Liewe Prins Harry
Ek skryf hierdie brief vir jou in Afrikaans, want dis my hartstaal waarin ek my die beste kan uitdruk. En die kans dat dit in elk geval by jou gaan uitkom, ongeag die taal, is sekerlik ‘n ronde nul. Maar dit wat ek hier skryf is al van gisteroggend af in my hart. Dit draai in my kop en eintlik moes ek dit gister geskryf het toe die woorde so vars en duidelik in my kop was.
Liewe Harry, ek is sommer net ‘n gewone boervroutjie hier van Suid-Afrika. Beslis nie iemand met wie jou paaie normaalweg sal kruis nie. Ek ken en verstaan nie eers presies die Britse Koningshuis en presies hoe dit werk nie. Maar ek is ‘n ma. ‘n Ouer. Iemand wat selfs kinders het. Iemand wat self ook ouers gehad het. Iemand wie se kop al baie gestamp het.
Harry (ek hoop nie jy gee om dat ek jou op die naam noem en nie u sê nie. Ek bedoel nie om disrespekvol te wees nie.), ek kan my op geen manier indink wat tussen jou en jou pa gebeur het nie. Ook nie hoe dit moes wees om in ‘n koningshuis groot te word nie. Ook nie wat jy as prins moes verduur nie. Al wat ek dink en weet is dat albei van julle se harte oneindig seer is en nie net julle twee se harte nie, maar almal na aan julle. Ai, Harry, ons as ouers maak maar foute. Baie foute. En ons doen dit omdat ons ook maar soms nie beter weet nie of omdat ons gedruk word of wat die rede ookal is. Maar wat ek weet is dat elke ouer sy kind oneindig liefhet, selfs die slegste van ouers. En ek weet dat jou pa, die koning, jou oneindig liefhet en ek kan nie dink dat hy ‘n slegte ouer sou wees nie. Ek weet dat hy jou liefhet.
Jy weet, selfs al was hy die koningin se seun, die uitverkore een, dat ook hy nie ‘n maklike paadjie sou stap nie. Netflix het vir my gewys hoe hy geboelie is as kind en ek wil amper sê, sy hele lewe lank. En nee, dit gee hom nie die reg om doelbewus verkeerde dinge teenoor jou te doen, wat ek nie weet en nie wil glo dat hy dit sou doen nie. Maar uit sy eie pyn, uit die agtergrond van wat hy moes beleef, uit die bagasie wat hy met hom moes saamdra, het hy opgetree na die beste van sy vermoë, selfs al was dit nie soos jy dit dalk sou wou hê nie. Want weet jy, ons as mense verskil. Ons persoonlikhede verskil. Ons liefdestaal verskil. En juis daarom wil ek glo dat hy vir jou die beste bedoel het.
Liewe Harry, ek volg nie al die skinderstories oor julle gesin nie. Om die waarheid te sê, probeer ek dit heeltemal ignoreer. Want dit is nie in my aard om enige skinderstories te wil volg en uit te ryg nie. En dalk is ek nou heeltemal van die punt af, maar dan is dit ook reg so. Maar as ouer, as ouer ‘tannie’, as Christen, wil ek jou vra: Wil jy nie maar jou pa vergewe vir wat hy aan jou gedoen het nie? Al het hy dit bewustelik gedoen. Al het hy dit selfs onbewustelik gedoen? Wil jy nie die foon optel en vir hom bel en sê: “Pa, ek het jou lief” nie. Selfs dalk, “Pa, ek vergewe jou onvoorwaardelik en wil sommer net jou seun wees.” Sonder voorwaardes. Sommer net omdat jy sy kind is. En, as jy die moed het, vra dalk vir hom ook om jou te vergewe …
Harry, die lewe is so kort. Asseblief. En jou pa is oud. Ag, en as jy nog wonder oor die kroningsgeleentheid … Gaan woon dit ASSEBLIEF by. Ter wille van jou pa! Asseblief! Gaan woon dit in liefde by. Sjoe! Hy het lank gewag vir hierdie geleentheid. Gaan wys hom hoe verskriklik trots jy op hom is. Gaan ondersteun hom.
En, as dit nou nie heeltemal te veel gevra is nie, jou broer … jy weet, julle is al wat julle het van julle gesin.
Tannie Toortsie
Kinders is so super krities op hulle ouers en soms so onvergewensgesind. Hulle besef nie dat hulle kosbare tyd mors nie. En dan sterf die ouer. En die kind sit met spyt en skuldgevoelens sy lewe lank. En miskien eendag, gebeur dieselfde net hom en sy spyt vererger. Word groot en maak vrede!
LikeLiked by 1 person
So hartseer.
LikeLike
Ag Toortsie, al kom jou lieflike briefie dalk nou nie by Prins Harry uit nie, bereik dit hopenlik ‘n paar ander “Harry’s” in ons wereld wat nodig het om jou woorde te hoor. ‘n Mens is maar voortvarend as jy so jonk is (en as jy dan nou nog boonop ‘n prins ook is en ryk daarby), dan dink jy seker ek kan doen en se net wat ek wil … maar in die proses maak jy links en regs seer. Natuurlik ken ons nie Prins Harry en die ander Harry’s van hierdie wereld se omstandighede nie, maar om te vergewe kan die las soveel ligter maak. Dankie vir jou mooi woorde 💌.
LikeLiked by 1 person
Ai ek het ookal in my lewe so verkeerd getrap … ❤️
LikeLiked by 1 person
Dis sulke waar woorde Toortsie, soveel hartseer en onvergifnis.
LikeLiked by 2 people
Oral, Aletta. ❤️
LikeLike
Ek ken n paar Harry’s….dalk moet hulle almal hierdie lees.
LikeLiked by 1 person
Net so! Dit het so ‘n algemene gesig geraak.
LikeLiked by 1 person
Dis juis die wat nodig het om hier te lees lees dit juis nie. Is soos die predikant wat oor al die onnodige teregwysings preek plaas hy die liefde en menswees vereer. Dankie jy het hierdie verwoord. Charlse het self ook sy drag onaangenaamhede weg. Harry volg maar in die voetspore van hoe hy dit beleef. Ag jong eks sommer sienies maar dit is werklik onnoodig om so oordrewe op te tree. Ek’t self ook maar die geneigdheid om gevoelloos te wees.
LikeLiked by 1 person
Ja, dit was net so duidelik in my kop …
LikeLiked by 1 person
Hi Toorts, jou ‘Ek was nogal benoud’ is nie op die lug/blog nie. Dit bly sê jy kannie die blog bereik nie. Al soek ek kom dit gladnie op nie. Baie bly om te hoor jou hartsake is nog reg soos ‘n roer.
LikeLiked by 1 person
Maa dis dit. Ek dog toe dis dalk bietjie te persoonlik en haal dit toe af. 😀
LikeLike
Oooo, ek verstaan nou hoekom. Dit is bietjie sensitief veral as mense jou nie ken nie,
LikeLiked by 1 person