Ek hét mos al vertel van Libby, ‘n E-biblioteek waaraan ek behoort. Jy moet lid wees van jou plaaslike biblioteek en op dié manier kan jy dan inskakel by Libby. Ek lees e-boeke en luister audioboeke. Dis veral die audioboeke wat my lewe baie verryk, wat ‘n nuwe pad vir my oopgemaak het, want dit kan ek luister terwyl ek besig is met ‘n handwerkie of terwyl ek in die kombuis woel.
Ek luister meestal stories. Christine le Roux se Omnibus 8 en Elsa Winckler se Romanza Nostalgie is sommer net lekker ligte leesstof. Flying Angels, The Butler en Complications van Danielle Steel was heerlike luisterstof. A Duke for Diana deur Sabrina Jeffries was ‘n heerlike verrassing, ek het nog nooit van haar boeke gelees nie en sal beslis weer na haar boeke kyk. Jeffrey Archer is natuurlik in ‘n klas van sy eie en The Eleventh Commandment het nie teleurgestel nie. Ek sal beslis weer Karen Kingsbury se boeke lees, The Baxters en A Distant Shore was heerlik. Dis lieflike, mooi stories met ‘n Christelike inslag. Kantelpunt van Sophia Kapp, ‘n wonderlike, weldeurdagte boek met soveel dinge waarmee ek my kon vereenselwig. ‘n Boek van bevryding. Bookshop by the Sea, geskryf deur Denise Hunter, het net so lekker geluister. Daar is ook jeugboeke, soos ‘n Goeie dag vir Boomklim deur Jaco Jacobs. Dis regtig ‘n oulike boek om te lees.
Maar waaroor ek einlik wil skryf, is Tolbos deur Irma Joubert. Dis my eerste Irma Joubert wat ek luister. Ek het wel al stukkies voorlesing op die radio gehoor as dit toevallig aan is. In die keurigste, mooiste Afrikaans herleef ek die geskiedenis soos wat ons dit beleef het. Want Katrien is omtrent net so oud soos ek. Al verskil is dat ek regtig ‘n gelukkige kinderlewe gehad het terwyl sy haar ma op ‘n baie broos ouderdom verloor. Sy is rebels, kwaad, woedend. Sy wys my die lewe uit ‘n ander hoek. Soos die Voëlvry beweging. Ek was beslis daardie jare nie in dieselfde kamp as sy nie, maar vandag, as ek terugkyk en Tolbos lees, juig ek saam met haar oor die verandering en groei wat in ons land gebeur het. Besef ek dat elkeen van ons sy deeltjie bydra op sy eie manier. Sy, deur kwaad te wees, ek weer op my manier. Die geskiedenis, die politiek van die dag, PW met sy wysvinger … ek beleef dit weer saam met Katrien sonder dat dit ‘n geskiedenisboek is. Sonder dat dit té veel in my keel afgedruk word. Want, al lees en kyk ek nie nuus nie, al is ek nie betrokke by die politiek nie, leef ek mos vandag. Word ek beïnvloed deur die gebeure van die dag. Kan ‘n mens dit mos nie heeltemal ignoreer nie, want ek woon hier, ek leef hier. Irma Joubert, dankie. Dankie, dankie dankie vir hierdie pragtige boek! En dankie vir Carla Smith wat dit voorlees op ‘n wonderlike, meelewende manier.
Toortsie
(Terloops, ek het in hierdie week gehoor dat die Wes-Kaap se bib weer aanlyn is en dat mense wat gesukkel het om op Libby aan te teken , dit nou weer kan doen. Ek kan natuurlik niks waarborg nie, dis mos maar op hoorsê, maar dalk die moeite werd om weer te probeer.)
Jy maak my lus om weer te lees. Ek kry nie tyd vir lees vir ontspanning nie – want – ek los dan alles tot die boek klaar is. En dit kan ek nie nou doen nie. Ek gaan by Stilbaai se bin aansluit. Nogal ‘n proses, ek moes eers iemand kry om te teken dat ek haar details mag gee as my referent. Is jy op Netwerk24 se toep? Ek twyfel nogal as jy nie nuus kyk nie.
LikeLiked by 1 person
Ek kry slegs nuus in wat ek toevallig hoor as my radio aan is. Nee, nie op Netwerk 24 nie. Ook nie TV nuus nie. Wat is Stilbaai se bin? Ek lees ook meestal nie-fiksie en bieje oor ‘n sekere onderwerp. Die oudioboeke werk vir my as ek ander goed dien. Dan hou ek van stories.
LikeLiked by 1 person
Bib, nie bin nie. Ek vra oor Netwerk24 omdat hulle elke maand ‘n luisterboek het. Ek gaan vandag begin om te luister terwyl ek iets anders doen – soos byvoorbeeld om te stap
LikeLiked by 1 person