mooi pas…. Jy is die kroon van my skepping! Ek jou mos al gesê, Ek is so bly Ek het jou gemaak! As Ek na jou kyk, is Ek opgewonde, want Ek sien al jou potensiaal, hoe jy al gegroei het, hoe jy die regte ding probeer doen, al is dit soms op die verkeerde manier…….Maar Ek sien ook jou hartseer en verdriet…’

‘Here, ek is so eensaam in my huwelik. My man gee regtig nie meer vir my om nie ….. of het jare terug al vergeet hoe om dit te wys. Sy liefde vir my is net….opgedroog….En ek het nie meer ‘n maat soos eers toe dit wonderlik was nie. Dis of hy sy rug op my gedraai het en emosioneel van my geskei het…..Ek het al soveel keer probeer praat, briewe geskryf, toenadering gesoek …….maar dit werk nie. Niks wat ek doen verander sy hart nie. Ek kan nie die breuk herstel nie……’

‘Ek weet My kind. Ek weet. Ek sien al vir jare dit wat aangaan. Ek sien jou seer … maar ook syne. Want dis sy seer wat gemaak het dat hy sy rug op jou ….en ook op My draai. Maar dis nie die einde nie, dis net die begin….’

‘Here, maar ek kan nie meer nie. Hoe lank dan nou nog??!’

‘Jy verstaan nie. Dis net die begin van ‘n Nuwe lewe vir jou ……. en vir hom as hy dit sou kies en na My toe kom. Dis ALTYD ‘n nuwe begin as jy na my toe kom …. soos nou. Want by My is daar Hoop en Herstel en Waarheid vir leuens en Troos vir verlies…net by My.

En ja, Ek weet jy’s my kind al van hoërskool af, maar dis tyd dat jy groot word. Want jy’s ‘n pragtige vrou van buite, maar jou verstand en emosies, jou siel, moet nog volwasse word. Terwyl jy arme ekke bly, kan Ek jou nie gebruik nie. En kan jy nooit gee in jou huwelik en ander verhoudings wat Ek wil hê jy moet gee nie. En dis anders as wat jy tot dusver probeer gee het …. Terwyl jy soos ‘n needy kind is, kan jy ook nie ontvang van My en ander, selfs van jou man, dìt wat Ek bedoel het dat jy moet ontvang nie.

Niemand kan regtig gee of ontvang…… terwyl hulle kies om soos babietjies te bly nie.

Ek het ‘n roeping vir jou weet jy. Die nasies ken My nie. Hulle weet nie van My goedheid en liefde vir hulle nie. Ek wil jou stuur….. Maar Ek kan nie ‘n babietjie stuur nie!So Ek wil jou help om volwasse te raak. Ek wil jou mooi maak, pragtig en vol vertroue, nes Esegiel 16 se babie. As jy wil?

(vervolg)

Advertisements

Honeymoon met die Here (3)

By die see het ek gaan swem, in die diep water. Toe ek onhou dis haai territory en seestrome wat intrek, het ek maar so effens meer vlakkies geswem. Ek wou darem nie regtig nou al doodgaan of ‘vermis’ word ‘in action’ nie! My kinders het nog ‘n ma nodig en my man ‘n vrou, al weet hy dit nie!

Ek het lank stukke my Bybel gelees….. nog en nog ….. en Sy geheime wat Hy vir my gefluister het in my joernaal neergeskryf. Veral dìe wat gaan oor hoe Hy my sien en Sy beloftes aan my….Dit was so lekker om alles wat waarheid is net weer te hoor en in te drink…

Ek was soos die hert in dorre streke wat nie genoeg kon kry….van my Abba se Pappaliefde vir my, wat my wil beskerm teen Sy bors en my wil troos en toevou en hoopgee…. en van my Hemelse Bruidegom Jesus wat dink ek is mooi en pragtig, soveel so, dat Hy twirl oor my!!! Sefanja 3:17 wat sê ‘He rejoices over me with singing’ se Hebreus sê eintlik He twirls  (‘warrel vinnig in die rondte’) over me!!  – soos ‘n dogtertjie wat opgewonde is en vrolik is oor die iets! So is Hy oor my……Ek was in trane….

Verder kom wys Hy my toe in Hooglied 2:13,14 hoe graag Hy my gesig wil sien, my stem wil hoor, ‘for your voice is sweet and your face is lovely’ en Hy wil hê ek moet ‘come away with Him’ – soos in privately, intiem, one on one. En dan in 4: 7-9 sê Hy weer hoe mooi ek vir Hom is, hoe graag Hy wil hê dat ek moet ‘come away with Him’ . Want ek het Sy hart ge ‘ravish’, met ‘one look of my eyes’. En in 6:5 sê Hy: ‘Turn away your flashing eyes from Me, for they have overcome Me’……Dit was asof Jesus vir my sê dat Hy smelt as ek na Hom kyk, soos Iemand wat lovesick is…..ek kon dit nie glo dat God so oor my voel nie ……I just wept and wept …

Ek het begin verstaan: ek het nie ‘n cooking clue hoe lief die Here my het nie……

Hy dra my belange op Sy hart, weet van alles en ek is veilig by Hom…..

In die aand het ek my kerse opgesteek, al die ligte afgesit en saam met my Here en Koning  nagmaal en slaai geëet. Toe het ek worship musiek gespeel ‘Will you dance with Me?” En ek het met my lappe voor die Hom gedans ….. en toe mét Hom gedans – op die platdak van die huis.
Ek het gevoel hoe lig die swaar donker wolk van my af. I was dancing on the injustice and the unrighteousness of my own home. And taking back the authority that God has given me as wife and mother.
En ek was vervuld, tevrede….

(vervolg)

Honeymoon met die Here (2)

Ek was eensaam en uitgebrand en getrou aan ‘n man wat vir jare al homself emosioneel van my onttrek het. En ja, hy het rede vir depressie gehad in die begin. Maar na jare raak mens tog beter? Jy kan tog weer kies om jou leisels op te tel en weer saam met die perde stap, al het jy nog nie moed vir opklim nie?

Ek het vergeet wie ek is. Waarvan ek hou. Wat vir my belangrik is. Ek het gedink ek mag ook nie, nes hy, meer die lewe geniet nie, en het onttrek van sosiale dinge, nooit meer mense genooi nie en ook nie meer selgroep toe gegaan nie. Want hy wou nie mense hê nie. Hulle het hom nog meer bedruk laat voel. Ek’t vergeet dat ek mal is oor mense en lag en vrolik wees, die lewe wil geniet en grappe maak. Ek het vermoed hy’t ‘n buite egtelike verhouding, maar het nog slegter gevoel toe ek besef dat daar niemand is nie! Maw ek het sy liefde en belangstelling verloor teen geen kompetisie nie! I mean that’s even worse!

Ek was OP! Heeltemal op….en baie moeg van alleen sukkel. I needed a break, badly!

Toe nooi die Here my see toe! Sommer so, in my stiltetyd….Stoksiel vrou alleen, vir honeymoon met Hom!! Ek was eers onseker, want nog nooit het ek so iets gedoen nie. Maar die kinders was netmooi weg na ‘n skoolkamp, so hulle sou nie weet of wonder nie……En hoe meer ek gedink en gebid het, hoe meer het ek vrede en totale kalmte gekry daaroor. Ek het geweet ek doen dit nie om hom te spite of seer te maak nie. Ek doen dit vir myself, voordat AL my wiele afval  … Ek moes nuwe strategie by die Here kry. Ek kon nie meer so leef nie.

Pappie kon sy oë nie glo toe ek met my tassie staan en hom groet nie. (Hyt seker eers gedink dis koebaai!) Maar ek’t hom mooi vertel waarnatoe ek gaan en dat ek ‘n break van hom nodig het. Sonder trane, want die was toe al op. Hy weet ek is nie into ‘games speel’ nie, so hy’t geweet dis ernstig. My net oorbluf aangestaar toe ek by die deur uitstap.

My Lofprysing CD’s het kliphard geblêr al die pad tot daar. Ek was skoon opgewonde en vol verwagting……

Honeymoon met die Here!(1)

Ek het spasie nodig …. dringend….. van my man!!

 Dis hoe ek gevoel het daai tyd, toe ek vir die eerste maal in my lewe ALLEEN see toe is. Middeljarige vrou. Vir 3 volle dae. In ‘n vriendin se strandhuis. Net stoksielalleen ek en die Here.

 Ek kon nie meer so aangaan nie. Ek het ‘op my einde’ gevoel in my huwelik. Vir jare het ek uitgehou en aangehou om hom te probeer please en hom weer bly te maak, hom terug te lok om weer met my in verhouding te kom, weer te konnekteer met my, my weer raak te sien. Ek was die bytjie wat gezoem het om sy blommetjie. Ek wou hom so graag help om uit sy gat te kom……..

 Ek ‘t hom opgehemel (sonder om vals te wees), hom geëer, hom bewonder, vir hom tee aangedra, liefde gegee sonder om terug te verwag, my mooi gemaak vir hom. Ek was ‘n ware 1 Petrus 3 vrou! Ek’t my hare verander, ‘n paar keer, om meer glamorous te lyk vir hom, dan weer om meer besadig te lyk. Dan my kleure en klere meer sanderig en  ‘aards’ gemaak. Hy hou tog nie van blomrokke nie! En ek’t al hoe valer gevoel….

 Ek het met hom probeer praat, vir hom laat verstaan ek is hier vir hom en aan sy kant, vir hom by herhaling probeer sê dinge is nie reg nie, kom ons probeer oor……Ek’t probeer maer word. Was maar altyd effe mollig en sag, maar darem nooit heelvet nie…. En toe meer seksie geraak. Ek was nog altyd maar ‘n bietjie koekerig – jy weet: ma het destyds gesê: “beige en wit bra’s en panties is ok. Die res is uit.” Maar toe raak ek ‘wild’! –  met pienk en blou en swart nommertjies….. alles om hom te plesier……maar hy’t nie eintlik note gevat nie. Of soos hy spesifiek gesê het. Hy’s nie eintlik ‘visueel’ nie. (Die beige en wit was in elk geval nooit ‘n probleem vroeër jare nie, toe was hy mal oor my, met of sonder…..) Ek wou hom net so graag weer laat lag en vreugde gee.

 Maar niks het gewerk nie.

 Hoe meer ek probeer het om versigtig te trap, hoe meer het hy grumpy geraak. En kwaai en ontevrede…..

(vervolg)

Ma se goeie intensie en die storie van my ‘Graat’

Voor sy getrou het, was Ma ‘n Latynse juffrou. Sy was die enigste vrou op die personeel van die seuns hoërskool. Sy’t ‘n graad gehad en sy was nie stupid nie.

Maar toe sy met Pa trou was die orders: ‘Vrou, jy sal nie werk nie. Jy moet vir my en die baie kinders wat ek wil hê, huishou.’ Ma was lief vir Pa en wou hom gelukkig hou. En Ma was ‘n goeie vrou en ‘n baie goeie ma. En Pa was ‘n goeie versorger, stabiel, betroubaar en baie lief vir Ma.

Maar later het Ma al hoe meer onder die duim gevoel…. en haar eie dink gedink.

Ek is die tweede van vyf kinders en die oudste dogter. (Pa wou ses gehad het, maar Ma sê toe ‘fullstop’ by nommer vyf!) Ek is mooi slim en Ma is baie trots op my. (al kan ek steeds nie brei nie – sien Concorde en die breilesse)

Ma wil net die beste vir my hê en toe ek in matriek is, sê sy vir my: ‘Meisiekind, kry tog net ‘n goeie graad, professioneel as jy kan! Dan sal jy gelukkig wees. ‘n Vrou moet op haar eie voete kan staan en nie so afhanklik van ‘n man wees nie.’

Raai, en met bloedsweet kry ek toe sowaar die ‘Graat’ – heel professioneel en als, en ek KAN na myself ‘kyk’…… maar dit maak my niks gelukkiger nie, want ek ontmoet vir Manlief en wil eintlik net na hom en die kinners wat kom ‘kyk’ en omsien! Maar nou sit ek met die ‘Graat’ – wat almal bewonder, maar wat my steek! Ek het jare se studieskuld wat afbetaal moet word. So, werk werk jy suster, of jy nou wil of nie. Voldag, na ure, stress, min slaap en baie verantwoordelikhede, meer as wat ek voel ek kan dra…..En ek glo ek moet, want ek is dit verskuldig aan die ‘mensdom’!! En ek het dan ‘so baie ontvang, daarom sal daar baie van my gevra word’… En ek is dan so ‘bevoorreg’ met so ‘n Graat….

En Manlief sê ook:’Vrou, jy moet jou Graat gebruik. Ek hou van jou wat werk en ook help inkomste inbring en ek gaan nie alleen werk nie.’ (Asof kinders versorg en leer van die Here en huishou nie werk is nie!) So ek is jonk en dom en onseker en voel ek het nie ‘n keuse nie.

Om my kinders te borsvoed is vir my ‘n wonderlike ervaring en middagetes jaag ek van die werk af huis toe om my sagte kind te voed en ‘n oomblik se storie te lees vir ons 3 jaar oud seun. As ek dan weer werk toe vertrek, is dit ‘MAMMA!!” wat gegil word deur die sitkamer venster….en my hart wat breek, elke keer ….en ek is so verskeurd…. Al is hulle veilig versorg en geliefd….. My hart pyn oor ek hulle lyfies mis en self wil troos en speel en slaapmaak….

Ek leer ken uiteindelik die wonder van ‘halfdag werk’, en, met verloop van tyd, dat ek selfs maar MAG ‘deeltyds werk’, en nog later selfs ‘flexietyd’. Als gaan oor ek na my kinders verlang en deel wil wees van hulle lewens en hulle ‘self wil grootmaak’. Maar baie maal is die stress steeds geweldig: om al die kole van profesionele-vrou-wees in die vuur te hou en al die balle by die huis in die lug,,,

Vandag is my tienerkinders bly oor ma wat werk en wat hier en daar ‘n perdryles of rekenaarspeletjie kan betaal. Ons het min ‘luxuries’, want tyd met my kinders is steeds vir my belangriker as enige aardse rykdom. My tieners is ook dankbaar en weet ma se werk sorg vir stabiliteit, veral ook toe die jare aanbreek toe Manlief glad nie kon werk nie. Die kinders het ook geen ‘klagtes’ oor ma wat hulle afgeskeep laat voel het toe hulle klein was nie. (Maar hoe meet ‘n mens in elk geval die effek van ‘n ma se stress op haar klein kinders?)
En ek sal nou nie sê’hulle eet uit my hand’ nie, maar hulle deel hulle harte met my en ons verhouding is so, dat ons mag lag en simpel wees, maar ook mag eerlik en ernstig praat.

My tienerkinders is vir die Here lief en verstaan Sy liefde vir hulle. Dit is die hoogste en beste ‘graad’ wat die Here my kon gee!… dit is eintlik ‘God se genadegraad’.

Vandag dank ek ook die Here vir my werk wat wél baie mense help en waar ek geleentheid kry om mense nader aan Jesus te bring. Want sien, my werk vereis dat ek aan mense moet raak. En wat baie maal gebeur, is dat as ek klaar die ‘aanraak’ deel gedoen het, dan gebeur daar iets in die gees dimensie….. seker iets met vertroue te doen ….en as ek dan net vra: ‘Maar hoe gaan dit regtig met jou?’ Dan loop die trane en die weerloosheid loop oor….’Nee, ek kan nie meer bid nie. Ek’s moedeloos met die lewe. Ek dink nie die Here gee meer om nie…’
En dan blom dit in my binneste, want ek weet die Here wil IETS hier kom doen!! En baie maal kan ek dan bemoedig en bid en weer help om geloof te herstel in ‘n God wat altyd in beheer is en ALTYD goed is en liefhet, GROTER as wat ons ooit kan dink…..
So my werk, gee my ‘n gap wat kosbaar is en waarvoor ek baie dankbaar is.

Maar: As ek oor kon kies op 17 jaar ouderdom, sou ek eerder ‘n ‘ligter‘ graad gedoen het en ‘n by-die-huis-bly-ma wou wees.

En dan, as die kinders in die skool is, sou ek vrywillige hulpdiens by ‘n hospitaal of ouetehuis doen, hare was en toonnaels knip, of so iets…. vir die wat nie kan nie ……… of storieboeke vir die blindes lees of opneem …. of so iets. En dan ‘n minder gestressde ma wees in die middag. Dit sou nogals vir my lekker wees…. I could live with that…..easiily.

Want sien: Ek was nooit ‘n career woman nie. Ek wou net my kinders hê….en self my man se kos maak.